DINK GRÓÓT

Wupperthalboere verbou tee van wêreldgehalte

Rooibos is nie ʼn tradisionele tee nie, maar wel ʼn natuurryke kruie tee van die plant Aspalathus linearis. Dit is nie verwant aan groen of swart tee wat van die plant Camellia sinensis gemaak word nie. Teeliefhebbers in Japan verkies dan ook om rooibos natuurlik te drink, dis nou sonder suiker of melk. Plaaslik is rooibos ʼn inheemse plant wat tot ʼn baie klein deel van die Wes-Kaap beperk is.

Alle tipes tee was aanvanklik as ʼn medisinale drankie in China gebruik om ʼn mens se interne liggaamstemperatuur te reguleer en om die brein te stimuleer. In die sewentiende eeu (toe tee Europa bereik het) is dit in winkels verkoop as ʼn tonikum en vir die verbetering van ʼn mens se spysvertering.

Suid-Afrikaanse rooibostee het in 2018 die groenlig van die Japannese teeliefhebbers gekry om deel van die land se uitverkore teemark te wees, waarna ʼn afsending van 2 000 ton tee toe na Japan verskeep is. Volgens die Suid-Afrikaanse Rooibos-raad was dit beslis nie maklik om dié land se teemark te betree nie.

Rooibos word alreeds eeue lank gebruik en dié tee se voordele is beslis nie net staaltjies nie. Wetenskaplikes regoor die wêreld doen al vir ʼn lang tyd navorsing om ʼn beter begrip te kry oor hoekom dit so goed vir ʼn mens se gesondheid is. Sedert die 1950’s het daar al meer as eenhonderd studies oor rooibos in wetenskaplike joernale verskyn.

Wupperthal se rooibos

Wupperthal in die Wes-Kaap mag dalk soos ’n plekkie in die middel van nêrens klink, maar dit is ʼn plekkie met ʼn ryk geskiedenis en is ʼn vooraanstaande rooibosbestemming. Sedert 1865 was dié dorpie ʼn sendingstasie en is vernoem na die Wupperrivier in Duitsland waar Theobald von Wurmb en Johan Gottlieb Leipoldt, die dorpie se twee stigter-sendelinge, vandaan kom.

By Wupperthal Rooibos Koöperatief kan besoekers van die merkwaardige kleinskaalse-boere wat rooibos in die Sederberge se droë en rotsagtige grond verbou, ontmoet. Dié boere maak staat op hul in-diepte kennis van die verbouing van rooibos wat al oor generasies tot ʼn fyn kuns vervolmaak is.

Die rooibosplant word gekultiveer en geoes sonder besproeiing of die gebruik van kunsmis of gifstowwe, en so word die volhoubare organiese praktyke van die kleinboere se voorouers voortgesit. Dit is juis hierdie boerderypraktyke wat rooibos vanuit dié streek wêreldbekend gemaak het – dit is beslis ʼn gehalte tee.

Die Wupperthal Rooibos 1830-boere gebruik eeue-oue kultiveringsmetodes wat ʼn tee lewer wat ryk is aan anti-oksidante en ander sekondêre plant metaboliete wat verdere gesondheidsvoordele inhou. Die grondtipe in die streek waar dit verbou word veroorsaak dat die plant stadiger en meer volhoubaar groei, en dus ʼn gesonde plant met hoë opbrengste per hektaar lewer.

Produksie en aanvraag

Kleinskaalse boere in Suid-Afrika bevind hulself op ʼn moeilike plek. Vir die boere hang hul sukses grootliks van eksterne faktore en ondersteuning af, ongeag hoe hard hulle werk. Ten spyte van uitdagings het die nisboere van die Sederberge tot op hede die toets van die tyd deurstaan en hulle eie pad na die wêreldverhoog met die beste rooibos gebaan.

Huidiglik word 90 persent van Suid-Afrika se rooibos in plantasies aangeplant. Rooibossade word in kwekerye behandel en geplant om saailinge te kweek. Wanneer die saailinge tussen 10 en 15 cm hoog is, word dit in die reënseisoen verplant wat ʼn beter kans op oorlewing gee.

Rooibosplante is meestal dormant gedurende die winter. Groei vind plaas in die warmer maande en die plant is gewoonlik ná 18 maande gereed om geoes te word. Die plante het ʼn sewe-jaar lewensiklus en boere roteer die gewasse om hul grond te rehabiliteer teen die einde van só ʼn lewensiklus.

Volgens die Suid-Afrikaanse Rooibos-raad word daar gemiddeld 14 000 ton rooibos per jaar in Suid-Afrika geproduseer. Die aanvraag na en belangstelling in rooibos het oor die jare geweldig toegeneem. In 2005 het die uitvoer van rooibos die 8 000 ton merk bereik.

’n Interessante statistiek van die Rooibosteeraad is dat wanneer beide uitvoer en plaaslike verkoopsyfers van rooibos in berekening gebring word, is dit gelykstaande aan 5.6 miljard koppies tee. Rooibos word na meer as 30 lande wêreldwyd uitgevoer. Dit sluit lande soos Duitsland, Holland, Japan, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika in, wat die grootste invoerders van rooibos is.

(Die Wupperthal Rooibosboere het in Episode 12 van Nisboere Seisoen 5 op VIA, DStv-kanaal 147 verskyn. Dié program word deur Laeveld Agrochem geborg.)

Terug na blogs

Share
Tweet