Nisboer van Seisoen 1

Gideo van der Merwe, bestuurshoof van Clean Air Nurseries en die meesterbrein agter die vertikaal geïntegreerde boerdery, E-Smart Food, is aangewys as Laeveld Agrochem se eerste Nisboer van seisoen 1. Die oorhandiging het plaasgevind met die bekendstelling van die tweede seisoen van Nisboere ten tyde van Laeveld se Seil-Safari, hul bootreis vir boere vanaf 9 tot 13 April aan boord van die MSC Sinfonia.

“Gideo se komplekse, geïntegreerde E-Smart Food het ons laas seisoen weggeblaas,” het Nisboere-aanbieder, Anrich Herbst, tydens die oorhandiging gesê.  “Daar was sterk kompetisie, maar uiteindelik was Gideo die onbetwiste Nisboer van die seisoen.”

Afgesien van die toekenning wat Van der Merwe ingepalm het, gaan hy in die tweede seisoen van Nisboere vir Herbst en sy mede-aanbieders, Simonia Magardie en Chris de Clerq help om die korrels van die kaf te skei in hul soeke na die tweede seisoen se Nisboer van die Jaar.

Die motivering en inspirasie vir E-Smart Food, sê Van der Merwe, was die gewaarwording dat die wêreldbevolking na raming teen 2050 op 9.1 miljard sal staan. “Sou dit gebeur, sal dit ‘n 70% verhoging in voedselproduksie noodsaak, wat tot ‘n krisis sal lei indien huidige omgewings- en produksietendense volgehou word,” verduidelik hy.

Danksy Van der Merwe se insig en passie is E-Smart Food vandag ‘n ekonomies volhoubare onderneming wat die meeste uitdagings rondom voedselsekerheid – plaaslik en internasionaal – die hoof kan bied. Die grondslag van dié futuristiese boerdery is die unieke Environmental Green Growth System (EGGS) wat tans 600kg groente per vierkante meter per jaar lewer. Dit is 50 keer meer per m² as tradisionele boerdery, en 10 keer meer as die meeste hidroponiese stelsels. Die sukses van die stelsel is te danke aan ‘n zero-vermorsingsbeleid wat gegrond is op ‘n simbiotiese verhouding tussen al die elemente van die boerdery – van wurms, vis en skape tot ‘n geslotekringloop-stelsel wat boonop groot volumes water spaar.

LEES MEER:  Seisoen 1 | Episode 13