Nisboer van Seisoen 3
Toe Braam & Mandie Steynberg sowat 11 jaar gelede hul plaas naby Buffelspoort gekoop het, sou hulle nie kom droom dat slakke hulle teen allesbehalwe ‘n slakkepas die wenboerdery van Nisboere Seisoen 3 sou maak nie.
Die Steynbergs het aanvanklik met boerbokke geboer, wat skielik oornag verdwyn het. En dis toe presies waar slakke by die prentjie ingeseil het. Mandi het met navorsing begin – haar doel synde om iets te kry wat sy en Braam van die huis af kan doen, wat lae insetkoste verg en vinnig aanteel, met onbeperkte markpotensiaal en die geleentheid om maksimum inkomste te genereer.
Haar slotsom was dat hul situasie ideaal was vir slakke, en haar volgende uitdaging was om vir Braam te oortuig. Hy het ingestem dat hulle ‘n oefenlopie met 500 slakke kon doen, wat so suksesvol was dat hulle later besluit het hulle kan 12 000 broeiers bekostig.
Om hul onderneming aan die gang te kry, het insetkoste van R2 000 geverg, wat gebruik is om ‘n 9m x 4m-struktuur op te rig. Dit het sedertdien gegroei tot vier tonnels wat ‘n totaal van 120 vierkante meter beslaan. Nog R1 500 is bestee aan die bou van ‘n broeikamer.
Om ‘n mens se geld terug te kry met ‘n slakboerdery, en selfs ‘n wins te toon, reken die Steynbergs, sal sowat twee jaar neem.
‘n Verskeidenheid faktore het vir Afrisnail die wenposisie besorg. Die klein ruimte en lae insetkoste het sterk in Braam en Mandi se guns getel, asook die feit dat hulle die potensiële nadeel van swak gehalte grond omskep het in ‘n mededingende voordeel deur met slakke te begin boer.
Eweneens indrukwekkend is die veelsydigheid van hul produk. Die Steynbergs boer met slakke wat uitsluitlik vir broeidoeleindes aangehou word, asook slakke wat geteel word vir kookdoeleindes en wat aanlyn aan die uitvoermark bemark word. Die slym kan in kosmetiese produkte gebruik word, terwyl die doppe kan dien as kalsiumvoeding, onder meer in akwaponiese stelsels.
Iets wat nie net Mandi en Braam se status as ‘n nisboerdery bevestig nie, maar ook hul voorsprong in ‘n groeiende bedryf, is die inisiatief wat hulle neem met die stigting van ‘n slaktelersvereniging wat daarop gemik is om riglyne aan die bedryf te verskaf.
In ‘n neutedop – of miskien ‘n slakdop, Afrisnail is alles wat die beoordelaarspaneel en Nisboere-kykers graag in ‘n nisboerdy wil sien: klein spasie, min kapitaal, onbeperkte potensiaal.