Nisboer van Seisoen 2

Die mededinging in Seisoen 2 was straf. Van goggas en konyne tot plantasies op dakke en ‘n duiweboer wat sy vlak van vernuf na nuwe hoogtes voer, het Nisboere kykers se oë opnuut laat oopgaan vir die geleenthede daarbuite, en terselfdertyd die stereotipes rondom die konsep van “boer” die stryd aangesê.

Die 23-jarige Alexia Hechter het die stereotipe van die ouer manlike boer behoorlik die spit laat delf. Dit was een van die hooffaktore wat daartoe bygedra het dat sy met die Nisboer van Seisoen 2-titel weggestap het vir haar handelsmerk, Wool: Sleapwear & Loungewear, en die McClouds-winkel in Chrissiesmeer waar sy, onder meer, wolduvets en drie tipe kussings verkoop.

Alexia se wen- wolwinkel het ‘n lang aanloop. Nadat sy haar skoolonderrig tuis voltooi het, het sy mode-ontwerp op Stellenbosch geswot. Reeds in haar skooljare het sy haar ma met haar wolbesigheid op die dorp gehelp, terwyl haar pa met skape geboer het, en toe sy ná universiteit terugkom, het sy die besigheid oorgeneem.

Vandag gebruik Alexia die wol van haar pa se skape vir duvets, en ook om wol te spin. Dit was trouens juis die wol wat grootliks gehelp het om haar in die wenposisie te plaas. Die rede? Wol is hipo-allergenies, wat dit ‘n beter keuse maak as dons – waarvoor mense allergies kan wees – en wat die markpotensiaal van haar onderneming radikaal vergroot.

McClouds se personeel bestaan uit een man wat die hele week lank die wol help , twee meisies in die dorp wat duvets maak, en drie wat in die winkel help sodat die trotse eienaar tyd het om haar boeke te doen.

Alexia se toekomsplanne is om haar produkte deur die internet te verkoop, en met die oog hierop, het sy al die aanlynreus Amazon gekontak. Sy hoop ook om haar fabriek groter te maak en meer produkte te ontwikkel.

Intussen tel die feit dat McClouds in ‘n stil dorpie is, in die onderneming se guns. Chrissiesmeer is op die N17-snelweg op pad na Swaziland – ‘n strategies uitstekende ligging. “Mense wat soontoe gaan, stop gereeld hier,” verduidelik Alexia. “Daar is ook verskeie trou-venues buite die dorp wat naweke baie besig is. As gaste verveeld raak, kom hulle dorp toe.”

Met die Nisboer van Seisoen-titel agter haar en ‘n blink toekoms voor, lê die wêreld oop voor Alexia Hechter, die jong, vroulike wolentrepreneur van Suid-Afrika se meredistrik!