DINK GRÓÓT

Seisoen 1 | Episode 13

Grootskaal-tegnologie | Akwaponika | Tuisboerderye

Die span se missie, in Episode 13, is om uit te vind watter tegnologie die beste vir klein, sowel as groot nisboerderye werk. Met dié is die tema vir die week “groen tegnologie”. Chris se bestemming is ‘n “leerslim”-boerdery. Hy het geen idee wat dit behels nie, maar hy en Anrich stem saam dat dit iets met tegnologie te doen móét hê. Anrich gaan kyk na ‘n “home farming”-, oftewel tuisboerdery-onderneming, en sien ook daarna uit dat Karel van Laeveld Agrochem hom meer vertel van blaarvoeding, iets waarvan hy darem reeds ‘n titseltjie weet… wat meer is as wat gesê kan word van Simonia, wat bieg sy weet niks van die boerdery wat sy gaan besoek nie, behalwe dat dit iets met plante en visse te doen het.

Vandeesweek is die lig groen en lyk die toekoms groen vir nisboere! Hoewel nie een van die span eintlik presies weet wat vir hulle voorlê nie, is hulle opgewonde en oorgehaal vir hul besoeke aan alternatiewe boere wat op verskillende maniere groen tegnologie beoefen, en om te ontdek watter maniere en metodes die beste vir sowel groot as klein nisboere sal werk.

 

Grootskaal-tegnologie

 e-smart foods:  Wanneer Landbou Wetenskap word…

Chris kuier by Gideon van der Merwe in die ooste van Pretoria op sy duiselingwekkende, amper futuristiese plaas, e-smart foods. Op hierdie klein stukkie grond, verduidelik Chris, bedryf Gideon ‘n boerdery wat lyk soos iets uit wetenskapsfiksie, behalwe dat dit nie fiksie is nie – dis die werklikheid, en definitief die toekoms van nislandbou.

Op Chris se vraag waar alles begin het, antwoord Gideon dat hy seker in ‘n vorige lewe betrokke was by bio-brandstof – ‘n plaasvervanger vir fossielbrandstof. Sy passie vir die onderneming wat hy nou bedryf, verduidelik hy, het begin met sy besorgdheid oor klimaatbeheer. Na aanleiding daarvan, het hy en sy sakevennoot metodologieë ontwikkel om fossielbrandstof-verwante produkte te vervang. Een hiervan was die vervaardiging van “bio-diesel” uit alge. Die sukses wat hulle hiermee bereik het, het gelei tot die vraag of dieselfde beginsel op voedselproduksie toegepas kan word. Die volgende stap was om ‘n gidsaanleg te laat bou en ‘n bewys van konsep te lewer. Daarna het hulle dit as as ‘n globale patent geregistreer en ‘n semi-kommersiële aanleg laat bou. Die resultaat was e-smart foods, met die “e” wat verwys  na “environment”, vertel Gideon, en die “smart” natuurlik na slim. Sedertdien is Gideon voltyds met verdere ontwikkeling besig.

Die volgende onderwerp is die verskillende dissiplines op die plaas.  Gideon verduidelik dat die verbouing van groen gewasse simbiotiese aanklank vind by vis (akwakultuur), asook by skaap- en wurmboerdery, en selfs hoenders – om die vlieë te beheer.

Een van e-smart se groot dryfvere, vertel hy, is goeie-gehalte saailinge, by die gebrek aan volgehoue gehalte in saailinge van kwekerye, wat siektes kan meebring. Sy gevolgtrekking en raad is dat ‘n mens jou eie saailinge moet kweek, want as daar net een klein kiem in die stelsel is, is dit neusie verby.

Hierna gesels Chris met Gideon se vennoot, Thys, oor sy rol in die boerdery. Thys verduidelik dat hy voltyds besig is met navorsing en bemarking, en dat hy ook konstant besig is om nuwe variëteite op die proef te stel as deel van sy en Gideon se volgehoue strewe om altyd voor die kompetisie te bly.

En dan sien Chris ‘n skouspelagtige gesig: e-smart foods se sogenaamde Ice Age Chamber (wat staan vir Innovative Controlled Environment Accelerated Growth Enhancement Chamber). Met hierdie stelsel, waarin 2 000 plantjies per vierkante meter verbou kan word, verduidelik Gideon, het hy en Thys basies vertikale hidroponika na die volgende vlak geneem. In die proses word die plant se groeilewe met 50% versnel en, om alles te kroon, is die eindproduk se raklewe langer en die voedingstowwe daarin meer. “Dis gesonder, lekkerder, beter plante,” sê hy. 

Gideon vertel vir Chris dat hy en Thys nie na hul produkte verwys as organies nie, maar as aardvriendelik. Geen petrochemiese produkte en geen spuitmiddels is betrokke by die verbouding van die gewasse nie.  Die enigste spuitmiddel wat hulle gebruik, is ‘n produk wat hulle van sout maak, die sout synde die enigste ding wat hulle gebruik wat ‘n bietjie sleg is vir die mens.

Die asemrowende produksietonnel is ‘n rapsie groter as 700m², en die plan is om oor ses weke in produksie te gaan met aanplantings vir ‘n nuwe kliënt, waaruit hulle uiteindelik gemiddeld ‘n ton per dag sal oes. Gideon voeg by dat ‘n konvensionele boerdery sowat 23 hektaar sou benodig om met dieselfde opbrengs vorendag te kom as wat e-smart foods op skaars meer as 700m² doen.

Voordat die aanplantings gedoen word, kry die kliënt eers ‘n omvattende oudit wat daarop gemik is dat alles uiteindelik teruggespoor kan word om te bepaal waar presies die oorsprong van enige probleme is, of mense gelukkig is waar hulle werk en of die boerdery volhoubaar is, en nog baie meer. Dit beteken dat alles daagliks tot in die fynste besonderhede gemoniteer moet word.

In e-smart foods se kantore vra Chris hoe die verskillende aspekte van die boerdery bymekaar inskakel. Gideon verduideik dat die totale  integrale kommunikasie van verskillende dissiplines deur slimfoon-tegnologie beheer word. Verder – van temperatuur en lugdruk tot die opbou van swamme – word alles ontleed en gekodeer, en as enige probleme opduik, kry belanghebbendes ‘n vlaggie op hul foon – waar hulle ook al is – hier of in die buiteland.

Chris se volgende vraag is hoe die verskillende boerderye by mekaar inskakel en Gideon verduidelik: Die proses begin met die plantwortels wat vir die vis gevoer word. Die ammoniakryke water wat daaruit voortspruit, word afgeskei en in stikstof omgeskakel. Die stowwe wat nié verteer word nie, word vir die wurms gevoer en die wurmtee word gebruik as ‘n voedingstof wat gespuit word op die gars wat die skape vreet. Die afval van die skape word weer gebruik om die energie te genereer wat die hele plaas aan die gang hou. Die resultaat is dat e-smart foods floreer op ‘n baie klein koolstof-voetspoor wat baie dissiplines sonder enige afvalprodukte bymekaarbring.

In hierdie stadium wil Chris uiteraard weet of die onderneming winsgewend is. Gideon is van mening dat dit die mees winsgewende manier is om te boer, omdat al die dissiplines mekaar ondersteun en daar geen afval is nie. Hul opbrengs op belegging, reken hy, is sowat 30%.

Gideon se advies aan voornemende e-slim boere is gegrond op ‘n daadwerklike werklikheid én uitdaging: Oor die volgende tien tot 15 jaar gaan die wêreldbevolking met meer as 2 miljard aangroei, en daar is nie meer grond nie. “As jy kan boer op volhoubare grond met ‘n klein koolstof-voetspoor teen lae koste – dis wat ons nodig het,” sê hy.

Hy voeg by dat e-smart foods se deure oopstaan vir mense wat om raad wil aanklop, en dat daar ook baie ander kundiges is wat kan help. Nog ‘n belangrike oorweging, sê hy, is dat  voornemende e-boere by finansiële, akademiese en praktiese instellings inskakel. 

 

Akwaponika

La Pieus Aqua: ‘n Tiener-Entrepreneur wat meer as net vis vir sukses… 

Eerste aan die beurt is Simonia, wat kuier by Rikalize Reinecke op La Pieus Aqua – haar en haar pa se akwakultuur- en akwaponikaplaas. Dié vernuftige 15-jarige was skaars 12 toe sy ‘n fliek sien wat by haar die brandende begeerte geskep het om ‘n marinebioloog te word – net om tot die ontstellende ontdekking te kom dat daar nie meer visse in die see gaan wees teen die tyd dat sy klaar gekwalifiseer het nie.

Dit het haar egter nie daarvan weerhou om haar droom te bly nastreef nie. Sy het aanhou navorsing doen en in die proses afgekom op ‘n webtuiste met foto’s van groot drywende vlotte. Sy het die foto’s afgelaai en vir haar pa gaan vra wat dit is. Sy antwoord – “Hulle boer met visse soos hoenders en beeste” – het haar aangevuur tot nog verdere navorsing om uit te vind of hierdie metodes op land toegepas kan word.  Toe sy uitvind dit is wel doenbaar, het sy haar pa gevra of sy dit kan doen. “As jy gekwalifiseerd is,” het hy geantwoord, “sal ek jou help”.

Kort daarna het Rikalize afgekom op ‘n akwaponikakursus wat in Grahamstad aangebied word, en hoewel haar pa aanvanklik huiwerig was, kon hy nie nee sê nie, want dit was deel van sy ooreenkoms, en met dié het hulle saam die kursus bygewoon.

Na afloop van die kursus het Danie sy ondernemende dogter gehelp om ‘n sisteem op te rig, wat kort voor lank van ‘n klein na ‘n groot kommersiële stelsel gegroei het.

Afgesien daarvan dat Rikalize dit alles vermag het op die ouderdom van 12, bestuur sy sedertdien haar onderneming van die skool af tydens pouses, met behulp van haar selfoon. Kameras wat deur die hele stelsel geïnstalleer is, sorg dat sy van haar foon af al die verskillende stelsels kan moniteer en selfs kan inzoem op klein vissies in spesifieke damme en, byvoorbeeld, vir werkers kan laat weet as dié klein gediertes uit hul dam na die kwekery toe geneem moet word.

Die twee stap na die kwekery, waar Simonia vra hoekom dit so donker is. Rikalize verduidelik dat sy en haar pa besig is met ‘n studie, in samewerking met die Universiteit van Pennsilvanië, oor die uitwerking van rooi lig op die groeikurwes van visse. Die bevinding is dat visse onder rooi lig baie kalmer is en meer vreet, veral in die middag, omdat rooi die indruk van sonsondergang skep.

‘n Akwaponika-stelsel, vertel sy verder, behels die samewerking tussen visse en plante in een stelsel. Die vuil viswater gaan na die plante toe, die plante absorbeer die vuil vaste stowwe en gebruik dit basies as kompos, met skouspelagtige groei en pragtige groen plante tot gevolg.

In hierdie stadium sluit pa Danie by hulle aan en verduidelik hoe die aggregaatsisteem in die akwaponikastelsel werk. Die beginsel van oorstroming en dreinering kom daarop neer dat ‘n bak vol graniet- of gruisklippe stadig tot op ‘n sekere vlak met water gevul word. Van daar af dreineer die water baie vinnig en trek in die proses die suurstof af na die wortelpunte toe. Rikalize verduidelik dat die hoofvoordeel van die stelsel daarin lê dat die afvalwater deur die plante skoongemaak word en dat die skoon water daarna weer deur die visse gebruik kan word.

Nog ‘n voordeel van Rikalize se tipe boerdery is dat daar daagliks slegs 300 liter water by die hele stelsel gevoeg hoef te word om dit aan die gang te hou – teenoor die 2 000 liter wat vir ‘n konvensionele stelsel nodig sou wees.

Simonia wonder hardop hoe die werkdinamika tussen pa en dogter funksioneer, waarop Danie kort, kragtig en met ‘n groot glimlag antwoord, “Ek is die werker; sy is die baas”, maar byvoeg dat hulle mekaar op hul foute wys en dit dan regstel.

Simonia vertel vir hom sy dogter sê hy is die minister van finansies, en dat sy teen hierdie agtergrond graag wil weet of die onderneming winsgewend is. Danie antwoord laggend dit ís – vir haar, maar nie vir hom nie.

Rikalize se advies vir mense wat in akwaponika belangstel, maar nie baie van plante weet nie, is om in ‘n stokperdjie-akwaponikastel te belê.  Mense wat kommersieel wil boer, sê sy, moet eers ‘n kursus voltooi.

Terwyl La Pieus Aqua se hede blink lyk, lyk die toekoms nog blinker.  Voor die einde van die jaar beoog pa en dogter om hul eie akwaponikawinkel oop te maak, waar Rikalize ook klein stokperdjie-stelsels sal verkoop.

Dit is egter nie al wat sy reeds in plek het nie. Die res van haar aksieplan lyk soos volg: Haar volgende prioriteit, na die opening van die winkel, is om matriek te voltooi. Dan volg studies in igtiologie (‘n vertakking van dierkunde wat in visse spesialiseer) en marienebiologie. En daarna sal sy sien wat gebeur.

Simonia sluit haar besoek af met ‘n proehappie spinasie, wat haar baie beïndruk, en die voorspelling dat Rikalize die oplossing vir voedselsekuriteit is.

 
Moenie die Seil-Safari boot mis nie

Anrich herinner groot en klein nisboere weer om nie die boot te  mis nie, maar betyds te bespreek vir Laeveld Agrochem se SEIL-SAFARI van Durban na Mosambiek – ‘n luukse bootreis vol professionele voordele en heerlike vermaak, van 9 tot 13 April volgende jaar.

 
 Bly voor met blaarvoeding

Van branders, gaan Anrich na blare op die proefplaas, waar Karel van Laeveld Agrochem hom touwys maak oor blaarvoeding. Karel verduidelik dat blaarontleding gewoonlik nodig is omdat ‘n mens op grond daarvan kan bepaal wat die plant nodig het, en dienooreenkomstig kan optree voordat enige fisiologiese skade plaasvind. “Blaarvoeding vir blare is soos ‘n energiedrankie vir ‘n atleet,” sê hy.

 

Tuisboerderye

Homefarm: ‘n Miniplaas wat op jou kombuistoonbank pas….

Van Milpark in Johannesburg af, rapporteer Anrich dat hy al baie boere besoek het wat min ruimte gebruik, maar dat niks naby kom aan die plasie wat op ‘n kombuistoonbank pas, wat hy binnekort onder oë gaan kry nie.

Die meesterbrein agter dié mini-boerderykonsep is Michael Currin wat, toegerus met sy ingenieursagtergrond en ‘n meestersgraad oor die konsep van veerkragtigheid wat hy in Londen behaal het, besluit het om sy kennis aan te wend op die gebied van voedsel, en die kwesbaarheid van die voedselverskaffingsketting.

Die resultaat is Homefarm, ‘n aantreklike en vernuftige toestel wat lyk soos ‘n mikrogolfoond, wat enige plek in die huis gebruik kan word. En dit maak nie saak hoeveel of min ervaring jy met tuinwerk het nie, verduidelik Michael, danksy Homefarm se spesiale produkte is sukses – van saai tot oes – gewaarborg.

Die Homefarm-konsep is daarop gemik om mense, by uitstek stedelinge, te bemagtig om sekere voedseltipes tuis te verbou en die vars produkte deel van hul dieet te maak.

Michael dink sy passie vir voedselverbouing het begin by sy ouers wat altyd gesorg het dat hulle ‘n groentetuin het. Met verloop van tyd het hy meer begin belangstel in tegnologie en stede, en uiteindelik het al die invloede gekulmineer in ‘n wenkombinasie van vaardighede, wat hy op sy baanbrekersproduk van toepassing maak.

Hy neem vir Anrich op ‘n toer deur Homefarm se kantore en stel hom voor aan een van sy spanlede, Alex, wat aan die stuur van die skarebefondsingsveldtogte vir die konsep en produk staan. 

Daarna wys hy trots die saadpeule (“pods”) – soortgelyk aan die kapsules wat in koffiemasjiene gebruik word – wat hy self ontwerp het, en wat die hart van die Homefarm-stelsel vorm. Dié peule bevat die groeimedium, dus die grond, asook die sade, en daar is opsies om uit te kies – onder meer ‘n mikro-groentepak en ‘n basiese kruiepak, bestaande uit basilie, koljander en pietersielie.

Om die kapsules te “plant”, verduidelik Michael, is supermaklik: jy dop eenvoudig die boonste laag af, waaronder die grond en sade lê. Dan plaas jy dit in een van die holtes in die Homefarm-toestel, en as jy toegang tot ‘n hoof-watertoevoer het, prop jy die stelsel daarby in, nes ‘n was- of skottelgoedmasjien. Van hier af word alles – van temperatuur en beligting tot humidititeit – outomaties beheer. 

As jy nié toegang tot die hoof-watertoevoer het nie, kan jy ‘n funksie op jou foon instel om jou te herinner wanneer dit tyd is om die watertenk vol te maak, gewoonlik elke drie tot vier dae. Wanneer die tyd aanbreek, skink jy eenvoudig die water deur ‘n tregter op die produk, en die saadpeule sal die water dan van onder af absorbeer.

Hierna gesels Anrich verder met Alex oor die uit-die-boks borgkonsep bekend as “crowdfunding”. Hierdie tipe befondsing kom daarop neer dat ‘n mens van die algemene publiek se geld gebruik om geld vir jou produk of aanvangsmaatskappy te genereer. Die proses stel ‘n onderneming in staat om in ‘n vroeë stadium toegang te verkry tot kapitaal om hul produk te vervaardig, onder meer sodat mense vooraf bestellings kan plaas.

Michael en sy span beplan om Homefarm teen Maart of April 2018 bekend te stel en op die mark te plaas.

Die koste van ‘n saadpeul, wat sowat vier maande se opbrengs sal lewer, is R20.

 
Terug by die Ronde Tafel…

Die span doen entoesiasties en geïnspireerd verslag oor hul ervarings en bevindings. 

Chris reken e-slim boerdery is ongetwyfeld die toekoms van massaproduksie in landbou, onder meer danksy die feit dat gewasse volhoubaar, in ‘n bestuurde omgewing sonder seisoenale invloede, verbou word.

Op Chris se vraag wat die ding is wat soos ‘n mikrogolfoond lyk, antwoord Anrich dat dit – die Homefarm-toestel – die antwoord is vir mense wat nie wil dink hoe hulle te werk moet gaan om gesonde blare op die tafel te hê nie. Hy verduidelik dat ‘n mens die toestel letterlik net hoef in te prop en die water te beheer en dat jy dan binne twee weke jou pietersielie, of selfs spinasie, het.

Simonia vertel van die innoverende, kreatiewe manier waarop Rikalize Reinecke haar sonderlinge plaas van die skool af via haar selfoon bestuur. 

Les bes is die span dit eens dat hierdie tipe groen ondernemings die toekoms van nisboerdery is.

Terug na episodes