Seisoen 2 | Episode 2

Vegetariese en vegan-kos | Rose | Springmielies

     

 

In Episode 2 is môre reeds hier, met drie nisboere wat die visie gehad het om toekomstige geleenthede vir hul ondernemings te sien. 

Anrich beleef die soet geur van sukses. Chris stel ondersoek in na ‘n produk wat begin by ‘n mielie en eindig by ‘n ding wat spring. En Simonia lek haar lippe af vir haar besoek aan ‘n nisboer en sy dogter wat sy reken kykers se siening van kosvoorbereiding heeltemal gaan verander.

Elke plaas wat weekliks op Nisboere verskyn, is op sy eie manier ‘n lus vir die oog wat volop stof tot nadenke bied. En agter elke boerdery is nie net ‘n storie, dikwels van sukkel op die pad na sukses, nie, maar die daadwerklike moontlikheid dat die saadjie vir ‘n nisboerdery elders in ons land, of selfs die wêreld, gesaai kan word tot voordeel van die boer, die omgewing én ons planeet. Want uiteindelik word rykdom nie net gemeet in rand en sent nie, maar in alles van idees, hoop en mededeelsaamheid tot medemenslikheid en omgewingsbeskerming. 

Episode 1 skop af met Simonia op die lowergroen gras voor Nisboer van die Jaar, Gideo van der Merwe, se skouspelagtige futuristiese onderneming, Clean Air Nurseries, oos van Pretoria. Sy wys daarop dat al die nisboere wat in hierdie episode verskyn – soos Gideo – vir hul onderskeie gewasse geleenthede in die toekoms gesien het.

Chris, vertel sy, gaan meer uitvind omtrent ‘n skeppende manier waarop ‘n bekende produk van die mielie aangewend word. Simonia self besoek ‘n nisboer wat sy voorspel kykers se uitkyk op die voorbereiding van kos gaan verander, en Anrich besoek ‘n plaas wat haar net so ‘n bietjie jaloers maak.

 

Rose


Contacts
Tel: 012 544 01 44

http://www.ludwigsroses.co.za/

Ludwig’s Rose

Anrich kuier by die welbekende, geliefde en hoogs suksesvolle roosplaas, Ludwig’s Roses.  Hy gesels met die stigter, Ludwig Taschner, se seun, Halmar, wat vertel hy het op die plaas grootgeword en op die ouderdom van vyf reeds geweet dis wat hy wil doen.

Heel eerste besoek die twee ’n kruisbestuiwingstonnel. Elmar verduidelik hul hooffokus is die kweek van plante vir herverkoop aan die publiek, terwyl die kruisbestuiwingstonnel die afdeling is waar nuwe rose geskep word. Anrich vind uit presies hoe hierdie komplekse proses werk, dat dit nie ‘n presiese wetenskap is nie en dat hy taamlik kapitaalkragtig sal moet wees indien hy ‘n Anrich Herbst-roos wil laat kweek.

Hierna kom hy meer omtrent die inentingsproses te wete, en dan breek die groot oomblik aan: Ludwig self sluit by hulle aan en vertel vir Anrich meer van die lang pad wat hy met rose loop, die gaping wat hy desjare in die mark gesien het en hoe hy werk – en ‘n sukses – daarvan gemaak het.

Vandag het Ludwig’s Roses agt takke regoor die land. Benewens die rose, is daar ook The Rose Shed, ‘n winkel wat roosverwante lekkernye en velsorgprodukte verkoop en The Rose Kitchen, ‘n restaurant, wat beide deur Heike, Ludwig se oudste dogter, bestuur word.  En deesdae is daar ook elke Saterdag ‘n pretloop.

Op Anrich se vraag of daar al ‘n roos vir Ludwig self gekweek is, antwoord hy ewe tong-in-kies, “Nee, daar is nie die perfekte roos nie”.

 

Springmielies


https://popcorn.co.za/
Brad Lever:
+27 11 762 5261
Epos: sales.za@agtfoods.com

Advance seed

Chris bevind hom in een van die mielielande van die maatskappy Advance Seed waar hy daarop wys dat ‘n mens sou dink dat die oorgang van mielies na springmielies eenvoudig sou wees, maar dat die transformasie verrassend kreatief én winsgewend kan wees.

Een van die bestuurders, David,vertel dat hulle hul produk op die plaas verkoop en ook uitvoer, en wys en verduidelik vir Chris hoe die hele komplekse proses – van mielie tot pit – werk.

Chris wil graag weet waarom mielies spring, en David verduidelik dat dit te doen het met die vog, die stysel binne-in die pit en die hitte.

Chris wil ewe graag weet hoe die onderneming van toeka tot nou gegroei het. David verduidelik dat hulle “baie klein” begin het, met sowat 2 000 tot 3 000 ton per jaar. Vandag staan hul jaarlikse produksievlak op ‘n stewige 35 000 ton vir uitvoer en plaaslike verkope, met baie van hul werknemers wat uit die omringende Kagiso-gebied kom.

Volgende vind Chris meer uit omtrent die verskillende soorte springmielies en die kwaliteitsbeheerproses. En les bes stap hy saam met die produksiebeampte, Markus – “die skakel tussen die maatskappy en die boer” – deur die landerye. Markus wys vir Chris die verwerkte produk, insluitend die twee soorte springmielies – butterfly & mushroom – in ‘n spesiaal vervaardigde mikrogolfhouer waar die mielies reeds met geurmiddels soos sout of botter gemeng is.

Chris waarsku vir Markus dat hy hom gaan bel as hy weer gaan fliek en hulle springmielies is nie daar nie. Markus antwoord laggend: “Jy kan my bel; al die popcorn by die movies het my naam op”.

 

Vegetariese en Vegan-kos


http://www.leafygreens.co.za

E: mytable@leafygreens.co.za 
P: +27 010 595 4563 | T: +27 082 882 7300 
ADDRESS: Rocky Rodge Road, Beyers Naude Dr. Muldersdrift

Leafy greens café

Simonia kuier in Muldersdrift by ‘n besonderse nisboer en sy dogter. Peter De Luca het in ‘n Italiaanse huishouding grootgeword waar ‘n groentetuin, met groente van die boord na die tafel, ‘n baie belangrike rol gespeel het. Sy pa het die eiendom baie jare gelede gekoop. Later het Peter dit oorgeneem. Afgesien van sy organiese groente- en vrugteboerdery, het hy die welbekende Casalinga-restaurant gebou en sowat agt jaar gelede het sy dogter, Antonia de Luca, haar vegan-restaurant Leafy Greens Café, begin waarvan sy sedertdien die hoofsjef en eienaar is.

‘n Bewys van Peter se toewyding tot organiese boerdery en volhoubare praktyke, is sy vasberadenheid om ontslae te raak van enkelgewasverbouing. Insekte identifiseer gewasse, verduidelik hy, en sal dan spesifiek daardie gewasse aanval, wat gewoonlik die gebruik van chemiese produkte soos plaagdoders noodsaak. Hierdie nisboer het egter ‘n ander plan: die gemengde verbou van gewasse in ‘n woud-tipe opset (“interplanting forest gardening”) wat insekte verwar en allerlei interessante resultate tot gevolg het.

Simonia wonder hoe die familiebesigheid werk en Peter vertel dat hy en sy vrou bykans 30 jaar gelede Casalinga begin het. Nadat hul dogter, Antonia, haar universiteitstudies voltooi het, het sy besluit sy wil ‘n vegan-restaurant op die perseel begin.

Antonia se geskiedenis met kos, vertel sy, is lank en lieflik. Die resultaat van haar kospassie is die restaurant asook twee resepteboeke. Mense wat by Leafy Greens Café kom eet, kan van die watertand geregte op die spyskaart huis toe neem en eenvoudige kruideniersware, asook aanvullings, daar koop.

Simonia sluit haar besoek op ‘n hoogtepunt af met drie vegan-wengeregte wat Antonia vir haar voorberei het: ‘n mango wrap, lasagne, en sushi met groente en tradisionele doopsouse en tuisgekweekte gemmer – en die gerusstellende wete dat vegan-kos oorgenoeg proteiene bevat, onder meer in die vorm van groen groente en neute.

 

NUUT OP DIE VYF VAN DIE BESTES-BORD

Die episode staan einde se kant toe, en Nisboere se paneel kundiges moet besluit wie bly, en wie gly, op die VYF VAN DIE BESTES-bord.

Phillip hou baie van Leafy Greens Café se omgewingsvriendelike boerderypraktyke, die feit dat hulle volhoubaarheid optimaliseer deur die middelman uit te skakel, en dat hulle min chemikalieë gebruik.

Gideo wys daarop dat springmielies nie regtig ‘n Nisboer-aktiwiteit is nie. Wat wel belangrik is, reken hy, is dat daar mense en metodologieë is wat mense aanhits om alternatiewe aanwendings vir hul produke te kry.

Corné is beïndruk met Ludwig’s Roses se grootte, die verskillende afdelings, die spesialisasie, die skepping van nuwe variëteite en die sterk handelsnaam wat oor die jare opgebou is.

So, waar pas hierdie drie op die bord?

Phillip kondig aan dat die bord vir eers net so bly, met Leafy Greens Café wat in die vierde plek bygevoeg word vir omgewingsvriendelike, natuurlike boerderypraktyke en die skepping van ‘n nismark vir vegan-kos.

Springmielies, herbeklemtoon Gideo, is nie regtig ‘n nisboerdery nie, wat beteken dit spring nie tot op die bord nie, wat die vyfde plek ooplaat vir Ludwig’s Roses.