DINK GRÓÓT

Papajaverbouing in subtropiese toestande

Om papajas kommersieel te verbou, is beslis ʼn bietjie meer kompleks as om pa-pa-ja te sê. Dis nader aan die bemeestering van ʼn tongknoper soos Caricaceae, een van die familiespesies waaraan die papaja behoort.

Hoewel papajas in subtropiese gebiede in Afrika floreer, is dit in Suid-Afrika net ʼn nisproduk. Plaaslike verbouing vind hoofsaaklik plaas in die Laeveld van Mpumalanga, ʼn streek wat verantwoordelik is vir die grootste boerdery-inkomste van die gewas, gevolg deur Limpopo en KwaZulu-Natal.

Episode 10 van “Nisboere” fokus op NeoFresh. Dié uithaler landbou-onderneming se omvattende uitbreidingsinisiatiewe is voorafgegaan deur jare se investering om seisoenale tekorte in die plaaslike papajabedryf aan te pak. Dié uitdaging het daartoe gelei dat NeoFresh stappe geneem het om papajaplantasies op verskillende plekke in Suid-Afrika aan te plant, asook in 2017 in Mosambiek.

Die maatskappy produseer tans papajas op vier plase en het ʼn ooreenkoms met ʼn Mosambiekse onderneming om eksklusief onder lisensie papajas te verbou en te verskaf. Die gesamentlike jaarlikse produksie van die twee maatskappye beloop 16 000 ton.

By NeoFresh word die oes in twee pakhuise rypgemaak en by vier verskillende kleinhandel-afsetpunte verpak. Produkte word ook per lugvrag na die Verenigde Koninkryk, Europa en die Midde-Ooste versend.

Vernuwing deur navorsing

ʼn Span onder leiding van dr Aart Louw, ʼn wêreldberoemde deskundige op die gebied van papajaverbouing, het nuwe hibriede by NeoFresh se bestaande reeks gevoeg. Dit is die resultaat van jare lange navorsing en kruisteling deur NeoFresh se navorsing- en ontwikkelingspan. Voorbeelde van hierdie hibriede sluit in die papino, ʼn variant met ʼn ferm tekstuur, hoë vlakke van vrugtesuiker (Brix) en ʼn lang raklewe. Neo-Essence, daarenteen, is supersoet en het ʼn sagter tekstuur.

Deur middel van konvensionele verbouingsmetodes, het NeoFresh vorendag gekom met eksklusiewe papajakultivars wat ideaal is vir Suid-Afrikaanse klimaatstoestande. Tydens die proses is die klem geplaas op smaak teenoor bloot opbrengste en eksterne voorkoms. Plus, deur hul produksie-eenhede oor verskillende areas te versprei, het NeoFresh boonop daarin geslaag om Suid-Afrika nou voltyds deur die jaar van papajas te voorsien.

Willem Schmidt, besturende direkteur van NeoFresh, wys daarop die naspeurbaarheid van vrugte deurslaggewend belangrik vir hul besigheid. “Dit het ons in staat gestel om ons vrugte met presisie terug te spoor na ʼn spesifieke besproeiingsblok, ons doel synde die stabilisering van produksie en gehaltebeheer,” verduidelik hy.

Papajabewustheid en -produksie

NeoFresh se volgende mylpaal is ʼn veldtog om verbruikers bewus te maak van die gesondheidsvoordele van papajas, insluitend die puik verteerbaarheid van die ensiem papaïen wat net in papajas voorkom. Papaja is ook een van die min vrugtesoorte wat hoë vlakke van vitamien C bevat en wat die hele jaar lank beskikbaar is.

Primêre produksiemetodes wissel van grondvoorbereiding, plant- en uitdunningstegnieke tot oes en na-oes tegnieke. Papajabome groei in drie geslagte: manlik, vroulik en tweeslagtig (hermafrodities). Manlike bome produseer slegs stuifmeel, nooit vrugte nie. Vroulike bome, tensy bestuif, produseer klein oneetbare vrugte, terwyl hermafroditiese bome selfbestuiwing doen omdat die blomme manlike meeldrade sowel as vroulike eierstokke bevat. Uitdagings in die bedryf sluit in die plaaslike klimaat, verskeie plae en siektes, asook die behoefte aan nuwe markte vir Suid-Afrika om die groeiende papaja-aanvraag te akkommodeer.

Die Internasionale Vereniging vir Tuinbouwetenskap se vooruitskouing ten opsigte van die toekomsvooruitsigte vir papaja produksie, sluit die gebruik van kouebestande variëteite en die regte besproeiing en bemesting in. Eweneens belangrik is die verbetering van siektebeheermetodes en nuwe produksie-areas in Suid-Afrika.

Terug na blogs

Share
Tweet