
Afrika-mark troon uit met potensiaal
Dit is geen geheim dat ons mariene visbronne vanuit verskeidenheid oorde bedreig word en dat alternatiewe opsies vinnig gevind moet word om dié belangrike kosbron te vervang. Teen hierdie agtergrond speel akwakultuur ʼn toenemend belangrike rol in globale voedselproduksie. Van spesifieke belang is die stewige potensiaal en groeiende gewildheid van tilapia as ʼn voedsame, bekostigbare en omgewingsvriendelike oplossing.
Tilapia is tradisioneel ʼn varswatervis wat in vlak strome, damme, riviere en mere voorkom. Die spesie is reeds eeue lank ʼn belangrike bron van voedsel en inkomste vir kleinboere regoor Afrika. Die teel en bewustheid van die spesie styg egter die afgelope tyd dramaties, veral op die gebiede van akwakultuur en akwaponika. Die redes hiervoor dek die spektrum van tilapia se gehardheid en goeie weerstand teen siektes en die bekostigbaarheid en voedsaamheid daarvan tot die die feit dat dit selfs vir kleinboere relatief maklik is om mee te boer.
Tilapia word wêreldwyd in meer as 140 lande hoofsaaklik deur middel van akwakultuur geteel. China is die wêreld se grootste produsent, verbruiker en uitvoerder, met Egipte as Afrika se grootste produsent. Daar is reeds grootskaalse kommersiële plase regoor Afrika wat hoofsaaklik die Nylkurper-spesie teel.
Naaswenner in akwakultuur
Die jongste syfers van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) toon dat akwakultuur verantwoordelik is vir 6.5 miljoen ton tilapia per jaar waarvan 90% in varswater gekweek word. Die navorsingsmaatskappy “Research and Markets” het bevind dat die globale tilapiamark na verwagting in 2024 ’n volumemaat van 7.9 miljoen ton sal bereik en hul navorsing toon boonop dat tilapia, naas karp, die grootse akwakultuurspesie is.
Naas garnale, salm en geblikte tuna, is tilapia die mees algemeen verbruikte vissoort in die Verenigde State. In sub-Sahara Afrika, volgens VLO-statistiek, word die gemiddelde visinname op 8.9 kg per kapita geskat, vergeleke met die wêreldgemiddeld van 18.9 kg. Dié teenstrydigheid is hoofsaaklik as gevolg van beperkte voorraad.
Teen hierdie agtergrond, voorspel die VLO dat tilapia ʼn toenemend beduidende rol speel, veral as ʼn bron van diereproteïen vir minderbevoorregtes in ontwikkelende lande in Afrika. Dit is nie net ʼn positiewe aanduiding vir die groei van tilapia-akwakultuur nie, maar die toenemende vraag na die produk sal ook daartoe bydra dat heelwat bestaansplase in Afrika in kommersiële klein-medium-sakeondernemings omskep word.
Plaaslike Zini-plaas gereed vir golf na groter vraag
Zini Fish Farms, Suid-Afrika se grootste akwakultuurplaas wat van damme gebruik maak, is optimaal geposisioneer om voordeel te trek uit die groeiende tilapiavraag. Die plaas, in die Mtunzini-streek aan die Noordkus van KwaZulu-Natal, het onlangs sy fokus na die plaaslike bloukurper (ook bekend as die Mosambiekkurper, grootbekkurper en die rooivinkkurper) verskuif. Die boerdery beslaan 52 half-hektaar soutwaterdamme.
Neil Stallard, stigterslid en direkteur van die plaas, sê die bloukurper groei twee keer vinniger in soutwater as in varswater. Dit is ʼn omnivoriese spesie wat alles vreet van afvalmateriaal en ongewerwelde diere tot jong vissies en plantegroei, insluitend mikro-alge en gewortelde plante. Die omvang van die diëet dra by uitstek daartoe by dat soutwater-tilapia floreer in Zini se damme wat deur die Mlalazi-estuarium se ryk voedingstowwe aangevul word.
Stallard wys daarop dat mariene-alge ryk is aan omega-3 vetsure; een van die hoofredes waarom mense vis eet. En hy meen sy soutwater-bloukurper smaak boonop beter as die Nylkurper wat grootskaals in varswater gekweek word – ’n voorsprong wat sy produk nie net vir die informele en landelike mark aantreklik maak nie, maar ook vir welvarende verbruikers en restaurante. Zini Fish Farms sal vanjaar hul eerste soutwater-bloukurper oes, met die oog daarop om teen 2021 tussen vyf en 15 ton vis per maand te lewer. Stallard sê hulle mikpunt is om omtrent 500-520 ton vis per jaar te lewer.