
Pogings om spiritualieë uit die Agave Americana-plant (garingboom wat veral wyd in die Karoo voorkom) te vervaardig is niks nuuts in Suid-Afrika nie – die eerste probeerslae is reeds in die laat 1990’s van stapel gestuur. Die en daaropvolgende pogings het egter weens verskeie redes skipbreuk gelei. Maar dit lyk al hoe meer of die gety uiteindelik begin draai met verskeie produsente wat in die laaste paar jare begin het om veld te wen. Daar is ook toenemend belangstelling van nuwe, potensiële toetreders tot die mark.
Tim Murray, ʼn agave-boer en -spiritualieë produsent in die Graaff-Reinet omgewing, en ʼn kenner op die gebied, meen dat die pogings om agave-spiritualieë in die laat 1990’s te vervaardig misluk het omdat die plaaslike mark nie gereed was vir die produk nie. “Die mark was nie gerat vir mezcal wat uit die agave-plant geproduseer word nie. Basies, as dit nie tequila was nie, het die mark nie belanggestel nie. Daar was ook teenkanting van Mexiko en hulle het selfs sover gegaan as om hul griewe in ons nasionale koerante te lug. Verder wou die produsente té vinnig té groot gaan sonder om enige van die markte behoorlik te ontgin. Dit was ook duidelik dat hulle tekort aan ondervinding teen hulle getel het.”
Murray sê dat daar egter ʼn definitiewe potensiële sakegeleentheid was aangesien baie agave-plante beskikbaar was en daar ook ʼn groot wêreldvraag na agave-spiritualieë was, alhoewel die mark nie noodwendig gereed was vir enige nie-Mexikaanse alkohol nie.
Verandering van die persepsie rondom agave-spiritualieë
Sarah Kennan, stigterslid en hoof van die Leonista handelsmerk, sê dat baie van die hoofstroomprodukte nie 100% agave is nie en dat dit met goedkoper suikerriet-alkohol versnit word. “Dit is wat die laaste 30 jaar in Suid-Afrika bedien is en het tot ʼn groot mate daartoe bygedra dat alles wat met tequila vereenselwig is, ʼn negatiewe konnotasie ontwikkel het.”
Kennan was vir ʼn tyd in Mexiko waar sy geleer het hoe om egte, 100% tequila en mezcal te produseer. Sedert sy haar eie handelsmerk in Suid-Afrika begin het, is dit haar missie om die hele kultuur rondom die produk te verander. “Die wêreld is stadig maar seker besig om sy persepsie rondom tequila en mezcal te verander en alhoewel Suid-Afrika ʼn bietjie agter die wêreldtendens is, begin mense toenemend te besef dat die ware Jakob ʼn suiwer, hoë gehalte produk is.”
Murray, wat sy eie Three Agaves handelsmerk het en onder meer ook medisinale en kosmetiese produkte van die agave-plant vervaardig, sê sy fokus is om vertroue in sy suiwer, agave-spiritualieë te vestig.
Tydsberekening speel ook ʼn beduidende rol in agave-spiritualieë se toenemende gewildheid wat in ʼn groot mate te danke is aan die kunsdrankbedryf, wat veral onder die jenewer en bier entoesiaste posgevat het. Murray sê hy word weekliks deur partye wat belangstel in die vervaardiging van hul eie agave-spiritualieë gekontak. Hy waarsku egter dat die produksieproses heelwat moeiliker is as byvoorbeeld die vervaardiging van jenewer.
Kennan sê sy kry selfs navrae uit lande soos Namibië, Kenia en Tanzanië oor die aanplant van agave. “Baie mense het grond wat nie gepas is vir die verbouing van ander gewasse nie. Daarbenewens het agave ook nog die groot voordeel dat dit met baie min water kan klaarkom.”
Groeiende vraag na produk sal nuwe aanplantings vereis
Daar is 450 hektaar onder agave in die groter Graaff-Reinet omgewing wat, gebaseer op die huidige vervaardiging van agave-spiritualieë, ongeveer aan 12 jaar se voorraad sal voorsien. Die res van Suid-Afrika het ʼn verdere ± 450 hektaar wat die totale voorraad op rofweg 20 – 30 jaar te staan bring. Murray meen egter as die vraag na hulle produkte toeneem en meer spelers tot die mark bly toetree, die prentjie vinnig kan verander. “Dit beteken ons sal spoedig met ʼn plantprogram moet begin want dit neem 12 – 20 jaar voordat ʼn plant geoes kan word.”
“Nuwe aanplantings verg kapitaal en ʼn langtermyn visie en boere sal alleenlik aan boord kom as die groei in die agave-spiritualieë bedryf dit regverdig. Tans is dit nog nie die geval nie en daarom is dit noodsaaklik om intensief te bemark en nuwe rolspelers aan boord te kry.”
Kennan is opgewonde oor die groeiende belangstelling in die mark. “Ek het gesien hoe die bedryf momentum kry in Mexiko en het geen twyfel dat dit in Suid-Afrika ook kan gebeur as ons daarin slaag om die hele kultuur en persepsie rondom die produk te verander. Daarby het ons ook reeds belangstelling van oorsese markte vir ons produkte gekry.”
(Die storie oor die agave-spiritualieë het in Episode 14 van Nisboere Seisoen 5 op VIA, DStv-kanaal 147 verskyn. Dié program word deur Laeveld Agrochem geborg.)