
Die internasionale koffiebedryf is beslis nie oppie koffie nie! Luidens ʼn verslag van die Wêreld Ekonomiese Forum sal koffieverbruik oor die wêreld heen na verwagting met ʼn derde groei, in lyn met bevolkingsgroei en besteebare inkomste.
Op die plaaslike prentjie is Suid-Afrika voor in die koffiedrink koor, maar nie as verbouers nie. Te midde van ʼn snel groeiende koffiekultuur, is die plaaslike koffiebedryf nog baie klein, met plase wat tot enkele provinsies beperk is. Die eerste koffie in Suid-Afrika is na wat berig word in 1880 by ʼn sendingstasie in KwaZulu-Natal verbou.
Hoewel die smaak vir en vraag na koffie geen tekens van afname toon nie, hou die verbouing en die toekoms van die gewas ʼn aantal uitdagings in. Daar is egter beide ‘n groter en kleiner prentjie ter sprake.
Die koffiekoning van KwaZulu-Natal
‘n Boer met ’n plan en meer as net ʼn kans om ons land op die wêreld-koffiekaart te plaas, is Rick James. Rick het in die vroeë 1990’s ʼn kleinhoewe in die Assagay-vallei in KwaZulu-Natal gekoop. Sedertdien doen hy nie net baanbrekerswerk op die koffiefront nie; hy het in die proses ook ʼn gerekende en gediversifiseerde handelsmerk opgebou.
Wat begin het as ʼn klein plantasie van verwaarloosde koffiebome, is vandag Assagay Coffee Farm, ʼn wenboerdery wat deur Rick en sy vrou, Lesley, bedryf word. Saam met 10 permanente werknemers gaan hulle organies te werk om die plaas se unieke, 100% suiwer Arabica-koffiebone te verbou.
Die Nisboere-fokus
Nisboere, Laeveld Agrochem se gewilde en bekroonde TV-reeks op VIA, tans in sy vyfde seisoen, het onlangs by Rick en Lesley gaan besoek aflê as deel van hul missie om gewone mense wat buitengewone boerdery-idees suksesvol toepas uit te lig en te vier.
Gemeet aan Nisboere se kriteria, van vernuwing en volhoubaarheid tot werkskepping, kry Rick en Lesley tien uit tien. Die egpaar maak nie net ʼn bestaan uit hul entrepreneursdrif nie; hulle maak ʼn daadwerklike verskil. Een van die bewyse van hul sukses lê in die groei van die plaas. Met verloop van tyd het die verkope die voorraad oorskry en uiteindelik moes hulle uitbrei om aan die vraag te voldoen.
Met dié het Assagay Coffee Farm in 2002 verhuis vanaf die oorspronklike kleinhoewe van net meer as twee hektaar na die 40 hektaar plaas in die Harrison-vallei wat tans met sowat 300 000 bome pronk.
Nog ʼn pluspunt op die profytfront is diversifisering. Van toeka tot nou het Assagay Coffee Farm van ʼn vernuwende koffieplaas na ʼn vernuftige kuierplek gegroei, kompleet met ʼn koffiewinkel en ʼn reeks produkte wat die spektrum van bone tot gemaalde koffie dek.
In die Assagay Coffee Farm-winkel pronk alles van kleurvolle byderwetse geskenksakkies tot die nuwe African Savannah-reeks wat bestaan uit ʼn reeks gegeurde koffiekerse, asook handgemaakte koffiebone en gemaalde koffie gegeur met vanielje, kaneel en selfs sitronella om die muskiete weg te hou!
Die Afrika-prentjie en die klimaat
Met die uitsondering van Ethiopiërs is Afrikane oor die algemeen nie groot koffiedrinkers nie. Kom dit egter by verbouing is dit ʼn ander storie. Die vasteland is verantwoordelik vir sowat 12% van die wêreld se produksie en het ʼn gehaltereputasie onder koffiefynproewers wat skrik vir niks.
Ethiopië en Uganda is die grootste koffieprodusente op die vasteland; die twee lande saam lewer omtrent 60% van sub-Sahara Afrika se koffie. Die Ivoorkus is Wes-Afrika se grootste koffieprodusent en die derde grootste in sub-Sahara Afrika.
Kenners waarsku dat globale klimaatverandering die potensiaal het om die manier waarop koffie verbou word te verander, wat uiteindelik die gehalte van koffiebone kan beïnvloed.
Volgens die wetenskaplike tydskrif Climate Change, kan die helfte van die grond wat tans vir die produksie van gehaltekoffie gebruik word, teen 2050 onproduktief wees. Daarbenewens is die koffieboon ʼn besonder sensitiewe gewas wat van die begin tot die einde van die verskaffingsketting beskerming verg, onder meer teen peste, siektes en swamme.