Om ‘n idee van die grond af op te bou en dit in ‘n suksesvolle nisboerdery te omskep, is iets besonders. Maar soms lê die waarde van ‘n nisboerdery eerder daarin om die potensiaal van ‘n reeds bestaande onderneming raak te sien. Loutjie du Toit van Bloukop Farm is die perfekte voorbeeld van ‘n boer wat só ‘n geleentheid aangegryp het. Vir jare het hy dopgehou hoe sy bure op Zuidvaal met eksotiese produkte soos nastergalkonfyt boer. Toe dit tyd word vir hulle om af te tree, het hy die geleentheid met albei hande aangegryp en die plaas oorgekoop.
Skielik moes Loutjie sy boerderykennis verbreed. Gewoond aan mielies, sojabone, beeste, skape en ander gewasse, moes hy aanpas by die verbouing van nastergal en vinnig leer om te swem of te sink. Hierdie klein, maar besonderse bessieplant is nie iets waarmee enige Jan Rap en sy maat sommer boer nie. Hoewel die plant relatief maklik is om te verbou en geen gifstowwe benodig nie, lê die ware kuns in die verwerking van die bessies. En wanneer oestyd aanbreek, word elke bessie met die hand gepluk.
By Zuidvaal Jams is dit nie net die oes wat met die hand geskied nie. Die hele konfytmaakproses, vanaf kook tot verpakking word met groot sorg en met die hand gedoen. Dit is ‘n arbeidsintensiewe proses, en elke botteltjie konfyt bevat ongeveer 1 500 handgeplukte bessies. Hoewel hierdie nuwe uitbreiding talle uitdagings ingehou het, was dit vir Loutjie en sy familie ‘n stap wat natuurlik gevoel het. Met ‘n oog vir besonderhede en hande wat vir niks terugstaan nie, het elke familielid sy plek gevind: vanaf bemarking en verkope tot die bestuur van personeel en die daaglikse bedrywighede.
Gelukkig het Loutjie nie net die plaas oorgeneem nie, maar ook die ervare kookspan wat reeds jare lank die konfyt vervaardig het. Hul kennis en ervaring was van onskatbare waarde tydens die oorgang, en saam kon hulle voortbou op die gehalte en tradisie waarvoor Zuidvaal Jams bekend geword het. Die aanpassing was nie altyd maklik nie, maar dit was elke uitdaging werd.
Omdat die nastergalbessie slegs een keer per jaar geoes kan word, het Zuidvaal Jams hul produkreeks uitgebrei met ‘n verskeidenheid ander interessante konfyte, waaronder makataan, appelliefie, appelkoos en waatlemoen. Deur die reeks uit te brei, verseker hulle dat daar regdeur die jaar iets besonders vir kliënte beskikbaar is. Elke konfyt word met dieselfde sorg en aandag vervaardig, ongeag die vrug wat gebruik word. Só bly die gehalte waarvoor Zuidvaal Jams bekend is altyd die hoogste prioriteit.
Vir Loutjie was die aankoop van Zuidvaal Jams veel meer as net ‘n nuwe onderneming. Dit was die geleentheid om voort te bou op iemand anders se droom en terselfdertyd sy eie stempel daarop af te druk. Vandag leef die nalatenskap van die oorspronklike plaas voort, terwyl ‘n nuwe geslag sorg dat elke botteltjie konfyt steeds dieselfde liefde, gehalte en toewyding bevat wat Zuidvaal Jams al jare lank so besonders maak.
Vir meer inligting, volg @zuidvaalexoticjams op sosialemedia, besoek www.zuidvaal.co.za/ skryf aan zuidvaal@bloukop.co.za of bel 078 407 5306
Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.