DINK GRÓÓT

Willowbrooke Naturals and Botanicals: entrepreneursukses deur eie ervaring

Willowbrooke Naturals and Botanicals het nie oornag verrys en sukses behaal nie. Allesbehalwe: Tyd, geduld en deursettingsvermoë was Jenni Millard van Heroldsbaai se resep vir die vestiging van dié vervaardiger van ’n kosmetiekreeks en genesende velprodukte. Nóg belangriker was geloof in haar toekomsvisie en selfvertroue dat haar missie om kwaliteitprodukte te vervaardig gaan slaag.

Vertroue in jou produkte en onberispelike diens beteken uiteindelik dat vertroue ook by verbruikers gewek word, glo sy. 

Jenni se maatskappy, wat ook bekend staan as Willowbrooke Natural Cosmetics, vervaardig ‘n handgemaakte, 100% natuurlike velversorgings- en kosmetiekreeks. Sy is trots daarop dat die vervaardiging van al haar produkte eties geskied. Niks word op diere getoets nie, en die unieke produkte met hul byewasbasis sluit onder meer in onderlae, lipprodukte en teenverouerderingserums vir sensitiewe velle, sowel as botaniese olies wat saamgestel is om jou vel te verryk en jou hare te voed.

Dié geesdriftige entrepreneur se pad met haar skoonheids- en helende produkte het begin toe sy jare gelede brandwonde opgedoen het. Sy het onmiddellik gedoen wat slim skoondogters doen: “Ek het my skoonma gebel. Sy herinner my toe aan ’n byewassalf wat sy jare gelede self begin maak het en steeds gereeld vir seerplekke gebruik. Sy het aan my verduidelik hoe om dit self te maak en aan te wend.”

Gelukkig het die geskikte plante op die Millards se plaas gegroei en Jenni en haar man het dit dadelik gaan pluk. Die kruieplant “comfrey”, of smeerwortel, asook “plantain”, oftewel weegbree of tongblaar, het volop op hul grond gegroei. Weegbree is ’n onkruid met eetbare blare en sade wat wild voorkom en wat bekend staan vir sy gesondheidskenmerke, soos verbeterde vertering, wondheling en om inflammasie te beveg. “Op daardie stadium het ek nie eintlik geweet hoe om alles bymekaar te sit of hoe om dit te verwerk nie. Ek maak toe self ’n salf uit hierdie mengelmoes.” Jenni was verbaas oor die positiewe uitwerking daarvan op haar brandwonde. “Dit het nie lank geduur voordat ek die verbetering kon sien nie. Binne so vier tot ses weke was die verskil opvallend.”

Dit was toe dat sy besef het haar eie “konkoksie”, gemaak volgens haar skoonma se resep, kan as basis vir verskeie velprodukte gebruik word, aangebied in meer as een vorm. “Dit was so drie en ’n half jaar gelede dat ek hierdie produkte begin maak het. Hulle sê mos ’n boer maak ’n plan. Ek het gehou van dit wat ek doen en het gesien hoe goed dit werk. So ek het planne gemaak.”

Aangevuur deur haar sukses het Jenni oor die vervaardiging van verskillende vel- en later ook kosmetiekprodukte navorsing begin doen. Stap vir stap, met geduld en ’n weiering om handdoek in te gooi het die reekse stadig maar seker uitgebrei.

Byewassalf was eerste aan die beurt, “maar ek het ook iets ligter gemaak omdat die daaglikse aanwending van byewas op jou vel effens swaar is. Ek het dit toe ook tot iets sagter en smeerbaarder verwerk.”

Herhaalde eksperimentering het daartoe gelei dat die maatskappy met rasse skrede vooruit begin gaan het. “Dit alles het gelei tot ’n wye verskeidenheid produkte, van dié met helende eienskappe tot grimering en velsorgmiddels, wat nie net onderlae en lipstiffies insluit nie, maar ook ’n voedingsroom met antibakteriese eienskappe wat vinnige verligting bied teen uitslag en droogheid, of net in die algemeen vir goeie higiëne sorg.”

Jenni glo dat navorsing en huiswerk oor die bestanddele waaruit jou produkte bestaan, sowel as sinvolle eksperimentering, van kardinale belang is. “By die maak van enige produk moet jy die agtergrond en eienskappe van jou materiaal ken en verstaan, soos waar dit vandaan kom en wat die uitwerking daarvan is. Dis ewe belangrik dat jou verskaffers outentiek is, veral in die geval van natuurlike bestanddele.”

Dit is natuurlik vir die maatskappy ’n pluspunt dat baie van die produkbestanddele op die plaas gemaak of gekweek word. “Die byewas kom van my man se byekorwe. Ons boer nie werklik met bye nie, maar ons hou bye aan vir die was. Terselfdertyd kan ons natuurlik ook die heuning gebruik. Ons is trots daarop dat Willowbrooke se produkte geen skadelike middels bevat nie, ook dat geen skade aangerig is tydens die toets- of vervaardigingsproses nie.”

Dis vir Jenni belangrik dat Willowbrooke se velsorgreeks daagliks gebruik kan word. “Dis ‘skoon’ produkte; jy hoef nooit ongemaklik te voel om dit gereeld aan te wend nie. Ek dink die positiewe uitwerking daarvan maak dit vir my maklik om dit entoesiasties en met selfvertroue te bemark. Verbruikers kan dus ook die vertroue hê dat dit wat bemark en verkoop word, dit is wat hulle kry.”

Sou sy dinge anders doen indien sy van voor af met haar onderneming begin? “As jy passievol is oor iets, moet jy ten minste probeer. Jy gaan nie weet of jy sukses gaan behaal as jy nie eens probeer nie.”

Dis ook die raad wat sy aan enige jong entrepreneur met skeppende planne sou gee: Deurdink en doen!

Jenni glo aan persoonlike kontak met haar kliënte, van verkope op die plaas tot by die gereelde Outeniqua Farmer’s Market naweke op George, wat net so 15 kilometer van Herold geleë is. “Willowbrooke is ’n klein maatskappytjie, daarom glo ek in persoonlike aandag. So ’n mark is die beste plek om mense te leer ken wat van jou produk hou. Die terugvoering wat hulle gee, inspireer ’n mens tot nuwe hoogtes.”

Sy erken dat sy oor die afgelope jare baie van haarself gegee het om haar produkreeks te vervaardig, te toets en te verfyn, so ook om die handelsnaam te vestig en die produkte te bemark. “Elke oomblik van hierdie entrepreneurspad was die moeite werd. Dit was baie harde werk. Daar is nie ’n plaasvervanger vir harde werk nie.”

  • Vir meer inligting, volg @ Willowbrooke Naturals and Botanicals op sosialemedia. Skryf aan brightstareden@gmail.com of bel 072 377 3195.
  • Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.