DINK GRÓÓT

Wetenskap, tegnologie en passie – ’n wenkombinasie vir wentuine

Of jy tuinmaak op ’n woonstelbalkon, op jou posseël-dorpserf, in jou groot plaastuin of in net een bedding van jou meenthuis-lappie – ons almal wil ons graag omring met die wonder en skoonheid van plante vir ons plesier.

Dit gebeur dikwels dat jou tuinboudroom entoesiasties afskop, maar jy jou dan vasloop in toestande wat jy nie kan kleinkry nie – óf die plante en gras groei stadig, lyk beteuterd of versukkeld, en van blomme en weligheid is daar skaars sprake.

Die rede lê dikwels by grondarmoede of ’n gebrek aan voedingstowwe … dis dán dat die tuin waarna jy so uitgesien het, ’n hupstoot nodig het.

Agri Technovation, verbind aan Laeveld Agrochem, het nou produkte ontwikkel vir gewone tuiniers wat met hierdie kwessies stoei. Dis die huishoudelike mark wat hulle in die oog het, en waarvoor hulle hulpmiddels beskikbaar stel om groeiprobleme iets van die verlede te maak. “Spesialisasie vir sukses” is die beginsel waarvolgens die maatskappy te werk gaan en hul kundigheid beskikbaar stel.

Agri Technovation glo dat tegnologie, vernuwende denke en innovering die formule vir die toekoms is. Dis omdat presisieboerdery die passie van hierdie maatskappy se kundiges is, dat hulle hul kundigheid en uitgebreide ervaring ingespan het … van agronomie, tuinboukunde, grondwetenskap, mikrobiologie, geografiese inligtingstelsels, chemie, asook proses- en produkingenieurswese om aan produsente winsgewende en volhoubare oplossings te bied. Benewens eie navorsing en ontwikkeling het Agri Technovation ook vennootskappe gesluit met verskeie internasionale universiteite, onafhanklike navorsingsinstitute en laboratoriums om resultate, ontledings en bevindings met betrekking tot die jongste landboukundige tegnologie te vergelyk.

Produkte word spesifiek geformuleer om plantspesifieke voeding, plantstimulante en energievereistes aan te spreek om plant- en grondgesondheid te verbeter.

Jaco Engelbrecht, hoofbestuurder van Agri Technovation, sê dit is ’n landboukundige maatskappy wat gefokus is daarop om plantvoedingsprogramme te ontwikkel, juis omdat hulle oor die intellektuele kapitaal beskik en toegerus is daarvoor om ’n wye verskeidenheid produkte aan produsente regoor Suid-Afrika én oorsee vir hierdie doeleindes te bied.

Jaco vertel hy en Erik de Vries, uitvoerende hoof van Agri Technovation, het rondom hierdie doelwitte saamgespan. “Ons gesprekke het gedraai om die moontlikheid om ook op die huis-en-tuinmark te fokus. Ná navorsing het ons tot die slotsom gekom dat daar wel so ’n geleentheid is, en dis hoe die produk GROEI gebore is.” 

GROEI Asseblief is ’n natuurlike, vloeibare kelp- of seebamboesgebaseerde produk en grondopkikker wat as groeistimulant werk deur sterk wortelgroei sowel as bo-groei aan te moedig. Dit gee aan die plant die vermoë om daardie voedingstowwe uit die grond op te neem wat so broodnodig is om vinniger en sterker te groei en stewiger te staan. “Dit is ’n organiese produk wat vir ons baie belangrik is, omdat dit talle voedingstowwe ondergronds opneem. Dit bevorder ook stresverligting by plante. Dit is veral belangrik wanneer dit baie koud is, of te nat ná te veel reën, ook in omstandighede van te min reën. Wanneer hierdie produk bygevoeg word, vaar plante beter as dié wat nié daaraan blootgestel is nie. Een van die belangrikste aspekte van ’n produk soos GROEI Asseblief is dat dit sorg dat die plant nie so vatbaar is vir sekere plantsiektes nie.”

GROEI Fraai doen beslis sy naam gestand! Dis ook ’n vloeibare byvoeging, ook met kelp daarin, en ook organies. Maar waar Asseblief fokus op wortelgroei, is Fraai ’n stimulant vir blomgroei, boomgroei en struikontwikkeling, ook uitstekend vir groentetuine. Dís mos wat ons in ons tuin wil hê, meen Jaco … dat al die plante floreer en ons omgewing versier. “Ons sien hoe dit help tydens uiterste toestande. Dis dán dat produkte soos hierdie ’n verskil maak.”

Jaco sê wat die vloeibare produkte betref, is dit baie belangrik om te weet dat albei biologies ontwikkel is. “Dis dus geweldig omgewingsvriendelik.”

Weligheid, groenigheid en volume, die soort tuin wat na ’n ware oase lyk, is wat die korrelvoedingstof GROEI Jou ma se tuin vir jou kan doen, met belangrike elemente daarin soos stikstof vir groenigheid, fosfor vir sterk wortels en blomrykheid, en kalium vir algemene gesondheid, plaagbestandheid en stresverligting. “Ons het besluit op ’n sterk NPK-formule (stikstof, fosfor en kalium) wat genoeg van al drie elemente bevat, en het nie net op een gefokus nie. Hierdie formule is by uitstek geskik vir welige, immergroen grasperke. 

“Ons doelwit is huiseienaars in Suid-Afrika wat hou van ’n mooi omgewing. Afgesien van dié nasionale teikenmark, naamlik tuinbouentoesiaste, fokus ons ook op ’n groter skaal op die meer kommersiële mark, soos gholfbane en groter en kleiner kwekerye – veral boomkwekerye wat reeds ons produkte met groot sukses gebruik.”

As samewerkingsvennoot van Laeveld Agrochem is kreatiewe denke sedert sy stigting in 2014 vir Agri Technovation van die grootste belang. Dit gaan gepaard met opleiding, kundigheid, ervaring en tegnologie wat hulle met boere, en nou ook met tuiniers, wil deel. 

Al hul produkte sal ook by Laeveld Agrochem se verspreidingsdepots te kry wees.

Vir meer inligting, besoek Agri Technovation op Wellington by die Agri-sakepark, of bel 021 111 0461.

Besoek die webwerf: groei-at.co.za of skryf aan queries@groei-at.co.za

Volg @GROEI op Facebook en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.