DINK GRÓÓT

Wat kan jý doen om jou liefde vir fynbos te bewys?

Plant dit in jou tuin, boer daarmee om die voortbestaan daarvan te help verseker of bou ’n handelsmerk daarmee om bewusmaking te skep vir ons geliefde inheemse fynbos. Só maak drie vernuftige boere wat Nisboere onlangs besoek het om die internasionale bewaringsprioriteit van hierdie endemiese spesie te ondersteun.

Waarom nou juis fynbos, mag jy dalk vra? Wel, fynbos vorm deel ons Kaapse Blommestreek wat een van die ses belangrikste botaniese koninkryke in die wêreld is en deur die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne (IUBN) verklaar is as ’n wêreldsentrum van plantdiversiteit. 

Die rede hiervoor is dat daar byna 9 000 verskillende plantspesies voorkom in hierdie gebied van sowat 90 000 vierkante meter – groter en meer as wat daar in die Amasone-reënwoud is. Ongeveer 80% van hierdie spesies bestaan uit fynbosvariëteite, waarvan ’n verbysterende 69% bedreig word. 

Dit is juis die lot van hierdie asemrowende mooi plante van ons wat Johan du Toit en Oliver Kirsten van Cape Fynbos Wines & Spirits geïnspireer het om dit in hul handelsmerk te gebruik. Dis om twee hoofredes ’n gepaste handelsmerk.

Eerstens spreek hul besigheid van die fynbos se simboliese vermoë om te floreer, en tweedens streef hulle daarna om ons unieke Kaapse Blommeryk te vier en te ondersteun deur hul verpakking, etos en, bowenal, hul volhoubare besigheidspraktyke. 

Tesame met die uitstekende gehalte van hul produkte vind dié benadering uiteraard aanklank by ons mense, aangesien hulle ’n toegewyde groep aanhangers het en rekordgetalle van hul Fynbos Bubbly- en Bag-in-Box-reeks plaaslik verkoop word. Klik hier vir meer inligting.

Kyk gerus ook na die ongelooflike werk van Rosh Sewpersad en Tony Martin van die Nirvana Fynbosreservaat in Kaapstad. In 2009 het hulle die eerste grondeienaars geword wat ’n vennootskapsooreenkoms met die stad se owerhede gesluit het met die doel om dié seldsame flora vir ons toekomstige generasies te bewaar en te beskerm. 

Hul grond is op die laaste oorblywende natuurlike Atlantis Sandveldfynbos in die hele wêreld – wat bestaan as gevolg van evolusie oor ’n verstommende 71 miljoen jaar. Aanvanklik kon jy Sandveldfynbos al langs die kus tot by die Namibiese grens vind, maar vandag bly slegs 1% van die oorspronklike habitat van die Atlantis Sandveldfynbos bewaar.

Dis om dié rede dat Nirvana Fynbosreservaat talle projekte vir die beskerming van hierdie bedreigde spesie bedryf. Om genoegsame mannekrag en finansiering te verkry om hierdie belangrike werk te doen, bied hulle verskeie buitelugaktiwiteite op hul plaas aan. 

Dit sluit in ruiter-toevlugsoorde, tuinmaak- en landskapswerkswinkels, ’n privaat beeldetuin en die verhuring van ‘n lokaal vir klein tot middelgroot geleenthede. Hulle bied ook reiki aan, wat ’n antieke Oosterse genesingsterapie is vir beide mense en perde. Klik hier vir ’n virtuele toer en meer inligting. 

Volg @Nisboere om ons te vertel watter bydrae jý tot die biodiversiteit van ons inheemse Suid-Afrikaanse planteryk maak.