Die internasionale gewasbeskermingsmaatskappy ADAMA, met sy hoofkantoor in Ashdod, Israel, het sedert sy stigting meer as 70 jaar gelede van krag tot krag gegaan – jaar ná jaar uitgebrei vanweë kennisverbreding en gevolglike vooruitgang tot voordeel van boere wêreldwyd.
Hierdie landbouchemiese maatskappy is, volgens Hardus Hern, sy verkoops- en bemarkingskundige, in diens van die landbou en van boere om gewasse maksimaal te beskerm ten einde top-oeste te verseker.
Dit bied daardie noodsaaklike oplossings vir die “goggas” wat ’n boerdery se produksie en wins ernstig kan belemmer – onwelkome dinge soos onkruid, insekte en plantsiektes wat gewasse en oeste kan benadeel.
Die betekenis van die naam ADAMA, “grond” in Hebreeus, som eintlik die hele verhaal van hierdie vooruitstrewende maatskappy op – want vir hom is die gesondheid en beskerming van die grond waarin gewasse groei, ongetwyfeld die belangrikste bestanddeel van boerderysukses.
ADAMA se verhaal begin in die 1940’s toe vier jong entrepreneurs met ’n passie vir chemie twee Israeliese gewasbeskermingsmaatskappye, Agan (1945) en Makhteshim (1952), gestig het. Uiteindelik het albei kernrolle gespeel in die vorming van Israel se grondverskuiwende chemiese en landboubedrywe, wat weer gelei het tot hul samesmelting in 1997 om Makteshim-Agan te vorm. Dit was in 2014 dat die maatskappy sy internasionale handelsmerk, ADAMA, bekend gestel het, en nou deel is van die Syngenta Groep, die wêreld se grootste landbou-insetmaatskappy.
Hardus vertel ADAMA Suid-Afrika is in 1994 gevestig.
Hierdie maatskappy het oor die jare sy eie, baie unieke werkwyse tot stand gebring om met “formulerings” te eksperimenteer; nie net om gewasse maksimaal te beskerm nie, maar om markverwante formules te ontwikkel as grondslag vir boerdery- en oes-vertroue om uiteindelik oesprodukte teen markverwante pryse te kan lewer.
Vandag kan hierdie gesaghebbende onderneming hom daarop roem dat dit die sewende grootste oesbeskermingsmaatskappy ter wêreld is, met verkope in meer as 100 lande en met ’n omset van tussen $5,5 miljard en $6 miljard jaarliks. Nog statistiek wat bewys dat ADAMA op die voorpunt is van sy spesialiteitsgebied, is dat dit die grootste portefeulje het van aktiewe bestanddele (meer as 270), met vier internasionale navorsings- en ontwikkelingsentrums en 22 sintese- en formuleringspersele. Nie minder nie as altesame 9 000 werknemers wêreldwyd is in sy diens. Dit dryf handel op die Shenzhen-effektebeurs.
Hardus vertel dat ADAMA Suid-Afrika vanaf 1990 tot 2000 sowat 143 aktiewe bestanddele na Suid-Afrika gebring het, waarna dit stelselmatig begin afneem het. “Daar was in die afgelope dekade net 43, en daar word gereken dat dit in die volgende 10 jaar gaan verminder tot onder 30 aktiewe bestanddele wat nuwe opsies kan bied. ADAMA het die roete gekies om die formuleringstegnologie te herbekyk om gapings wat hierdeur gelaat is, te vul sodat die produksie van bepaalde produkte verleng kan word.”
Een rede vir die afname in aktiewe bestanddele is omdat dit baie duurder geword het; die ander omdat wetgewing baie strenger is. “Wetgewing is deesdae strenger weens die feit dat jy baie fyner metingsprosesse in die laboratoriums kan toepas. So tel ’n mens byvoorbeeld hormonale effekte op wat nie in die verlede bekend was nie. Die reëls rondom produkte wat nou mark toe kom, gaan gepaard met baie groter gesondheids- en omgewingsimpakwetgewing. Jy sou ’n fantastiese aktiewe bestanddeel kon hê, maar dan word dit geweier op grond van veiligheidsoorwegings vir die mens of die omgewing. Dit word dan uitgegooi en jy kan dit maar eenkant sit; dit sal nooit op die mark kom nie.”
Daar is ’n persepsie in die mark dat sommige oesbeskermingsprodukte “gif” is, met ander woorde te skadelik vir die omgewing en vir mens en dier – maar vanweë streng beheer en streng wetgewing is daardie beskouing iets van die verlede. ADAMA voldoen by uitstek aan die minimumstandaarde vir veiligheid, terwyl dit op die voorpunt bly van innovering, met nuwe planne vir nuwe, veilige produkte.
Hardus sê hoewel ADAMA al in baie lande “in die biologiese rigting beweeg, gaan dit nog ’n rukkie duur voordat alles oral mooi deurgewerk het. Wat die formuleringstegnologie betref, is daar reeds vernuwings wat in Europa ingefaseer is”.
Net oor die afgelope agt jaar het die Europese Unie meer as 265 tradisionele chemiese aktiewe bestanddele verbied.
Aktiewe bestanddele voorkom, vernietig, weerstaan of verswak enige pes. Hulle val onder klasse soos organofosfate, organo-chlorin, insekgroeireguleerders en piretoïede. Onaktiewe bestanddele is presies die teenoorgestelde en word as oplosmiddels, verdunners, draers, katalisators en versterkers gebruik. Sommige van hierdie onaktiewe bestanddele is toksies.
Hardus sê ADAMA werk aan strategieë om kwaliteitprodukte te ontwikkel om byvoorbeeld die jaarlikse getal bespuitings per oes te verminder.
“ADAMA het ’n baie groot, nuwerwetse fabriek in China opgerig wat regstreeks met dié van die Israeliese hoofkantoor met sy kundigheid skakel.” Hierdie kombinasie van kennis en werksmag is tot voordeel van die landbou wêreldwyd, veral Suid-Afrikaanse boere wat met behulp van die ADAMA-handelsmerk en sy sowat 50 formulerings hul gewasse doeltreffend teen plae kan beskerm.
Kaapstad-kantoor: Jip de Jagerrylaan 99, The Vineyards-kantoorpark, Simeka House, De Bron, Durbanville. Tel. 021 982-1460.
infocpt@adama.com
Johannesburg-kantoor: Eenheid D, Warehouse 4, Purlinstraat 16, Industriële Landgoed 21. Tel. 011 653-4300
infojhb@adama.com
Volg @ADAMA South Africa en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.