Visboerdery raak toenemend gewild in Suid-Afrika as gevolg van ons gematigde klimaat en oorgenoeg visbronne. Dan is ons natuurlik ideaal geleë om die plaaslike sowel as die internasionale markte te bedien.
Daar is internasionaal én plaaslik ’n groeiende vraag, omdat vis ’n uitstekende bron van proteïne, omega-3-vetsure en voedingstowwe is wat noodsaaklik is vir sterk spiere en goeie hart- en breingesondheid. Die plaaslike mark veral is egter onontgin, want omtrent die helfte van die vis wat Suid-Afrikaners verbruik, word tans ingevoer.
Indien jou entrepreneurshart dus nou vinniger begin klop oor al die moontlikhede wat hierdie bedryf bied, waar begin jy?
Wel, eerstens is dit belangrik om te weet dat jy vir ’n permit by die Department Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkelling aansoek sal moet doen. Een van die belangrikste faktore wat die department sal oorweeg, is of jou visboerdery volhoubaar is.
Nisboere het onlangs by Sea Harvest in Saldanhabaai gaan kuier om te bepaal wat presies dit beteken om volhoubaar met vis te boer, en in die proses het ons geleer dat dit basies uit drie hoofelemente bestaan.
Eerstens moet jy waak teen die oorbenutting van ons visbronne deur beide die huidige en toekomstige vraag in aanmerking te neem. Tweedens moet jou visboerdery sό bestuur word dat jy ons natuurlike hulpbronne, soos water, beskerm. Derdens moet jy ook omsien na diegene wie se daaglikse lewensbestaan van visvang afhang. Volhoubaarheid is ’n goue draad wat verweef is in Sea Harvest as onderneming, van die beskerming van ons vis- en natuurlike bronne tot die beskerming van lewensbestaan.
As die enkele grootste werkgewer aan die Weskus verskaf hulle ongeveer 5 000 werksgeleenthede en het hulle ’n steunpilaar in die gemeenskap geword wat ’n legio klein, middelgroot en mikro-ondernemings ondersteun. Klik hier om so ’n bietjie meer oor die Sea Harvest-verhaal te lees en om uit te vind hoe volhoubare visboerdery oor die jare in ons land ontwikkel het.
Trouens, volhoubare visboerdery wat die oorbenutting en besoedeling van ons visbronne voorkom, vorm ook die kernfokus van die akwakultuur in Suid-Afrika as geheel. Volgens die Department Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkelling bestaan akwakultuur uit twee komponente, naamlik mariene (seewater-)visboerdery en varswatervisboerdery.
Om die potensiaal van laasgenoemde bedryf te ontgin, hoef ’n mens uit die aard van die saak nie naby die oseaan te wees nie. Varswaterplase maak gebruik van nethokke in gronddamme, binnenshuise hoëdigtheid-hersirkulasiestelsels en akwaponikastelsels op renbane.
Een van die hoofredes waarom varswatervisboerdery tot dusver beperk was in ons land, is die beskikbaarheid van geskikte water, wat die kwaliteit en kwantiteit daarvan betref. Dienooreenkomstig word vis tans hoofsaaklik in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo geproduseer. Die top drie visspesies waarmee daar plaaslik geboer word, is die gewone forel, die reënboogforel en die Afrika-barber.
Ander gewilde spesies waarmee daar geboer word is die krokodil, ornamentele vis, Afrika- skerptandbarber, Mosambiekse en Nyl-tilapia, marronkreef en gewone karp.
Moet ook vir geen oomblik dink dat alle suksesvolle visboere kommersieel boer nie, want heelwat begin aanvanklik op ’n klein skaal en brei dan stelselmatig uit. Die gesegde “wie nie werk nie, sal nie eet nie” is ook hier van toepassing, want visboerdery is arbeidsintensief omdat jy met lewende organismes werk wat in werklikheid 24/7 toesig vereis.
Indien jy gretig is om ’n addisionele inkomste te verdien en kans sien om jou moue op te rol daarvoor, loer gerus na hierdie nuttige artikel oor die visbedryf en die verskillende akwakultuurstelsels wat jy kan oorweeg: https://southafrica.co.za/af/varswater-visboerdery-in-suid-afrika.html. Volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer en jou eie storie met ons te deel.