DINK GRÓÓT

Vir ’n blinker toekoms, maak aspersies deel van jou langtermynplan

Net ’n klein stukkie grond is nodig om met aspersies te begin boer en hoë opbrengste te lewer, sê Francois Crause van Maluti Asparagus Company in Hebron in die Oos-Vrystaat. “Dis omdat asperies ’n hoëwaardegewas is.”

Volgens hom is dit egter belangrik om te onthou dat dit ook ’n relatief duur gewas is om te begin verbou en dat jy jou eerste oes van die land gaan haal eers drie jaar nadat jy die eerste saad geplant het. Desondanks is dit uiteindelik tόg die moeite werd vir dié wat kan vasbyt en deurdruk.

Die hoofrede hiervoor is dat die vraag na aspersies stelselmatig bly groei; nie net plaaslik nie, maar ook in die res van die wêreld. Om dit in perspektief te stel: Die globale aspersiemark sal na verwagting van 2020 tot 2025 teen ’n konsekwent saamgestelde jaarlikse groeikoers van 4.8% bly groei.

In Suid-Afrika is die aspersieproduksie besig om te krimp. In 2019 het ons byvoorbeeld ongeveer 463 623 ton aspersies verskeep, wat byna 11% minder was as wat ons die vorige jaar uitgevoer het. Dat aspersies nie ’n kitswelvaartbedryf is nie, mag dalk bydra tot hierdie kwynende syfers.

Hoe dit ook al sy, kenners stem saam dat nuwe aspersieboere broodnodig is in ons land, ongeag of dit op ’n klein skaal of op ’n kommersiële vlak is. Dít word ook bevestig deur dié wat self in die bedryf is, soos Grahame Osler van Denmar Estates.

In ’n artikel wat onlangs in Food for Msanzi verskyn het, sê hy dat daar oor die jare baie waardevolle inligting en kennis versamel is oor hoe om in die wisselende Suid-Afrikaanse klimaat met aspersies te boer. Tensy nuwe aspersieboere binnekort na vore kom, sal die grootste deel van hierdie kennis verdwyn.

As jy dit alles in ag neem, wonder jy seker nie meer oor die lewensvatbaarheid van aspersiesboerdery nie. Jy vra dalk eerder: “Waar presies begin ek en wat het ek nodig om ’n aspersiesboer te word?” 

Kundiges meen daar is minstens drie kritiese elemente wat jy in aanmerking moet neem.

Die eerste is volgehoue toegang tot nuwe grond, aangesien jy nie nuwe aspersiegewasse in dieselfde grond as oues kan aanplant nie. Tweedens is besproeiing belangrik. Hoewel aspersies aanvanklik nie oorbenat moet word nie, het dit wel goed gedreineerde grond nodig om te floreer. Laastens het jy die regte klimaat nodig. Jy sien, aspersies is so ’n klein bietjie soos mooiweersvriende. Dit is inderwaarheid ’n geharde gewas wat in ’n groot verskeidenheid klimaatsomstandighede kan oorleef. Studies toon egter dat dit aansienlik groter opbrengste lewer onder gematigde weersomstandighede, in temperature van so tussen 15°C en 26°C.

Francois sê dit is ook uiters belangrik om die regte vennootskappe te sluit met kenners wat die nodige insette in jou boerdery kan lewer. “Ons is maar net doodgewone boere wat nie iets van alles kán weet nie.” Hy boer al 40 jaar lank, maar werk self ook met die landboukundiges van maatskappye soos Laeveld Agrochem wat sy plaas een maal per maand besoek om grondontledings te doen en sy gewasse te bestudeer.

Na aanleiding van hierdie tipe ontledings sal hulle nommerpas aanbevelings maak vir ’n sinvolle bemestigingsprogram, watter chemiese produkte veilig is en wanneer en hoe gifstowwe gebruik moet word om jou gewasse optimaal te beskerm. 

Indien jy gereed is om aspersies deel te maak van jou langtermynplan vir ’n blinker toekoms, besoek Laeveld Agrochem gerus by www.laeveld.co.za om uit te vind hoe hul landboukundiges jou kan help om die beste van jou nuwe boerdery te maak. Volg @Nisboere op Facebook om by ander nisboere kers op te steek of jou eie storie te deel.