Op ’n ongewone plaas in Pretoria werk duisende plaaswerkers dag en nag … sonder trekkers, duur toerusting of selfs hande. Dis reg! By Vermicompost Farm is rooi komposwurms hard aan die werk en vorm hulle die eintlike produksiespan agter die sukses van hierdie unieke nisboerdery.
Die mens agter die wurms, Nico Benadé, produseer kompos van hoë gehalte wat ryk is aan voedingstowwe. Wat sy storie nóg interessanter maak, is dat Vermicompost Farm nie op ’n groot tradisionele plaas ontstaan het nie, maar op ’n klein stukkie grond. Dit bewys sommer vroeg reeds dat ’n mens nie noodwendig hektare grond nodig het om ’n suksesvolle nisboerdery op die been te bring nie.
Wat Vermicompost Farm se produk laat uitstaan, is die gebruik van rooi komposwurms. Hierdie klein maar hardwerkende wurms verteer organiese materiaal en help om dit in voedingryke vermikompos te omskep – ’n produk wat weer gebruik kan word om grond te verbeter en plante te voed.
By Vermicompost Farm gebruik hulle hoofsaaklik perdemis en houtskaafsels, materiaal wat andersins maklik as afval beskou sou kon word. Hoewel die wurms ’n belangrike rol in die proses speel, kan hulle nie sommer dadelik aan die werk spring nie. Die perdemis en houtskaafsels word eers vir ’n paar weke vooraf gekomposteer voordat dit vir die wurms gevoer word. Daarna neem dit ongeveer tien weke vir hierdie klein plaaswerkers om die materiaal verder te verwerk.
Wurmboerdery bied dus ’n slim manier om organiese afval in iets waardevols te omskep, wat op sy beurt weer gebruik kan word om ander gewasse en plante te laat floreer. Maar dié wurmpies ken nie net een resep nie! Vermicompost Farm bied ’n verskeidenheid produkte, waaronder gesifte en ongesifte vermikompos, potgrond, deklaag en selfs vermikompostee. En as jy graag van dié klein werkers by jou eie huis wil aanstel, kan jy ook lewende rooi komposwurms by Nico aankoop.
Vir dié wat meer oor hierdie ongewone boerdery wil leer, bied Vermicompost Farm ’n kort inligtingstoer aan. Hier kan besoekers meer leer oor wurmboerdery, die komposteringsproses en die rol wat hierdie klein diertjies in ’n meer volhoubare kringloop kan speel.
Vermicompost Farm wys dat ’n goeie boerdery-idee nie altyd groot grond, groot masjinerie of groot diere nodig het nie. Soms is die hardste werkers op ’n plaas juis die heel kleinste.
Vir meer inligting, besoek https://www.vermicompostfarm.co.za/ skryf aan nico@vermicompostfarm.co.za of bel 082 854 7255.
Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.