DINK GRÓÓT

Van Ryn’s: Hartland van die brandewynkuns

Van Ryn-brandewyndistilleerdery digby Stellenbosch het as ’t ware die kultuur van brandewynverbruik in Suid-Afrika help vestig. Dis dié ervaring van seker die edelste produk van die druif wat die afgelope jare hierdie produsent gehelp het om dikwels vir die gehalte van hul brandewyn bekroon te word, met “wêreld se beste brandewyn” as die kroon van toekennings.

Marlene Bester, meesterdistilleerder en handelsmerkbestuurder hier, sê dit het alles te doen met kwaliteit, beslis nie kwantiteit nie – want elke druppel in elke vat is geskep met passie, die één bestanddeel wat noodsaaklik is vir die vervaardiging van die uitsoekbrandewyne waarvoor Van Ryn’s Brandy so ’n gewaardeerde naam in die Suid-Afrikaanse brandewynbedryf verkry het.

Die ander belangrike bestanddeel van die wenresep van hierdie distilleerdery is geduld … want dis eers ná 10, 12, 15 en 20 jaar se veroudering dat die ware karakter van brandewyn bekend is.

Tog is die eerste stap van ’n topkwaliteitproduk die gebruik van uitsoekdruiwe as basis. Daarsonder sal die jare lange verouderingsproses in hul Franse eikehoutvate nooit kan slaag nie, sê sy.

Van Ryn’s was die eerste distilleerdery in die land wat brandewyn op die moderne manier uit wyn gedistilleer het. Dit het alles begin toe Jan van Ryn, ’n Nederlander, in 1845 in die Kaap aangekom het en die Van Ryn Wine and Spirit Company gestig het. ’n Reeks drankwinkels is geopen, en daarna, in 1867, is die distilleerdery op die been gebring. Van Ryn en sy hoofbestuurder, James Alexander Gird, was vasbeslote om net die heel beste te skep, wat tot goue en silwer medaljes vir hul produkte op skoue in Amsterdam, Londen en Antwerpen gelei het. Dit kon gedoen word met die hulp van ’n topbrandewyndistilleerder van dié tyd, Renier Santhagen, wat die gebruik van Franse koperpotketels vir die distilleerproses aan Van Ryn bekend gestel het. 

Van Ryn het in 1884 gesterf, maar sy seuns het die onderneming voortgesit. Die gebou waarin die distilleerdery tans gehuisves word, is in 1905 gebou. Dit is een van die Kaapse Wynland se grootste aantreklikhede in die wyn- en brandewynbedryf, en deel van die Kaapse Brandewynroete.

“Jan van Ryn het van die begin af geglo dat die kwaliteit van brandewyn ontsettend belangrik is. Dit kry jy net as jy brandewyn vir ’n lang tyd in hout verouder. Dan eers kan dit werklik ontwikkel tot die beste wat daar is,” sê Marlene.

“Dis ook waarom ons hele reeks bestaan uit 10 tot 20 jaar oue brandewyn. Ons is nie ’n produsent wat tegelyk duisende liter produseer nie – ons verkies klein hoeveelhede, sodat ons dwarsdeur die proses op die kwaliteit kan fokus. Dit sluit in die kwaliteit van die wyn wat aan ons gelewer word. Die distillasieproses duur ook langer en is dus sagter, met die verouderingsvate wat ’n massiewe rol speel. Ons is geleë in ’n koeler klimaat, met meer vog; dus is die verouderingsproses ook ’n bietjie stadiger, wat sorg dat jou geure meer geïntegreer is. Die vermengingsproses is ewe belangrik, eintlik die groot geheim … naamlik dit wat jy bymekaarsit om ’n unieke produk te produseer.”

Marlene sê regulasies vir die produsering van brandewyn verskil wêreldwyd. “Ons in Suid-Afrika voldoen aan konjakvereistes, as ons dit met die oorsese regulasies vergelyk. Wat ons hier produseer, is dus eintlik ’n Suid-Afrikaanse konjak.”

Van die vereistes vir Suid-Afrikaanse brandewyn is dat dit uit druiwe gemaak word, dat dit dubbelgedistilleer moet word en in eikehoutvate verouder word. In ander dele van die wêreld kan jy neutrale spiritus gebruik om jou brandewyn te vervaardig, en jy kan ook kleursel en geursel bygooi. “Daarna kan jy jou produk ‘brandewyn’ of ‘whisky’ noem.”

Dis waarom Suid-Afrika gereeld die “beste brandewyn ter wêreld” produseer, sê sy. “Dit is omdat ons die regulasies vir die vervaardiging van brandewyn volg. Die wetenskaplike gedeelte van brandewyn maak is die distillasieproses. Jy werk met ’n formule, en jy werk met bepaalde temperature en alkoholsterkte.”

Die ware kuns – wat die uiteindelike aard van die brandewyn bepaal – is die veroudering. “Dit is waarom ons Franse eikehout gebruik. Jy kry dan daardie mooi vanielje- of koffie- of neutkarakter in jou produk. Ons het al Amerikaanse eikehout gebruik, maar dit werk beter vir whisky – beslis nie vir brandewyn nie. ’n Mens soek nie die speseryagtigheid in jou brandewyn wat jy uit Amerikaanse eikehout kry nie.”

Dis juis die vate wat die brandewynkuns so mooi afrond, wat ’n besliste invloed het op die kleur en geur van die brandewyn.

Van Ryn’s koop tweedehandse vate uit die wynbedryf aan en herstel hulle tot so te sê nuut. “Ons het ons eie kuipery op die perseel, met sowat 20 kuipers wat hierdie gespesialiseerde werk doen. Hulle haal die vate uitmekaar, skuur en rooster die binnekant daarvan. In effek het jy dan ’n nuwe vat wanneer die kuipers daarmee klaar is.”

Kuipery is ’n vaardigheid wat op Van Ryn’s se perseel aangeleer kan word. “Daar is nie ’n instansie waar iemand kan gaan leer om ’n kuiper te word nie. Dit is indiensopleiding … baie van die kuipers begin hier as jong mans, en is nou al amper 60 jaar oud. Dis ’n vaardigheid wat hulle aanleer wat oor ’n lang tyd beoefen kan word. Hulle vervaardig ook hul eie gereedskap om vate te kan maak. Dit duur ongeveer drie jaar om as volwaardige kuiper te kwalifiseer. Eers daarna word hulle deur die kuiperybestuurder as bevoeg afgeteken.”

Van die grootste uitdagings wat ’n brandewyndistilleerdery ervaar, is die klimaat. Dit het ’n invloed op druiweproduksie. “As daar ’n tekort aan druiwe is, het jy ’n tekort aan wyn. Ons as produsent moet 10, 15, 20 jaar vooruitbeplan. Ons moet dus seker maak dat ons ’n goeie produk het wat ons ná soveel jaar in ’n bottel kan sit. Dis hoekom ons goeie verhoudings met die produsente opbou wat druiwe aan ons verskaf.”

Nog ’n uitdaging wat Van Ryn’s in gedagte moet hou, is die veranderende omgewing ten opsigte van verbruikers, sê Marlene. “Ons sien wêreldwyd dat jonger verbruikers minder drink en ook produkte met ’n laer alkoholinhoud verkies. Hulle is egter bereid om meer te spandeer aan ’n premiumproduk. Ons gee konstant aandag aan die voorkeure van verbruikers en pas daarby aan. Dit help nie jy produseer iets wat die verbruiker nie gaan drink nie.”

Om die kuns van brandewynvervaardiging onder die knie te kry gebeur nie vinnig nie. “Dis nie ’n glansryke werk nie, en jy moet leer om geduld te hê. Die bevrediging wat jy daaruit put om ’n gehalteproduk te skep ná 10 of 15 jaar gee soveel waarde aan wat jy doen. Dit is uiteindelik ’n besonderse ervaring om te sien hoe iemand iets geniet wat jy met soveel passie vervaardig het.”