DINK GRÓÓT

Van ’n poloplaas tot ’n gesogte wynplaas

Die storie van Kay en Monty Vineyards naby Plettenbergbaai gee opnuut betekenis aan dié gesegde: “Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.” 

Oorspronklik is daar op dié 220 hektaar-eiendom met proteas geboer, en toe Chick Legh dit in 2004 gekoop het, het hy dit eers in ’n poloplaas omskep.

Daarna word dit toe egter een van die eerste landgoedere in dié geweste waar wingerde aangeplant is – eers slegs vyf hektaar, maar kort voor lank het hul waagmoed en toewyding vrugte begin afwerp. Vandag is Kay en Monty Vineyards nie net ’n tuiste vir afgetrede ponies nie, maar ook ’n volwaardige boetiekwynplaas met gesogte wyne wat merkwaardig goed deur die mark ontvang word. 

Boonop het dit een van die gewildste bestemmings op die Plett-wynroete geword, met ’n uitstekende trou-venue en fynproewerrestaurant, sowel as ’n elegante vierslaapkamer-privaatvilla met skouspelagtige panoramas van die berge wat aan toeriste verhuur word. Hul geskiedenis laat ’n mens uit die aard van die saak wonder of dit die moeite werd is om nog wingerde in Suid-Afrika te begin aanplant.

Wel, volgens onlangse data verskaf deur die Internasionale Organisasie van Wingerdstok en Wyn (IOV) in Parys, is Suid-Afrika agste onder die grootste wynproduserende lande op die planeet en sesde op die lys van lande wat die meeste wyn ter wêreld uitvoer. Hierdie bevindings word gestaaf deur plaaslike studies deur organisasies soos Vinpro en bewys boonop dat ons wynbedryf op ’n volhoubare groeipad is.

Net van 2020 tot 2021, byvoorbeeld, het Suid-Afrika se totale wynuitvoervolume met 22% gegroei tot ’n produksie van 388 miljoen liter, en ons wyn se uitvoerwaarde het met 12% tot R10.2 miljard toegeneem. Voeg daarby dat ons plaaslike verbruik oor ’n tydperk van 10 jaar (2007-2017) met 30% gegroei het, dan lê daar ongetwyfeld ’n blink toekoms vir wynboere in ons land voor – veral wanneer ’n mens in aanmerking neem dat die druiwe wat in ons land geoes word, nie net vir wyn aangewend word nie. 

Van ons land se totale jaarlikse oes van 1 133.3 miljoen liter in 2021, byvoorbeeld, is 80.4% aan wynproduksie gewy. Uit die res is 3.2% aangewend vir wyn vir brandewyn, 11.9% vir distilleerwyn en 4.5% vir druiwesapkonsentraat en druiwesap. Dus bied ’n wingerd ’n legio moontlikhede.

Sou jy dit oorweeg om jou plaas uit te brei deur wingerde op ’n stuk van jou grond aan te plant, kan jy gerus kers opsteek by Kay en Monty Vineyards wat terselfdertyd die potensiaal van die enotoerismemark begin ontgin het. Enotoerisme, wat ook bekend staan as vinitoerisme of wyntoerisme, behels enige toerisme-aktiwiteite wat die proe, verbruik of aankoop van wyn insluit.

Dit sluit ook begeleide toere in wat toeriste in staat stel om ’n kykie agter die skerms van ’n wynmakery te kry. Enotoerisme is voorts besig om toenemend gewild te raak. Net van 2022 tot dusver in 2023 het die wêreldwye enotoerismemark reeds van $7.88 miljard tot $8.2 miljard gegroei. 

As een van die top wynprodusente in die wêreld lyk Suid-Afrika se vooruitsigte in hierdie verband dus ook uitstekend. Trouens, studies bewys dat so 60% van ons internasionale toeriste uitsluitlik hierheen kom om ons land se vooraanstaande wynkelders te besoek. Klik hier vir ’n uiters nuttige oorsig van die plaaslike wynbedryf en enotoerisme in Suid-Afrika.

Volg @Nisboere op Facebook vir meer stories oor unieke boere.