Vir Ockie Marais en sy medeboere naby Setlagole in die Noordwes-provinsie was die lappe en lappe “Kalahari melons” of “amperse” waatlemoene, oftewel tsamma, makataan of karkoer, ʼn onkruidprobleem wat hulle hande in die hare gelaat het. Hulle kon nie voorbly om dit uit te roei nie, en dit het ook nie gehelp dat beeste dit oor grensdrade na buurplase bly versprei het nie.
Dié reuse-vrug, wat maklik met ʼn waatlemoen verwar kan word, was vir die boere ʼn hardnekkige probleem wat wortel en tak uitgeroei moes word … veral “tak”, want die lang stingels wat die karkoere dra, het gereeld in masjinerie se meganismes vasgedraai, tot boere se ergernis.
Citrullus lanatus is inheems aan hierdie gebied van Noordwes, wat deel is van die Kalahari-kom.
In 2010 het Ockie begin wonder of dié oordaad ongewenste plante en hul vrugte nie in iets bruikbaars en winsgewends omskep kan word nie. “Ek lees ontsettend baie, veral oor mense wat al deur diep waters gegaan het en groot probleme ondervind het, en pas dit dan op my eie situasie toe.”
Sy naleeswerk het vrugte afgewerp. “My droom is gebore uit droogte, armoede en desperaatheid om op die plaas Latham West in die Kalahari, waar ek al 35 jaar boer, te oorleef. Ek wou graag my gesin en die gemeenskap rondom my met iets produktiefs bedien. Ons het met die karkoere begin eksperimenteer. Vir alle praktiese doeleindes is dit ongewens, ʼn onkruid wat baie probleme gee, maar dit was vir my ook duidelik dat dié geharde plant hitte én droogte kan verduur.”
Terwyl die meeste boere so gou moontlik van die karkoere ontslae wou raak, het Ockie se navorsing hom gelei tot die moontlikheid om olie uit die donkerbruin sade te pers. Dit was reeds bekend dat dié waatlemoenagtige vrug al van vóór kolonisering af in Suidelike Afrika gekweek is, en die jong, sagte blare en die vrugte as groen groente gekook is; die vrug self as pap saam met mieliemeel. Ockie het geweet dat die gemaalde karkoervleis veral in droogtetye ʼn waardevolle veevoer is. Dit was ook reeds bekend dat die vrug as ʼn bron van water veral deur die Boesmans gebruik is, met medisinale gebruike vir die versorging van vel en hare, en ook as lipsalf.
Ockie het sy berekenings begin maak. By die 40 karkoere aan een wilde plant is al getel, elk met ʼn gemiddelde massa van 1,3 kg. Hy het self begin aanplant en ander boere in die omgewing genader om die onkruid van hul lande te verwyder om te verwerk. “Ek het nou al twee jaar agtermekaar in die Vrystaat gaan oes, een jaar by Hertzogville 35 ton pitte, by Bultfontein 10 ton pitte. Naby Vryburg het ons een jaar 45 ton karkoerpitte geoes. Jy moet ʼn geweldige klomp karkoere verwerk vir 45 ton pitte! Ons haal dit kosteloos van medeboere se lande af, en gewoonlik is hulle baie behulpsaam hiermee. Almal wil jou graag daar hê, want jy help hulle met ʼn reuse-probleem. Deur die karkoere te verwyder keer jy ook die verspreiding daarvan op hul lande in die toekoms.”
Ockie se eksperimente met die pitte het gelei tot die produksie van ʼn hoëgehalte-olie wat as basis vir velsorg gebruik kan word. Produksie en verkope het op ʼn klein skaal begin, vir die plaaslike mark en vir uitvoer na die Verenigde Koninkryk en Hongkong. In 2021 is verbeterde toerusting geïnstalleer vir ʼn verhoogde produksie.
Ontpitting is ʼn moeilike proses, erken hy, “seker die moeilikste van die hele produksiepakket”.
Wat ander dus as ʼn lastigheid beskou het, is vir Ockie wins en vooruitgang. “Dis ʼn veelsydige plant, nie net vanweë die pitte nie, maar ook vanweë die vrug.”
Van die vrug word onder meer “oliekoek” vir beesvoeding gemaak en die olie word in netjiese botteltjies op die plaas verkoop. Die olie word gebruik vir vel-, haar- en babasorgprodukte, as velreinigers, velrome en sjampoes, en ook as babaolie. Dit trek vinnig in jou vel in en is nie vetterig nie. “Die karkoerpitolie word as draerolie gebruik waarby ander elemente gevoeg word om volwaardige velsorgprodukte te vervaardig,” sê hy.
Die olie hou ook baie ander gesondheidsvoordele en -gebruike in. Dit is:
- Anti-oksidanties – beveg vryradikale
- Anti-inflammatories – bevat vitamien A, C en E
- Dit bevorder selgroei – bevat omega 6 en 9
- Dit bevorder breinfunksie – ryk aan vitamien B-kompleks
- Dit bevorder hartgesondheid – beperk weefselskade
Perdeliefhebbers gebruik weer die olie om hul diere se maanhare en sterte mooi te hou.
Ockie beplan om vanjaar seker so 220 ha karkoere aan te plant, minder as voorheen, omdat hy nog baie oor het van ʼn vorige seisoen toe hy by die 400 ha aangeplant het.
“Oosbloklande, China en deesdae ook Europese lande het ons olie begin invoer. Dié toename in die vraag het ons gedwing om ook op ander plase te gaan oes.”
As entrepreneur moet jy bereid wees om foute te maak, sê hy. “Daar gaan tye kom dat jy swaarkry. Jy gaan moedeloos raak, maar jy moet maar net aanhou.”
Besoek africanoriginsfarming.co.za en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte aan te skaf.