DINK GRÓÓT

Van geldelike ondergang tot topprodusent

Die suksesverhaal van Mazuri Pineapples in Noord-KwaZulu-Natal het begin nadat ’n reuse-terugslag Cobus Oosthuizen sr. van Hluhluwe in 1998 getref het, “toe ek bankrot gespeel en die bankbestuurder gesê het: ‘Cobus, jy gaan dit nie maak nie.’”

Waarmee die bankman nié rekening gehou het nie, is Cobus se deursettingsvermoë en dat hy kon staat maak op medeboere wat nie geskroom het om hom by te staan nie. “Twee dinge aard in Hluhluwe: Dinge met horings en dinge met dorings. Ek het toe vir die bank gesê ek gaan pynappels plant. Ek weet nie wat my besiel het nie, maar ek het besef ek het ’n plan.”

Cobus het ’n tweede kans aangegryp. Van die ander hoofbestanddele in sy wenresep was slim beplanning en skeppende denke wat gelei het tot die ontwikkeling van een van die suksesvolste pynappelplase in KwaZulu-Natal, een van 12 in die omgewing. “Almal het ingespring,” vertel hy. Bure het toerusting, selfs ’n trekker en ’n sleepwaentjie, aan hom geleen, ook plantmateriaal verskaf. “As dit nie vir hulle was nie, sou Mazuri Pineapples nooit ontstaan het nie.” Vir kontantvloei het die Oosthuizen-egpaar ’n gastehuis op die plaas begin, met Cobus wat hom hoofsaaklik op die bemarking toegespits het. Dit het in hul guns getel dat die omgewing gewild is onder oorsese toeriste.

Hul finansiële terugslag en gevolglike sukses, moontlik gemaak deur harde werk en staatmakervriende, het vir Cobus die waarde van ’n oop hand geleer.

Want vanaf sy aanvanklike aanplantings met die hand op net 6 ha grond, met agt arbeiders, en lewering hoofsaaklik aan Pick n Pay, het die boerdery ontwikkel tot 86 ha wat Mazuri vandag onder pynappels het, met 120 voltydse werkers in diens, elk met gemiddeld agt afhanklikes. “Dis ’n arbeidsintensiewe bedryf,” sê hy. “Om lewensvatbaar te wees, moet jy op minstens 65 ha aanplant. Maar jy moet tien keer soveel grond hê as die stuk waarop jy plant, omdat pynappels so baie uit die grond haal. Die grond het so lank moontlik ’n rusperiode nodig.”

Niks maak Mazuri se pynappels “anders” nie, sê Cobus. Tog is daar iets wat Hluhluwe se pynappels uniek maak. Volgens hom het die omgewing nie water om mee te besproei nie en geskied die aanplantings dus op droë grond. “Maar die subtropiese klimaat bring daagliks ’n ooste- of noordwestewind wat vog van die see af waai en die doupersentasie verhoog. Ja, reën is nodig, maar ons het al in ons droogste tye rekordoeste afgehaal … en dís wat Hluhluwe anders maak.”

Mazuri oes hoofsaaklik die Queen Victoria-pynappel met sy unieke geur wat verskil van die reuse-Cayenne-pynappel. Behalwe die lewering van vars pynappels landwyd is Mazuri ook bekend vir sy unieke Mazuri Pineapple Cider Vinegar, of pynappelasyn, wat uit die pynappelkern en -stingel onttrek word. Dit word vervaardig wanneer pynappelsap deur ’n spesiale fermentasieproses gesit en dan verouder word. Dit is die enigste vrug wat die ensiem bromalien bevat – wat proteïen afbreek en bekend is vir sy helende, anti-inflammatoriese en immuunversterkingseienskappe. Dit word gebruik in die behandeling van artritis en osteoartritis, gewrigspyn, spysvertering- en absorpsieprobleme, outo-immuunsiektes, hartkwale, allergieë, asma, boonstelugweg-infeksies en kanker. Anders as appelasyn kan pynappelasyn skoon gedrink word, gewoonlik saam met ’n skyfie suurlemoen of in tee. “Die mediese voordele is enorm,” vertel Cobus. 

Nog ʼn besonderse faset van die Mazuri-onderneming is Zululand Distillers. Dis onder hierdie handelsmerk wat Cobus Oosthuizen jr pynappeljenewer en -brandewyn vervaardig. Die idee hiervoor het begin toe Cobus sr. op ’n dag ’n ornamentele stookketel in Pelgrimrus gesien het, en terug op die plaas besef het dat die sap onttrek en benut kan word van die substandaard-pynappels wat as beestevoer gebruik word. 

Van die sowat 2 000 liter wat hulle deesdae lewer, word Zululand Amber Gin, Zululand Clear Gin en Zululand Brandy vervaardig. “Distillasie is nie glanswerk nie,” herinner Cobus jr. jou. “Dis harde, tydsame werk. Om dit te kan doen, moet jy jou huiswerk goed doen. Vir ons is hierdie produkte ’n bybedryf, maar iemand wat net brandewyn of jenewer wil maak, moet in die eerste plek sorg dat hy weet of hy ’n mark gaan hê, of hy die ruimte daarvoor het en of hy ’n lisensie gaan kry. My raad is dat jy klein moet begin en nooit te groot ontwikkel nie.”

Suid-Afrikaanse boere is van die mededeelsaamste mense van wie hy weet, het Cobus sr. se jare in die landboubedryf hom geleer. “Bitter min sal hul rug op jou draai as jy hulp soek. Daar is duisende boere wat jou sal help as jy met ’n besigheidsplan na hulle gaan en hulle vra of hulle ’n stukkie grond aan jou kan verhuur. Vir enige entrepreneur sê ek: Doen jou huiswerk, sit jou álles daarin, jou hart, siel en tyd. As jy jou huiswerk doen, gáán jy suksesvol wees. En kyk altyd op na Bo.”

Besoek mazuri.co.za en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel.