Dwarsoor die wêreld is daar ’n aansienlik groeiende vraag na kelp, oftewel seewier, aangesien dit vir ’n verskeidenheid van gebruike aangewend word: van voedsel, voedselaanvullings en voedingsmiddels tot kunsmis, tekstiele, bioplastiek en biobrandstof.
Daarbenewens is daar ook toenemende belangstelling in bioraffinaderye en in die potensiaal van kelp om omgeskakel te word tot talle ander ekonomiese produkte wat kan bydra tot die vermindering van ons koolstofvoetspoor. In Suid-Afrika is die kelpbedryf egter nog relatief onontgin.
Om jou ’n idee te gee … ons land produseer tans so 10 000 ton kelp per jaar. Dit verteenwoordig slegs 3% van die kelp wat wêreldwyd in die see geoes word en slegs 0.1% van alle kelp wat beide wild geoes en deur middel van akwakultuur gekweek word.
Daar is twee tipes kelp wat hoofsaaklik in Suid-Afrika gebruik word, naamlik die Ecklonia maxima en die Laminaria pallida (in ’n mindere mate) en drie spesies rooi seewier van die genus Gelidium en Gracilariopsis. Dan is daar ook ’n groen seewier genaamd Ulva armoricana. Klik gerus hier om te sien waar kelp oral wild in ons land groei en waarvoor dit alles aangewend word.
Een van die redes waarom daar plaaslik so min kelp geproduseer word, kan dalk wees omdat ons die wonderwerking daarvan relatief onlangs ontdek het. Dit was eers hier in die 1970’s dat die belangstelling in kelp in Suid-Afrika begin opvlam het, en sedertdien word dit meestal gebruik vir perlemoenvoer en verwerking tot landbouprodukte.
Nisboere het onlangs ’n draai in Port Nolloth gemaak om die kelpbedryf van nader te beskou. Hier het ons uitgevind dat seewier gewoonlik deur middel van een van drie metodes geoes word. Dit word óf met die hand gesny, óf met die hand versamel óf meganies geoes. Die handsny- en versamelmetode vind dikwels ook vanuit ’n boot plaas.
In laasgenoemde geval word dit vanuit die boot gehark en gebaal, sodat dit makliker na die kus gesleep kan word. Om oorbenutting van ons oseane te voorkom, word die oes van kelp deur die Departement Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkelling gereguleer. Klik hier vir ’n volledige gids oor die verantwoordelike oes van kelp en hoe jy te werk moet gaan om ’n permit te bekom, sou jy daarin belangstel om ’n kelpboer te word.
Ná Port Nolloth het ons Agri Technovation in Wellington besoek waar ons meer geleer het oor die belangrike rol wat kelp in die landbou speel. Kelp is ’n natuurlike mikro-voedingstof waarna ons in die landbou as ’n biostimulant verwys. As biostimulant het kelp die vermoë om grondbakterieë te stimuleer, wat dit natuurlik ideaal maak om kunsmis te verryk.
Kelpverrykte produkte word ook op gewasse aangewend, wat ’n hele reeks voordele inhou. Dit bied die gewasse toegang tot addisionele voedingstowwe en brei die wortelhaaroppervlak uit wat die opname van water en voedingstowwe verder verbeter. Dít bevorder op sý beurt weer wortelgroei en verminder abiotiese stres.
Wanneer dit tydens wortelspoeling toegedien word, net voor die gewasse blom, verbeter dit die knopbreek en veroorsaak dat die gewasse kragtiger blom. Dit word ook baie vinnig opgeneem as blaarvoeding of om die grond te deurdrenk.
Om uit te vind hoe Agri Technovation se kelpprodukte kan help om jou oeste te verbeter, e-pos gerus info@laeveld.co.za vandag en reël dat hul gekwalifiseerde landboukundiges jou kom besoek. Hulle sal jou gewasse noukeurig bestudeer en grondmonsters neem vir ontleding, waarna spesialisaanbevelings gemaak sal word.
Laeveld Agrochem het ook ’n passie vir nisboere, en sou jy op enige skaal met kelp wou begin boer, is dit nét die regte mentors wat jy aan jou sy wil hê. Vir meer inligting besoek www.laeveld.co.za.