DINK GRÓÓT

Uitspan: Kreatiwiteit en innovering wat volhoubaarheid skep

As daar één ding is waarvoor Neil en Lisa Murray van die plaas Uitspan in die Klein-Karoo nie bang is nie, is dit verandering. Sedert hulle 16 jaar gelede dié plaas van 136 hektaar naby die nedersetting Buffelsdrift, sowat 30 kilometer van Ladismith, gekoop het, het hulle hul eie stempel op die eiendom afgedruk.

Uitspan, wat geleë is bykans 7 kilometer van die gewilde R62-roete, op pad na die mooi dorpie Barrydale, het in hierdie betreklik kort tydjie nie net verander van ’n wynplaas in ’n olyf-en-artisjokplaas nie, maar ook in ’n uitsoek-gasteplaas waar toeriste in die keurig gerestoureerde geboue kan kom uitspan as hulle na egte Karoostilte wil wegbreek. Lisa erken ruiterlik dat dit hierdie afgeleë omgewing se spel van lig is wat haar en Neil met die intrapslag aangegryp het. 

Daarom wil hulle graag hul goed versorgde eiendom moontlik in die toekoms verder ontwikkel tot ’n kunstenaarsresidensie waar mense hul skeppendheid kan herontdek.

Die eerste keer toe hulle die eiendom besigtig het, was dit die olyfbome wat onmiddellik Neil se aandag getrek het. Lisa vertel wat vir háár uitgestaan het, was die ou geboue … ongerestoureer, selfs effe verwaarloos. Maar juis hierin het die aantrekkingskrag vir haar gelê, want dit het haar toegelaat om haar eie restourasie-kreatiwiteit uit te leef.

Vandag spog Uitspan met drie smaakvolle selfsorggastehuise met name soos The Manor House, The Barn en die Koppie Cottage – ook ’n kunsateljee vir dié wat van die R62 wil afdraai vir rus, stilte en die Karoo-sterrehemel, met ’n uitsig op die manjifieke Swartbergreeks. Neil en Lisa bied gaste ook die geleentheid om meer te leer oor volhoubare boerderymetodes of om sommer net die omgewing deur middel van mooi natuurpaadjies en bergfietsroetes te verken. Tydens dié uitstappies sal dit nie vreemd wees om soms sebras en rooihartbeeste naby die grensdraad met omliggende plase op te merk nie. Selfs oorblyfsels van ou klipmure, vermoedelik die handewerk van die Khoi, is oral in die veld te sien.

Om dit alles geldelik aan die gang te hou, is harde werk nodig, vertel Neil. Hoewel die toerisme-benadering vir seker lonend is, is dit hoogstens ’n welkome ekstra – die Murrays se ware inkomste lê in die verbouing en verwerking van olywe en artisjokke.

As egpaar vorm Neil en Lisa ’n gedugte span, omdat hulle dieselfde benadering het wat die opbou van hul plaas betref, ook ten opsigte van hul boerderybenadering. Terwyl Lisa die meer kreatiewe lid van die tweemanskap is, is Neil die een wat prakties dink. Saam het hulle egter ’n geleentheid aangegryp en omskep in ’n uitsonderlike landbou-onderneming wat spreek van goeie bestuur en ’n gedeelde toekomsvisie. Om nuwe dinge op die proef te stel, gee energie en lewensblyheid, is hul houding.

“Dit was ’n groot besluit om hier te koop,” vertel Neil. “Wat ’n reis was nie dit tot hier nie! Ons het baie geleer. Ons is ook dikwels gedwing om nederig te wees.”

Lisa stem saam. “Ons het ingevaar en aangepak wat vir ander mense vreesaanjaend sou wees, waar hulle dalk selfs versigtiger sou wees. Maar ons het elkeen ons eie doelwit gehad.” Vir Neil was dit olyfverbouing; vir Lisa die opknap van die verwaarloosde geboue, naamlik die woonhuis, die ou skuur en die melkstal, met die destydse varkhok wat deesdae ’n stylvolle kunsateljee is.

Die egpaar van wie die Murrays gekoop het, het die plaas hoofsaaklik as ’n bestaansboerdery bedryf. Hulle het die aanvanklike olyfbome aangeplant: Neil het die boorde uitgebrei tot altesaam 3 000 wat in fases aangeplant is. Hulle moes leer hoe om olywe in te maak, olyfolie en bykomende olyfprodukte te vervaardig, en hoe om dit aantreklik te verpak en doeltreffend te bemark.

Die olywe bly vir Lisa ’n groot plesier, vanweë die tientalle gebruike van hierdie vruggie. “Van tafelolywe tot gedroogde, gesoute olywe, tot olyfolie en tapenade … die gebruike is legio. Maar dis ’n taamlik arbeidsintensiewe taak.”

Skaars het hulle hul olyfproduksie op dreef gehad, of Neil “kry ’n blink idee” toe hulle tydens ’n reis in Griekeland sien dat olyfboere daar artisjokplante tussen die bome kweek. Dit was vir hom duidelik dat die twee gewasse goed saamwerk, en dat hy dit dalk op Uitspan sou kon waag. “Ek kon nie help om nogal opgewonde te wees hieroor nie – tot Lisa se groot ontsteltenis. Die uiteinde was dat daar vandag ’n paar duisend artisjokplante op die plaas tussen die olyfbome floreer.”

Neil lag lekker oor sy artisjokplanne. “Natuurlik was dit nou weer ’n groot klomp werk wat ek geskep het … om die gewas te verstaan, te verwerk, te verpak. En, die belangrikste, om ander mense te oortuig om dit te koop. Ek het die aanplanting, verbouing en oes daarvan beskou as mý werk, maar dit het Lisa se werk geword om dit van die hand te sit. Sy het my altyd daaraan herinner dat sy die een is wat élke botteltjie olywe verkoop het en dat sy dieselfde met die artisjokke sou doen.”

Die heel eerste artisjokaanplantings is gedoen nadat Neil erfenissaad aangekoop het by die bekende Livingseeds Heirloom Seeds. “Daarna was dit nie weer nodig om saad te koop nie, want die artisjokplante vervaardig sommer self ’n hele klomp saad. Die sade is lig en waai oral heen, en waar hulle val, kom daar ’n plant op. Aan die einde van ’n seisoen droog so ’n plant heeltemal uit – jy snoei dit dan baie kort en wag tot die volgende seisoen. Hier teen herfs spruit die nuwe klein plantjies vanself uit en voor die middel van die winter staan hulle weer in volle grootte. Hulle begin blom in die lente, waarna die vruggies hul verskyning maak. Die dra-tyd duur tussen ses weke en twee maande, wat vir ons ’n groot klomp werk beteken om te oes, verwerk en te verpak.”

Lisa het besluit om Uitspan se artisjokke in Uitspan se ekstrasuiwer olyfolie in te lê en – net soos haar olywe – met mooi etikette af te rond. Dis ’n gewas met talle pluspunte, het hulle algaande uitgevind. Dit sluit in ’n verbeterde spysvertering, lewerondersteuning en moontlik kardiovaskulêre voordele. Dit is ryk aan vesel, vitamiene, proteïne en anti-oksidante wat tot jou algehele gesondheid kan bydra. Dit help met die regulering van jou bloeddruk, asook om jou cholesterolvlakke in toom te hou.

Lisa het die waarde van hierdie mooi plant ten volle aangegryp, en volgens haar “is dit ’n fantastiese plant, met talle gebruike”.

Olywe en artisjokke is ware nisprodukte, bewys Uitspan se bestuurspan – produkte wat ’n gaping vul in ’n mark wat ’n lekkerny ontdek het waarsonder hulle nie meer kan of wil klaarkom nie!

  • Volg @Klein Karoo Guesthouse op sosialemedia. Vir meer inligting, bel 082 569 5557 of skryf aan lisajmurray@vodamail.co.za
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za