Aan die Weskus, tussen Velddrif en St. Helenabaai – so 150 km van Kaapstad – is ’n familieonderneming wat nie net die omgewing inspan om vir húlle te werk nie, maar terselfdertyd ook aan die omgewing teruggee deur werkverskaffing aan die plaaslike gemeenskap en die versekering van hul finansiële welsyn. Nou, 30 jaar later, het Khoisan Trading Co. se eienaars en hul personeel al saam die spreekwoordelike sewe sakke sout opgeëet.
Die bedryf is uniek op verskeie vlakke: Khoisan Sea Salt is die enigste met die hand geoeste, natuurlike, onverfynde seesout in Suid-Afrika wat SABS-gesertifiseerde, eerstegraadse, eetbare seesout, gegeurde seesout, badsout en gips vervaardig wat plaaslik sowel as oorsee versprei word.
Khoisan is in 1994 gevestig nadat die afgetrede Schrauwen-egpaar besef het dié lewensfase bied méér as om net die pragtige sonsondergange oor die Atlantiese Oseaan te waardeer – eerder dat die see ’n onuitputlike bron is waaruit ’n minerale rykdom gehaal kan word tot voordeel van dié entrepreneursgesin sowel as die plaaslike gemeenskap.
Intensiewe navorsing het dit egter voorafgegaan, toe Yntze Schrauwen, met sy ingenieursagtergrond, die loodsprojek vir soutpanne – die Velddrif Salt Works – in 1991 begin het op ’n nabygeleë plaas wat as soutmyn gebruik kan word. Die geluk was aan sy kant, want dié stuk grond is ’n akwifeer, of ondergrondse meer, wat onbesoedelde seewater met ’n unieke, kenmerkende smaak en ekstra kalsium bied. Nog drie jaar se navorsing en beplanning was uiteindelik suksesvol toe die eerste seesoutkristalle geoes is, vertel Elfie Burger, Khoisan se fabrieksbestuurder.
Aanvanklik het Joan Schrauwen die kristalle keurig verpak om in haar kunsgalery op Velddrif te verkoop, wat gelei het tot ’n toenemende vraag. Die gesin het nie op hulle laat wag nie, en Britt Geach, hul dogter, het kunsvlytmarkte en plaasstalletjies as nuwe afsetgebied begin benut. Die volgende noodwendige stap was die kleinhandel.
Die bal was aan die rol, en gewone en gegeurde seesout was die volgende op die produksielys. “Joan en Britt het besluit dis beter om ’n bietjie kleur by die sout te voeg, saam met plaaslike kruie en speserye vir verskillende smake,” vertel Elfie.
Nog produkte van die omgewing was seewier, wildedagga, boegoe en sitroengras wat bygevoeg kon word – en onmiddellik gewild was. Uiteindelik is op sewe bykomende geure besluit, volgens haar man, Jannie Burger.
“Dit is nou bo en behalwe die wit sout wat ons by die klein pannetjies ontgin; waar ons water ondergronds inpomp en waar sout dan vorm deur ’n proses van verdamping deur wind en son.”
Die sout vorm eers vlokkies op die wateroppervlak, oftewel “Fleur De Sel”, vertel Jannie. “Dan, saans, wanneer die temperatuur daal, sak die vlokkies na die bodem en word die volgende oggend uitgeskep. Daarna word dit vir twee dae gedroog, skoongemaak en vir die uitvoermark verpak.”
Die res van die sout wat in die pan agterbly, word bymekaargevee ná ’n 24-uur-tydperk. “Ons noem dit ons ‘eerste oes’. En dit is tans Khoisan se grootste uitvoerproduk.”
In die fabriek is daar weer ’n bedrywigheid van ’n ander aard. “Wanneer die sout inkom, word dit na die droogdrom gestuur, waar dit dan met die hand in ’n droogtoestel geskep word vir ekstra droogheid. Daarna gaan dit na die sifmasjien.”
’n Unieke eienskap van Khoisan is juis dat alles met die hand gedoen word, van die sifting en sortering van die korrels van verskillende groottes vir uiteenlopende versoeke en behoeftes, tot die verpakking daarvan omdat die produk so delikaat is.
Volgens Elfie verskil bestellings, en afhangende hiervan hanteer ’n groep plaaslike vroue die sout sodat alle klein stukkies organiese materiaal verwyder word. “Vir ons is dit belangrik om alles só te doen … ons maak byvoorbeeld van geen chemikalieë gebruik om die sout wit te maak nie.”
Jannie vertel dat Khoisan se afsetgebied veral plaaslike groothandelmaatskappye is wat dit herverpak, maar ook vir maatskappye wat speserye vervaardig. Plaaslik is daar wel kleiner individuele maatskappye wat miskien ’n ton per jaar sal aankoop. “Uitvoermarkte is groot maatskappye in Italië, Amerika, Oostenryk en Australië. Khoisan se doelwit is om oor ’n paar jaar net uit te voer.”
Benewens die fabriek se 13 permanente werkers, maak Khoisan ruimskoots gebruik van seisoenswerkers uit die gemeenskap, veral in die somermaande wanneer die bestellings instroom. “Die plaaslike mense ken die fabriek, baie het al hier gewerk en is ervare. Dis in die somer dat daar meer sout geoes en verpak word. Ons maak juis gebruik van werkers uit die gemeenskap wat hul visvangpermitte verloor en ’n alternatiewe manier van inkomste gesoek het.”
Dis egter nie net by salarisuitbetalings dat Khoisan ’n rol in hul lewe speel nie. Die onderneming staan hulle by met die verkryging van mediese sorg, wat oogtoetse insluit, so ook rybewyse en leerlingrybewyse, die vaardigheid om toerusting soos vurkhysers te leer bestuur, en algemene hulp om hul leefstyl te verbeter.
Khoisan as onderneming lê nie net klem daarop dat hul produk uniek is en op ’n unieke wyse geoes, behandel, verpak en versprei word nie, “maar ons grootste aanwins is ons personeel – mense wat hard werk. Sonder hulle sal ons nie hierdie pragtige produk op die tafel kan sit nie en sal ons dit nie met trots na ons oorsese markte kan stuur nie,” meen Elfie.
Die belangrikste eienskap, wat geld vir eienaars, bestuur en werkers, is harde werk, volgens Jannie. “Wat ek op die harde manier geleer het, is … daag op – wees daar, gee die eerste tree. As jy nie eens probeer nie, het jy klaar gefaal. Ons het baie toetse hier gedoen, dikwels misluk, opgestaan, weer probeer, vrae gevra. Ons is eerlik met onsself.”
Besoek khoisansalt.co.za en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel.