Uitsoekvrugte vir ’n uitsoekmark
Granate en turksvye … ongewone, eksotiese vrugte wat ’n al hoe groter gaping in die mark vul vanweë hul besonderse geur en gesondheidseienskappe.
Ubali Pomegranate Farm, in die hartjie van die pragtige Seringveld-bewaringsgebied tussen Pretoria en Cullinan, het die voortreflikheid én bemarkbaarheid van hierdie twee vrugte ingesien en oor jare nie net ’n volhoubare landbousaak opgebou nie, maar ook ’n gewilde kuier-en-onthaalplek gevestig.
Louis Swanepoel was die een wat aanvanklik met ’n granaatboerdery begin het toe hy ’n toetsblok aangeplant het om te kyk of die bome goed hier sal aard. Die oomblik toe hy sien dit wérk, het hy sy aanplantings geleidelik vermeerder. Nou is Ubali se granaatbome oral in aanvraag vanweë hul goeie gehalte.
“Dis hoe dit alles begin het,” vertel sy vennoot, Kobus van Zyl. “Ek het by Louis op die plaas aangesluit en die boerdery na turksvye begin uitbrei.” Dit het natuurlik eers ná deeglike marknavorsing gebeur.
Die spesifieke kenmerke van albei vrugtebome maak dit ideaal vir hierdie omgewing. Hulle is gehard en die klimaat is nommerpas. Kobus vertel die fokus op die groeiende belangstelling in granate en turksvye in die media as ’n kommersiële en winsgewende landbouproduk, saam met die ideale weersomstandighede vir albei plante, was die grondslag vir hul sakebesluite.
Die granaat (Punica granatum) is ’n bladwisselende struik of kleinerige boompie wat tussen 5 en 8 m hoog kan word, en in die Suidelike Halfrond van Maart tot Mei vrugte dra. Die oorsprong daarvan is Iran en die noorde van Indië, en dit word al sedert antieke tye ook aan die Middellandse See verbou. Daarna het Suid-Amerika en Kalifornië dit begin aanplant en die Suid-Afrikaanse kommersiële bedryf het hier rondom die 2000’s begin toe ’n paar boompies uit Israel ingevoer en eers hoofsaaklik in die Wes-Kaap aangeplant is.
Die turksvy (Opuntia tuna), ’n plant in die kaktusfamilie Cactaceae, is van Suid-Amerika af na Suid-Afrika gebring. Terwyl daar mense is wat dit as ’n pes en omgewingsbedreiging beskou, sien Ubali dit as ’n uitsoekplant wat in beheerde omstandighede ’n ewe groot aanwins is vir hul boerdery as die granate.
Die turksvykultivars Morado en Algerian is waarin Ubali spesialiseer: Morado omdat die dorinkies min is en Algerian as gevolg van sy aantreklike, pienkerige kleur. Albei spog met ’n eksotiese, blomagtige smaak. Die ongeskilde vrugte kan tot twee weke in koelkamers gehou word, terwyl die geskilde vrugte weke lank in die yskas kan bly sonder dat hulle hul geur verloor. Nie net die vrugte nie, maar ook die blare (blaaie), stamme en blomme is eetbaar.
Kobus en Louis het die turksvyboerdery aangepak eers toe hulle die granaatverbouing goed onder die knie gehad het. “Die belangrikste vir ’n granaatboerdery is om jou grondgehalte in ag te neem. Dis ’n plant wat hou van goeie, dreineerbare grond met ’n pH van tussen 5 en 5,7. Dit aard glad nie in kleigrond nie. Aanvanklik, net ná aanplanting, moet die jong boompies genoeg water kry totdat hulle gevestig is. Ons gebruik drupbesproeiing op die plante. Hulle kry dwarsdeur die somer water; in die winter glad nie.”
’n Pieperige plant is dit allermins, vertel Kobus. “Granate floreer in uiterste toestande, soos ’n lekker warm somer en ’n ysige winter. Ons het al met ’n hele paar kultivars geëksperimenteer, maar het uiteindelik op Wonderful besluit. Dis die een wat die gewildste is in die mark. Dié plant is gehard, sonder fieterjasies, en gee ’n lekker groot, rooi vrug.”
Die gevestigde bome op die plaas dien as die moederstokplante waarvan die Ubali-span steggies maak. “Ons laat die steggies eers in die grond wortel skiet, sit dit dan oor in kwekerysakkies en verkoop die een jaar oue boompies aan belangstellendes of aan ander boere. Ons het gevind dat jaaroud boompies beter in die grond vat. Dit beteken dat hulle binne twee jaar daarna hul eerste vrugte kan dra. Ná so vier jaar sal jy jou eerste oes van daardie bome kan afhaal.”
Louis en Kobus se navorsing het getoon dat turksvye ewe goed in dié streek aard, en – net soos granate – ’n toenemende gaping in die mark vul.
Oor die gesondheidsvoordele van albei vrugte kan Kobus nie uitgepraat raak nie. Die granaat word reeds as ’n superkos beskou vanweë sy anti-inflammatoriese eienskappe. Dit het ook ’n hoë vesel-, vitamien- en mineraalinhoud. Die vrugte, blomme, wortels en blare van granate bevat chemikalieë wat gebruik word vir die behandeling van ’n hele klomp siektetoestande. Die antioksidante daarin bied beskerming vir jou hart, niere en ingewande, veral die dikderm. Voorts speel dit ’n rol in die voorkoming van Alzheimer- en Parkinsonsiekte, sowel as sekere tipes kanker.
Navorsing toon dat turksvye weer eienskappe het vir die behandeling van diabetes, hoë cholesterol, vetsug en selfs babelaas! Die antivirale en anti-inflammatoriese eienskappe is ook bekend. Kobus vertel dat turksvysap eweneens ’n hoë vitamien C-inhoud het, “en die pitte word gebruik vir die vervaardiging van pitolie wat in sommige skoonheidsmiddels en medisynes gebruik word”.
Die grootste lekkerte is egter die neweprodukte van dié twee vrugte … jy kry kwalik lekkerder sap, konfyte, blatjangs en balsamiese asyn.
“Ons het besluit ons wil Ubali omskep in ’n bestemming vir die publiek, een waar jy kan kom uitspan en kuier … nie net om ons produkte te leer ken nie, maar omdat dit so mooi is hier. Ons hou om hierdie rede ook nou feeste op die plaas. Die eerste een van die jaar is die turksvyfees in Januarie; daarna die granaatfees in die laaste twee naweke van Maart waar ons die granaat en sy produkte voluit bevorder,” vertel Kobus.
“Op hierdie manier voeg ons waarde toe aan ons pragtige plaas, want ons bied dwarsdeur die jaar iets aan, selfs buite die vrugteseisoen.”
Aan skeppende planne ontbreek dit Louis en Kobus glad nie. Tydens die eerste naweek van elke maand hou Umbali ’n opedag wanneer die publiek sommer net lekker op die plaas kan kom kuier. “Dan kan jy lekker hier in die tuin sit en ontspan. Ons het ’n staproete van 5 km aangelê, en ons bedien kos en drankies wat gemaak is van hierdie twee mooi en heerlike produkte. Vir stedelinge is dit ’n welkome wegbreekgeleentheid.”
Ubali se skoonheid het dit ook ’n gesogte bestemming gemaak vir troues en verjaardagpartytjies. “Ons reël elke maand ’n langtafel waar ons in die plaaswinkel ’n ete voorsit wat deur ’n sjef berei word. Die groot doel is dat ons gaste op allerlei manier wil lok en trakteer sodat hulle die waarde van hierdie twee wondervrugte kan besef en terselfdertyd sien wat ons alles hier uitrig.”
Ubali boer beslis vorentoe, sê hy. “Daar word dikwels na ’n granaat as ’n supervrug verwys, en nou kom ons agter die vraag na die sap groei sterk.”
Turksvye begin al hoe meer in daardie kategorie val en is, net soos granate, ’n uitsoekproduk vir ’n uitsoekmark.
- Volg @Ubali Farm op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.ubali.co.za; bel Louis by 079 213 2784 en Kobus by 082 920 2038. Of skryf aan louis@ubali.co.za
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za