Veilige stadstuistes vir ’n bedreigde spesie
Nie almal van ons kan boere of natuurbewaarders wees nie. Maar ons almal kan ’n positiewe bydrae tot die bewaring van die natuur lewer deur ’n deeltjie van ons woonplek beskikbaar te stel om bye – een van die mees bedreigde insektespesies – in stand te hou.
As jy wil weet hóé, maak ’n draai op die webtuiste van die onderneming Tutus Loco waar die mooi en terselfdertyd doeltreffende byehuisies oftewel byehotelle te koop aangebied word, spesiaal ontwerp en vervaardig vir sogenaamde “eensame” bye.
Kim Porteous van dié onderneming in Irene, Pretoria, vertel dat die bewaring van bye en die natuur presies is waartoe haar pa, wyle Peter Webb, hom nege jaar gelede verbind het toe hy meer te wete gekom het oor alleen- of enkelbye. Hy het byehuisvestings uit hout en bamboes begin vervaardig om hulle veilig in stadsomgewings te huisves.
“Op ’n reis na die Kalahari het my pa by ’n kundige op hierdie gebied, dr Connal Eardley, verneem dat 90% van alle byespesies ter wêreld uit eensame oftewel enkelbye bestaan – en dat dit juis hierdie alleenbye is wat die meeste bedreig word. Die werklikheid is dat byediversiteit besig is om te verdwyn, grootliks weens habitatverlies. Pa was een van die grootste natuurliefhebbers wat ek geken het – hy was ook mal oor skoenlappers, goggas en spinnekoppe. Op hierdie reis saam met dr Eardley het sy passie vir die bewaring van enkelbye ontstaan. Hy was verskriklik opgewonde daaroor om tuistes aan hulle te verskaf.”
Dié inligting het hom en sy vrou, Laurie, verdere navorsing laat doen oor huisvesting vir hierdie alleenlopers. Die Webbs kon uiteindelik begin met die vervaardiging van byetuistes, wat hulle “byehotelle” genoem het. Hul sukses was aanvanklik net gedeeltelik, maar van tou opgooi was daar nie sprake nie.
Dié innoverende en mooi gevormde houtblokkies waarin gaatjies van verskillende groottes vir bye van verskillende groottes geboor word, boots dié insekte se natuurlike broeiplekke na en bied dus aan hulle tuistes in digbeboude, onvriendelike stadsomgewings.
Toenemende sukses met hul projek het toenemende belangstelling aangewakker, en in 2016 is die maatskappy Tutus Loco gebore. Die egpaar het dit voltyds begin bedryf.
Kim vertel dat haar pa in 2022 aan kanker gesterf het, maar dat sy, haar ma en broer die projek voortgesit het, “ter ere aan ons pa, om sy nalatenskap te bewaar”. Hierdie klein gesinsonderneming gaan vandag van krag tot krag, met Laurie aan die stuur van vervaardiging, Kim wat in beheer is van administrasie, verkope en sosialemedia, en haar broer, ’n fotograaf, wat hul projek en die bewaring van bye kleurvol en treffend deur natuurfotografie vasvang.
“Byehotelle bied beskerming en veilige skuilings aan hierdie belangrike bestuiwers. Die belangstelling is groot, want dit is ook interessant om só meer te leer oor byeaktiwiteite en byegewoontes.
“In Suid-Afrika is daar meer as 1 200 verskillende soorte bye, maar die meeste mense is eintlik net van die heuningby bewus. Hulle besef nie dat daar 1 199 ander spesies is wat ook woonplekke nodig het nie. Sowat die helfte van hierdie bye woon op die grond; die ander helfte woon in gaatjies in dooie hout. Byehotelle word só vervaardig dat die groter gaatjies heelbo is, wat dan geleidelik na onder kleiner word … dus, verskillende groottes gaatjies vir bye van verskillende groottes.”
Die interessantheid wat ’n byehotel dan aan jou tuin bied, is dat ’n hele klomp verskillende bye hulle daar in net één hotel kan tuismaak, na gelang van die grootte van die woonplek wat hulle nodig het, vertel Kim. “Hulle beweeg in omdat hulle nie ’n ander tuiste het nie.”
Om huisvesting deur Tutus Loco se byehotelle te verskaf is egter nie die finale antwoord nie, sê sy. “Dit is nie die hele oplossing vir die bewaring van bye nie – jy sal ook kos aan hulle moet verskaf, want hulle moet dwarsdeur die jaar eet. Dis waarom ons mense aanmoedig om inheemse plante aan te plant wat op verskillende tye van die jaar blom sodat daar heeljaar deur kos beskikbaar is.”
Nog ’n voorwaarde is dat daar in die omgewing van so ’n byehotel in jou tuin geen plaag- of insekdoders op plante moet wees nie, sê sy. “Deur biodiversiteit in jou tuin aan te help, dra jy daartoe by om ’n gebalanseerde ekosisteem te skep wat weer sorg dat jou plante gesonder is, beter groei en beter voortplant. Natuurlik veroorsaak dit ook dat jy minder plaagdoders hoef te gebruik!”
Die heuning-sommelier Natasha Lyon sluit by Kim aan wanneer sy op die belangrikheid van die bewaring van álle bye wys. “Daar is wêreldwyd sowat 22 000 soorte bye,” sê sy. “Die interessantheid van bye is dat hulle almal saamwerk, van heuningbye tot eensame bye – daar is eenheid in diversiteit. Oral ter wêreld word die belangrikheid van bye vir alle gewasse erken, nie net vir vrugte en groente nie.
“Ek noem so ’n byehotel ’n gratis Air B&B vir bye – hulle trek net in en bring stukkies modder en stukkies blare na hul gekose gaatjies. Dis werklik ’n produk wat opvoed. Sit dit op jou stoep, in jou tuin, op skoolterreine … en onthou om inheems te plant om hierdie bye die beste kans te gee vir oorlewing.”
Kim se raad aan entrepreneurs wat op die een of ander omgewingsgebied betrokke wil raak, is om al jou moed bymekaar te skraap en net te begin. “Dóén dit net!”
“Wees bereid om te misluk, wees bereid om weer te probeer. Dit is waarskynlik die sleutel tot Tutus Loco se sukses. Ons eerste byehotel het baie anders gelyk as vandag s’n. Ons het agt jaar gelede maar min geweet oor enkelbye. Met die verloop van tyd het ons ons kennis uitgebrei. Ons kan vandag sê dat ons verbind is met ’n hele netwerk kundiges en belangstellendes. So ’n netwerk is baie belangrik vir klein entrepreneurs, want ’n uitruiling van kennis kan voortdurend plaasvind. Natasha is een van ons belangrikste betrokkenes, met haar enorme kennis van bye en van heuning.”
Niks kom vanself vir kleinsake-eienaars nie, sê sy. “Harde werk en toewyding, om nooit op te gee nie, is van die belangrikste faktore.”
- Volg @Tutus Loco op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.beehotels.co.za, skryf aan hello@beehotels.co.za of bel 072 621 2434.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za