Wayne Mansfield het as kind saam met sy ouers vrugte gesmous om sakgeld te verdien. Omdat dit iets was wat hy goed geken het, het hy as jong volwassene aanvanklik dieselfde roete gevolg om homself aan die lewe te hou.
Nou, sewe jaar later, is hy ’n volwaardige kommersiële suurlemoenboer met ’n storie wat ’n hele nuwe betekenis gee aan dié gesegde wanneer die lewe jou suurlemoene gee, maak limonade. Terwyl hy sό met vrugte gesmous het, het Wayne opgemerk dat daar ’n groot vraag na suurlemoene is en kort voor lank het hy ’n stukkie grond gehuur en self daarmee begin boer.
Wayne bieg dat hy aan die begin bitter min van suurlemoenboerdery af geweet het, maar met ’n helpende hand of twee het hy uiteindelik die onmoontlike vermag. Vandag produseer hy sowat 400 ton suurlemoene op sy 12ha-familieplaas, genaamd Fruitfield Farming in die Paarl in die Wes-Kaap, waarvan 90% uitgevoer en die res aan die plaaslike mark verskaf word.
Een van sy helpende hande is die Wes-Kaapse Departement Landbou wat hom bystaan met die bedryfsaspekte van die boerdery en hom die geleentheid bied vir mentorskap deur meer ervare boere. ’n Kritieke aspek van so ’n boerdery is om die regte kunsmis en agrochemikalieë te gebruik om die meeste uit jou oeste te haal en plae te beheer.
Om dié rede werk Wayne baie nou saam met landboukundiges van Laeveld Agrochem wat sy plaas weekliks besoek om sy grond en gewasse te bestudeer en aanbevelings te maak. Hy glo egter een van die heel belangrikste komponente wat enige opkomende boer in aanmerking moet neem, is volwaardige kennis van die mark.
“Jy moet presies verstaan wat jou mark werklik wil hê, sodat jy daarvolgens kan beplan en verskaf,” sê hy.
So gepraat daarvan … hoe lyk die suurlemoenmark nou eintlik, en is daar potensiaal vir nόg suurlemoenboere om tot dié mark toe te tree? Wel, om jou ’n idee te gee, Suid-Afrika is tans een van die top vier uitvoerders van suurlemoene en lemmetjies ter wêreld.
Buiten dat ons so 40% van die wêreld se uitvoergetalle produseer, dui alles daarop dat dié mark net verder sal groei. Volgens Amerika se Landboudiens van die Departement Buitelandse Sake sal Suid-Afrika byvoorbeeld teen die einde van die huidige seisoen reeds sowat 7% méér suurlemoene en lemmetjies geproduseer het as in die vorige seisoen.
Dié merkwaardige groei word verder weerspieël deur die hoeveelheid grond in ons land wat tans met suurlemoene en lemmetjies beplant is, wat drievoudig gegroei het oor die laaste 10 jaar. Op die oomblik produseer die Oos-Kaap die meeste van ons suurlemoene en lemmetjies (42%), gevolg deur Limpopo (31%) en dan die Wes-Kaap (14%).
Indien die gogga jou nou al gebyt het en jy dit oorweeg om met suurlemoene te begin boer, neem in aanmerking dat dit glad nie nodig is om aanvanklik groot risiko’s te loop wat jou dalk suur kan bekom nie. Inteendeel, die meeste nisboere begin eers op ’n klein skaal en brei dan stelselmatig uit; jy kan dus sommer begin deur boompies in houers of in jou agterplaas te plant.
Kyk gerus na hierdie oulike artikel wat jou wys presies hoe: https://www.gardenandhome.co.za/gardening/kitchen-gardening/growing-lemons/. Indien jy egter gereed is om nes Wayne by die diep kant in te spring en dadelik op ’n groter skaal met suurlemoene te begin boer, kontak Laeveld Agrochem gerus om uit te vind hoe hul landboukundiges jou lewe aansienlik makliker kan maak. Vir meer inligting, besoek: www.laeveld.co.za.
Volg @Nisboere op Facebook om so elke nou en dan by ander nisboere kers op te steek of selfs jou eie storie te deel.