SPEKBOOM … eens onderskat, deesdae ’n staatmaker
Veelsydigheid, gehardheid en skoonheid … en eg Suid-Afrikaans!
Al hierdie eienskappe van die spekboom (Portulacaria afra) het oor baie jare bygedra dat dié vetplant as ’n wonderplant bekend staan. So algemeen groei dit al eeue lank in veral die halfwoestynagtige Karoo, die Oos-Kaap en die Bosveld, dat die meeste mense sy waarde vir die natuur, mens en dier onderskat het.
Totdat plantkundiges se navorsing die afgelope jare die plant se positiewe eienskappe begin uitwys het. Tuinontwerpers huldig die spekboom se rol in waterwys tuine – as sierplant en as gedugte heiningplant, een wat deur die kleinste steggie sonder sukkel in ’n plantpot of in die oop grond sal wortel skiet en in die lente pragtige trosse pienk blommetjies dra wat bye na jou tuin sal lok. Al hoe meer koskenners en kookkunsentoesiaste het die spekboom se geurige en interessante bydrae tot geregte ontdek. Daarby is die medisinale waarde daarvan al hóé lank bekend.
Die spekboom – ook genoem spekbos of olifantkos – kan tereg as een van Suid-Afrika se staatmakerplante beskou word. Dit is immergroen, word ongeveer 2,5 m hoog en die stam, wat tot 20 cm dik word, het ’n kurkagtige voorkoms. Die blare is heldergroen, vlesig en eiervormig – en dis in hierdie blaartjies dat die groot aantrekkingskrag én waarde lê.
Mardi Botha van Johannesburg het haar bewondering vir dié plant ’n stap verder geneem. Vier jaar gelede het sy The Spekboom Co op die been gebring, ’n onderneming wat spekboom as basis gebruik vir smaakmiddels en kruie, vir skoonheidsmiddels asook vir velsorgprodukte.
“Ons ken die spekboom al jare lank, voordat dit ’n modeding geword het. Dis egter in 2020 dat ons daarmee begin eksperimenteer het. Ons het geweet mense en diere kan dit eet.”
Die naam “olifantskos” is juis aan die plant gegee omdat die sappige blaartjies vir dié diere ’n stapelvoedsel is waarvan hulle soms tot 200 kg per dag verorber.
Hoe beter Mardi die plant leer ken het, hoe duideliker het sy interessante moontlikhede vir haar geword. Die uiteinde was dat The Spekboom Co in 2020 gestig is, aanvanklik met ’n aanbod van drie deli-produkte. Al vier jaar lank gaan dit jaar ná jaar van krag tot krag – ’n maatskappy wat nie net interne groei toon nie, maar deesdae ook die gemeenskap betrek en in sy sukses laat deel.
“Die plant het my nog altyd gefassineer,” vertel sy. “Eers was dit net vir my mooi. Ons het dit vir heinings en in tuine begin aanplant … met landskapsargitektuur geïnkorporeer. Dit maak ’n tuin werklik pragtig: Dit was sy eerste aantrekkingskrag vir my.”
Wat spekboom – sommige mense praat van “spekbos” vanweë die vlesigheid van die blare – so gesog maak, is dat dit so maklik is om ’n steggie aan die groei te kry, vertel sy. Jy breek eenvoudig ’n stukkie af, plant die stammetjie, gee dit aanvanklik genoeg water totdat dit wortel skiet … en jou nuwe plantjie kry in ’n relatief kort tydjie lewe.
Mardi sê ons klimaat is nommerpas vir die plant. “Dis inheems, dis waterwys, en dis droogtebestand, selfs siektebestand.” En as dit eers aan die groei is, is daar geen keer nie.
In die veld versprei dit vanself, te oordeel na die plate daarvan teen ruwe, klipperige rotse, soos van die Groot Swartberg in die Karoo. In die felste droogte is dit ’n plant wat vir seker sal oorleef én groen bly.
“Dis ’n regte wonderplantjie,” is Mardi se bevinding.
Al hierdie eienskappe het haar eers aan die dink en toe aan die eksperimenteer gesit: eers met gebruike daarvan in kos, toe in skoonheidsprodukte, daarna in velsorgmiddels. “Ons is baie spesifiek oor watter produkte ons wil vervaardig.”
Op The Spekboom Co se deli-rakke staan daar deesdae onder meer spekboomblatjang, spekboompiekels, spekboomkonfyt, spekboomkruie vir rooivleis sowel as vir hoender, asook ’n spekboomslaaisousmengsel. Al hierdie produkte is MSG- en glutenvry, geskik vir veganiste en vegetariërs, en bevat geen preserveermiddels of kunsmatige byvoegings nie. Aan geregte, souse en smaakmiddels bied dit ’n sweempie van ’n sitrussmaak, vertel sy. Sommige koskenners glo ook dat die tyd van die dag waarop jy jou blaartjies oes, die smaak daarvan bepaal.
“Ons mark vir ons deli-produkte is veral foodies. Die vleisspesery is gewild onder vleisbraaiers en die hoenderspesery is baie lekker selfs op groente – eintlik op enigiets.”
Skoonheids- en velsorgmiddels was vir Mardi ’n noodwendige volgende stap, omdat spekboom al dekades lank ’n vertroude boereraat bied, byvoorbeeld vir branderige insekbyte. Spekboomblaartjies werk helend in op ’n seerplek of insekbyt, en is veral muskietbyte se moses. Branderigheid voel vinnig beter as dit met die sap van spekboomblaartjies in aanraking kom. Dit het antiseptiese eienskappe en is ryk aan vitamien C.”
“Ons het met die gesondheidsaspek van spekboom begin eksperimenteer omdat dit al hierdie wonderlike eienskappe besit.”
Dié kennis het Mardi tot ’n volgende stap laat oorgaan: The Spekboom Co se skoonheidsreeks wat bestaan uit onder meer ’n spekboomskoonheidseep en -lyfroom, ’n vloeibare lyfwasmiddel, sowel as ’n strelende room vir gebruik ná sonbrand.
Mardi is baie presies oor die spekboom-kweekproses. “Die plantjies waarvan die blaartjies vir die deli-produkte gebruik word, word elders onder skadunet gekweek sodat niks en niemand naby dit kan kom nie,” maar vir haar ander produkte knip of sny Mardi en haar werkers die blaartjies in haar eie tuin af.
Die plante word glad nie bespuit nie, en geen kunsmatige middels word toegedien nie. “Ons gebruik vir geen van ons plante enigiets kunsmatigs nie, veral geen insekdoders nie. Ons pas hulle soos goud op.”
Die lekkerte van spekboom is dat dit ’n selfstandige plant is wat die felste toestande met gemak kan trotseer en veerkragtigheid toon, selfs in droogtetoestande.
“Dis baie maklik om te plant en groei sonder sukkel. Ons grootste probleem is die oesproses, want dit is baie arbeidsintensief. Ons dink nog hoe ons dit in die toekoms kan verbeter. Onlangs het ons hande gevat met die Tshepo-gemeenskapsprojek in ons omgewing waar daar reeds groentetuine aangeplant was. Nou het hulle ook vir ons spekbome begin plant. Dis ’n projek wat vir baie mense werk én waardigheid gee. Ons maak van Tshepo se plantjies gebruik net om steggies te maak en nuwe plantjies te kweek. Tshepo kan ook van die plantjies wat ons vir hulle gegee het, sélf plantjies maak en vir eie sak verkoop.”
The Spekboom Co se aanvanklike drie produkte – blatjang, piekel en konfyt – het nie in ’n japtrap ontstaan nie, vertel Mardi. “Die ontwikkeling daarvan was ’n redelik lang proses. Omdat dit ’n plant met vetplanteienskappe is, hou dit baie vog, en gee ook taamlik baie vog af tydens die kookproses. Ons moes ons eie unieke kookprosesse ontwikkel. Neem in ag dat ons geen riglyne gehad het nie, want ons het dinge gedoen wat nog nie voorheen gedoen is nie. Vir ons was dit baanbrekerswerk.”
“Vasbyt” en “vasbeslotenheid” is twee woorde wat Mardi en haar span goed ken … tesame met geloof in hul produk. Daarom was deeglike eksperimentering van die allergrootste belang. “Ons het aanvanklik ’n jaar lank geëksperimenteer en ’n jaar lank ons families aan die deli-produkte laat proe,” lag sy. “Uiteindelik het ons by ons eerste drie produkte uitgekom. Hoewel ons ook met ander produkte geëksperimenteer het, het ons op drie besluit om mee af te skop. Dit was ’n hele proses!”
Die aanloklikste hiervan was vir Mardi dat “ons al hoe meer verlief geraak het op die spekboom, hoe beter ons hom leer ken het. Ons het altyd geweet dat dit goed is vir die omgewing.” Dit is algemeen bekend dat een hektaar spekboom gemiddeld 4,2 ton koolstofdioksied per jaar na suurstof en koolstof omskakel.
“En dis ’n natuurlike produk. Dit het ons aangemoedig om hierdie plant nog méér te omarm en ons produkreeks uit te brei.”
Entrepreneurskap is ’n moeilike, maar hoogs bevredigende loopbaanpad, volgens Mardi. “Uithou en aanhou is wat saak maak … en om nie kortpaaie te vat nie. Jy gaan jou kop stamp, maar as jy ’n produk het waarin jy glo en waaroor jy passievol is, gáán dit werk. Soms gee jy ’n paar treë vorentoe, dan weer ’n paar terug. Dis maar die roete. Die geheim is egter om aan te hou.”
Om ’n ondernemer te wees beteken dat jy sigbaar moet bly, en dit doen Mardi op drie maniere: Eerstens deur die gemeenskapsuitreikprojek, tweedens deur nuwe produkte en uitbreidings vir die toekoms te beplan, en derdens deur haar mark te ken. “Ons wil altyd bly hande vat met die omgewing en betrokke bly by skoolprojekte, veral om heinings te help ontwikkel. Daarby is konstante ontwikkeling van nuwe produkte nodig – ons probeer elke jaar so twee, drie nuwes bekend stel.”
- Volg @The Spekboom Co op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.thespekboomco.co.za; bel Carina by 082 638 3746 of Mardi by 082 657 5454; of skryf aan info@thespekboomco.co.za
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za