Sampioene het Waldo Roux van Plettenbergbaai nog altyd gefassineer – dié fungi wat op so ’n unieke manier groei, en boonop uiters kieskeurig is oor hul groeiomgewing.
Dis juis dié voorkeure wat aanvanklik vir Waldo ’n uitdaging was … om die regte groeiomgewing te vind, of self te skep, en die res aan die natuur oor te laat.
Vandat hy ’n paar jaar gelede uit Pretoria na die Suid-Kaap verhuis het, het dié tydverdryf van hom in ’n volskaalse boerdery ontwikkel, en kan hy deesdae sampioene en sampioenprodukte aan plaaslike verbruikers, winkels en markte verskaf.
Sy onderneming, The Mushroom Guy, is méér as net ’n unieke sampioenplaas – dit het ontwikkel tot ’n leefstylhandelsmerk wat ’n groot reeks interessante produkte te koop aanbied, van vars en droë sampioene en ’n besondere sampioengegeurde wyn tot die verskaffing van draagbare sampioenkweekstelletjies.
Sedert die dae toe hy op ’n kleinerige perseel in Gauteng met die kweek van sampioene geëksperimenteer het, het alles verander: Waldo word nou as ’n voorste kenner en kweker beskou, en The Mushroom Guy het ontwikkel tot ’n volhoubare boerdery wat enersyds vir hom ’n vaste inkomste bied, andersyds die geleentheid om die geheimenisse van die natuur eerstehands te beleef. Met sy aankoms op sy huidige perseel net buite Plettenbergbaai was Waldo dus nie ’n nuweling in die bedryf nie. Die nuwe omgewing het egter sy boerdery tot ’n volgende vlak van sukses geneem.
Hy het nog altyd na die Nisboere-program op TV gekyk en geleer by die idees en vooruitgang van entrepreneurs in die landboubedryf. “By ons huis in Pretoria was daar min plek, maar ek het uit nuuskierigheid sampioene begin kweek en geëksperimenteer met verskillende kweekmetodes. Ek het daar al begin agterkom wat werk en wat nie werk nié. Dit wat ek nou hier by Plettenbergbaai doen, is ’n blote uitbreiding van dit wat ek reeds voorheen geleer het.”
Die Suid-Kaap, in die besonder die Plettenbergbaai-omgewing, is uiters geskik vir die kweek van sampioene vanweë dié streek se klimaat – matige winters en oorvloedige reën wat die ideale toestande is vir wilde sampioene, sowel as vir ’n kommersiële sampioenboerdery. Daarby is die streek ook bekend vir sy inheemse woude en diverse fauna en flora, wat verskeie sampioenspesies insluit.
Die klimaat is uiters bevorderlik vir sampioenboerdery vanweë die goeie reënval, veral gedurende die herfs en winter. Die beboste omgewing bied uiteenlopende habitatte vir die onderskeie spesies sampioene wat elk sy eie voorkeure het, insluitende dié wat graag in bome, op boomstompe, woudvloere en op verrottende materiaal groei. Veral oestersampioene gedy hier!
Vanuit ’n boerdery-oogpunt is sampioene ’n goeie bedryfskeuse, omdat die kulinêre sowel as medisinale belangstelling daarin al hoe groter word. Nuwe innoverende produkte is heuning en wyn met ’n sampioengeur wat groot aftrek kry.
Vir Waldo is die ideale kweekplek nie net goeie grond onder bome waar ’n stewige blaredak genoegsaam skaduwee gooi nie, maar boomstompe wat hy óf plat laat lê óf regop laat staan. “Die sampioenspesies wat ek gekies het, kweek jy gewoonlik óf op saagsels, óf op houtstompe.”
Dié spesies is verskillende kleure oestersampioene, en dan ook die Shiitake- en kastaiingsampioene. “Die stompe werk vir my lekker, want dit hou lank as groeibasis. As jy ’n stomp geïnnokuleer het, kan dit tot vyf jaar lank gebruik word.”
Die kweekproses is nie baie ingewikkeld nie, sê Waldo.
“Harde hout werk die beste. Jy laat lê dit vir so twee weke, boor daarna gaatjies in die hout, sit die miselium in en maak dit toe met byewas sodat dit nie uitdroog nie.” Miselium is ’n wortelagtige struktuur wat deur swamme gevorm word om voedselbronne binne te dring en te verwerk. “Daarna los jy dit vir nog so twee weke om die miselium kans te gee om déúr die stompe te ontwikkel. Afhangende van die grootte van die stomp, kan dit ses maande tot ’n jaar duur voordat dit ten volle koloniseer en vrugte, oftewel sampioene, dra.” Die sampioen is die vrugliggame van sekere fungi met ’n groot oppervlak aan die binnekant waarop spore gedra word.
Dis belangrik om baie higiënies te werk, sê Waldo. Hy het taamlik navorsing gedoen oor die kweekproses, ure lank op die internet bestee en agtergekom dat dit die Japannese was wat van die grootste baanbrekerswerk op die gebied gedoen het. “Ek het hulle advies gevolg.”
Een van sy grootste uitdagings, volgens Waldo, is die voorliefde wat slakke het vir sampioene, maar goeie raad is koffiekorrels om die slakke weg te hou. Natuurlik is tonnelverbouing ook ’n puik idee om oeste te beveilig. In hierdie omgewing is bobbejane die ander gevaar, want – net soos mense – is hulle versot op sampioene.
“As jy nie ’n tonnel het wat die klimaat beheer nie, moet jy ander maatreëls tref,” vertel hy. As die humiditeit hoog is, en dit is ’n gebied met ’n hoë reënval, sal die miselium uitloop. Om behoorlik te kan groei, maak Waldo sy stompe aanvanklik, ná die inenting, toe met sakke, wag so drie tot ses maande, waarna hy die sakke oopmaak om na die sampioene se vordering te kyk. “As ek sien die innokulasie het goed gewerk, hou ek dit oop sodat hulle kan asemhaal en kan begin vrugte dra. Dit duur so vier tot nege dae dat hulle dan die regte grootte bereik het om geoes te word.”
Die perfekte groeiomstandighede is ’n voorvereiste om goed te groei, met die klem op temperatuur, humiditeit, vars lug en ’n geskikte basis of bodem waarin die sampioene gekweek word. Net so belangrik is die regte balans van hierdie faktore vir suksesvolle sampioenverbouing. ’n Redelik donker omgewing, byvoorbeeld onder bome of in die skadu van ’n blaredak, help met die behoud van vog sodat die spore kan reproduseer. Terwyl so ’n groei-omgewing nommerpas is vir oestersampioene, soek Shiitake-sampioene wat op stompe groei, effens meer lig.
Vir die inkubasietyd, wanneer die miselium versprei, en die dratyd, wanneer die sampioene groei, is ’n temperature van tussen 13 en 21 grade Celsius ideaal. ’n Humiditeitvlak van tussen 85% en 95% word aanbeveel, saam met vars lug om die opbou van kooldioksied en die vorming van skimmel of ander ongewenste fungi te voorkom.
Sampioene groei die beste op ’n vogtige, voedingstofryke basis soos strooi, houtsaagsels of saagsels, solank die voginhoud en die pH bevorderlik is.
Die volgende stap, ná die plukproses, is die bewaring, verwerking, verpakking en bemarking. “Die aanvraag hier plaaslik is taamlik groot – ek sukkel al om voor te bly.” Om uniek en in aanvraag te bly, moet Waldo sorg dat sy aanbiedings altyd innoverend is, deur die gebruik van ’n verskeidenheid speserye tydens die verwerkingsproses, byvoorbeeld.
Die verbruikersmark is ook toenemend bewus van die gesondheidsvoordele van sampioene, soos ’n laer bloeddruk, beter hartgesondheid en die versterking van die immuunstelsel. Dit is ook ’n goeie bron van Vitamien D en het anti-inflammatoriese eienskappe.
Waldo vertel op sy eie stuk grond in Plettenbergbaai het hy uiteindelik deur probeer-en-tref die beste plek gevind waar hy sy boomstompe kan plaas, sodat sy sampioene kan floreer.
’n Boerdery-onderneming gebeur nie binne ’n dag nie, sê hy: Jy moet geduld hê om jou passie uit te leef en kans te gee om te ontwikkel. “My raad is: Moenie wag nie, begin vandag nog om te doen wat jy graag wíl doen. En hou dan net daarmee aan.”
- Volg @The Mushroom Guy op sosialemedia.
- Vir meer inligting, skryf aan waldoroux@gmail.com of bel 068 169 5043.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za