DINK GRÓÓT

The Flowershed: Sukses gebou op batebeplanning oor geslagte heen

’n Gesinsonderneming gebou op skoonheid. Dít som waarskynlik die onderneming The Flowershed, gesetel op die plaas Jansekraal naby Citrusdal, die beste op. 

Want dié blom-onderneming het binne een geslag ontwikkel tot Suid-Afrika se grootste produsent van die bergbruidjie-protea (Serruria florida), asook ’n gerekende uitvoerder van verskeie inheemse blomsoorte. 

En dit alles het begin by Ben Grib, eienaar en bestuurder, se ma, Joretha, met haar deeglike kennis van en voorliefde vir blomme. Blomme, vertel Ben, het nog altyd ’n groot aantrekkingskrag vir sy hele familie gehad. Dit was egter Joretha wat werklik die bal aan die rol gesit het. Háár ma, Bessie van der Merwe, het ’n uithaler-blomtuin gehad, terwyl Joretha se skoonma, Jacy Grib, ’n vooraanstaande beoordelaar was by blom-kompetisies. Ben vertel dat Joretha altyd die inheemse blomme waaroor sy mal was in haar tuin geplant het. “Kort voor lank het sy klein bossies aan plaaslike padstalle in die omgewing begin lewer.”

In daardie stadium was Jansekraal ’n plaas wat grootliks gekonsentreer het op sitrusvrugte en rooibostee, dié gebied se uitsoekprodukte, terwyl Joretha deeltyds met haar groeiende blombesigheid aangegaan het. “In 1999 het alles verander en het die onderneming aandag begin trek toe sy ’n kontrak gesluit het met Woolworths om skaamrosies, oftewel die bergbruidjie-protea, te verskaf. Die besigheid het met rasse skrede begin vooruitgaan, en ons het die eerste hektaar van dié blomsoort aangeplant.”

Net 26 jaar later en Jansekraal boer voltyds kommersieel met verskeie soorte proteas, met fynbos en erikas, asook dekriet. “Dis nie so maklik om proteas te kweek nie, want elkeen vra ’n baie spesifieke plekkie waar hy graag wil groei. In Suid-Afrika is daar die afgelope sowat 50 jaar baie hard gewerk om hierdie bedryf tot op ’n lonende kommersiële vlak te ontwikkel.”

As blomboer moet jy baie goed weet wat die mark verlang, sê Ben – nie net wat die tipes betref nie, maar ook ten opsigte van die aanbieding daarvan vir ’n mark vir wie die skoonheid van blomme belangrik is. Daarom is die werknemers op Jansekraal goed opgelei as deel van die span om aan hierdie vereistes te voldoen. “Dis ook vir ons belangrik om die blomboerdery sover moontlik op ’n natuurlike manier te bedryf.”

Die Gribs het hul kweekbenadering aangepas, soos om méér stele per bos te verkry, en méér koppe per steel. “Dis vir ons belangrik om die blomme so ver as moontlik op ’n natuurlike manier te kweek; ook wat die aanwending van swamdoders en plaagbeheermiddels betref, tot by die vrylaat van roofinsekte en die toedien van bemesting. Hierdie blomplante het baie spesifieke behoeftes.”

Ben en sy vrou is gesteld op die voorkoms van elke bossie blomme, iets wat hulle by Joretha geleer het. “My vrou is deesdae die hoofontwerper. Jy begin met die hoofblom, met ander woorde dit wat in seisoen is, en dan bou jy jou bossie rondom daardie blom. Alles gaan oor balans – hard teenoor sag, helder teenoor donker, fyn teenoor groter blomme. Aanpasbaarheid is belangrik, want ons werk met blomme wat soms in seisoen is, soms buite seisoen. Jy moet die hele tyd kyk wat beskikbaar is, tesame met dit wat in ’n enkele bos kan werk. Ons het al gevind dat kopers van verandering hou … hulle wil nie oor en oor dieselfde bos blomme koop nie; hulle word moeg daarvoor. So ons dink kreatief en het gereeld vars aanbiedings. Kopers verlang ook verskeidenheid en hulle hou jou op jou tone om voortdurend met ander, skeppende, interessante, vernuwende aanbiedings vorendag te kom.”

The Flowershed het nagenoeg 60 werknemers in diens, van wie 70% vroue is. Ben vertel dis die mans wat die plukwerk doen, maar die vroue wat die blomme in bossies saamstel vir verkope. “Wanneer die blomme van die veld af kom, bespuit ons dit liggies met ’n swamdoder om seker te maak daar kom geen swamme in ons pakstore nie. Ons haal dan van die blare van die stele af sodat bloemiste ’n mooi skoon steel ontvang. Ons werkers bou die bossie rondom die middelblom, sit papier om die bossie en plaas dit dan in water. Ons behou die temperatuur op 4 grade Celsius om die blomme so lank moontlik vars te hou. Dis vir ons belangrik dat die blomme so gou moontlik by kopers uitkom.”

Dit beteken dat blomme wat vandag gepluk word, vanaand al in die verspreidingsentrum in Kaapstad aanland en môreoggend op winkels se rakke is. Ben vertel dat hulle hele span baie bewus is van oorsese ontwikkelinge op die gebied van die blombedryf, sodat hierdie plaaslike onderneming ook altyd aan die voorpunt kan bly.

Van die belangrikste aspekte van hul onderneming is dat alle sertifiserings in plek is, soos ten opsigte van Woolworths, een van hul grootste aankopers, se Farming for the Future-program wat fokus op volhoubaarheid. In die geval van uitvoerplase soos Janseville moet daar voldoen word aan vereistes van GLOBALG.A.P rakende biodiversiteit, watergebruik, kweekhuisgasse, herstelboerdery, vermorsing en voetspoor. “Tydens hierdie inspeksie onlangs het ons ’n platinum-toekenning ontvang.” 

Voorts voldoen Jansekraal en The Flowershed aan SIZA-vereistes (Volhoubare Landbou in Suid-Afrika), ten einde die beste voordele vir hul personeel beskikbaar te stel. “Van ons werkers is derdegenerasie-personeel, mense wat saam met die onderneming gegroei het,” vertel Ben.

Vir die gesin Grib en hul werknemers is die basis van hul onderneming “om mooi te maak” – om skoonheid te verkoop, en by te bly by die globale visie en missie van die blombedryf. “Ons wil graag dat die beeld van die protea as ’n elkedagblom groei. Oorsee neig kopers nog eerste na rose of lelies, maar ons wil graag ’n internasionale bewusmaking skep dat Suid-Afrikaanse inheemse blomme prioriteit kan wees wanneer daar oor aankope besluit word.”

Ben sê enigiemand wat daaraan dink om met blomme te boer, nie net seker moet maak dat hy allereers goed navorsing doen oor die tipe blomme wat hy in gedagte het nie, maar om sy terrein ewe goed te leer ken en verstaan. “Jy moet weet hoe terrein en blomsoort gaan saamspan om die beste produk te lewer. Jy moet ook voorbereid wees daarop dat blomme ’n uiters sensitiewe produk is. Jy moet jou blomme as ’n verkoopbare produk beskou, en nie emosioneel verbind wees daaraan nie. Want vandag lewe hulle, môre is hulle dood. Jy moet maar net weer nuwes plant. Dis nie ’n maklike bedryf nie, terselfdertyd ’n taamlik eklektiese bedryf.”

Theo Vorster van Galileo Capital plaas ’n groot premie op die waarde van familieondernemings. “Heel eerste moet ons onthou dat elke boer ’n entrepreneur is wat besigheid doen met die natuur as hulpbron, en dit volhoubaar moet bedryf om sukses te verseker. Alle besighede was eens op ’n tyd klein. Sommige het gegroei, ander nie. Besighede ontstaan uit idees, maar idees is nie die kern van sukses nie. Die vraag is: Kan jy daardie idee vat, en – met die hulpbronne tot jou beskikking – dit tot ’n volhoubare, doeltreffende onderneming omskep?”

Boere is inherent planmakers, welvaartskeppers, mense met nuwe idees … dis waarom landbou in Suid-Afrika so suksesvol is, sê hy. “As jy na die landbousektor kyk, is dit ’n relatief klein deel van die BBP, maar as jy kyk na landbou se waardeketting en na die beginsel van voedselsekuriteit, is dit ’n krities belangrike bedryf.”

Een ding wat hy byna sonder uitsondering in die landbousektor teëkom, is die beginsel van bateoordrag, verduidelik Theo. “Die meeste boere beplan nie net vir hulself nie, maar ook vir die generasies ná hulle. Dis vir hulle belangrik om te dink wie by hulle gaan oorneem. Daarom het hulle kennis van markte, toegang tot markte, kapitaal, kapitaalallokasie, investering en volhoubaarheid. Hul benadering draai om die aspek van rentmeesterskap.”

Dís die beginsels waarvolgens hulle werk:

  • Hoe gaan ek sorg dat hierdie bate wat ek skep oor 10 of 20 jaar steeds ’n bate gaan wees?
  • Vir wie tree ek as rentmeester op?
  • Vir wie almal skep ek welvaart?

Volgens Theo is die oorgrote meerderheid van landbouondernemings familiebesighede. “Dis ondernemings wat oor generasies strek; wat beplan word om oor geslagte volhoubaar te kan voortbestaan; wat die unieke uitdagings van familiebesighede besef en daarvolgens kernbesluite neem.”

Dis hierdie langtermynvisie wat bepaal hoe daar nóú gehandel moet word ten opsigte van besteding en skuld, sowel as menslike elemente soos die verhouding met werknemers en in watter mate die huidige generasie se opvolgplanne in plek is. “Dis die huidige generasie wat homself moet afvra of hy sy kundigheid reg oordra, in die wete dat hy dit wat hy nóú doen, waarskynlik nooit self ten volle gaan benut nie. Die nageslag se welsyn is dus vir hom ewe belangrik as sy eie. Jy werk volgens die beginsel dat jy eintlik op hierdie tydstip besig is om van jou kleinkinders te leen.”

Suid-Afrika het fenomenale voorbeelde van suksesvolle familieondernemings, sê Theo. “Ook in die landboubedryf – besighede wat oor tot nege generasies in familiebesit bly vanweë beplanning en goeie bestuur.” Volgens hom is langtermynbeplanning die grondslag van sukses … die wete dat die insette wat jy vandag lewer, eers oor jare vrugte gaan dra. 

Joretha Grib se langtermynvisie en -beplanning het ongetwyfeld die geslag ná haar in ’n beter posisie gelaat. Die insette wat sy dertig jaar gelede gemaak het, beteken dat haar seun, sy gesin en werknemers nou die vrugte pluk van háár vooruitskouing. Dis waarom The Flowershed deesdae so ’n reuse-bydrae lewer tot sy eie finansiële standvastigheid én die ekonomie van die omgewing. Dit sluit in die gesin self, hul werknemers, produsente en kliënte sowel as omliggende dorpe.

“Hierdie gemeenskapsbatebeginsel is die kern van familiebesighede,” meen Theo. “Prestasieontledings oor ’n lang tydperk wys dat opbou en ontwikkeling vir die nageslag ook sukses vir die huidige geslag beteken. As jy hierdie beginsel toepas, het jy die eerste tree na sukses gegee.”