DINK GRÓÓT

The Dragon’s Den Exotics: Baanbrekerwerk op 4 hektaar

Byna 13 jaar nadat draakvrugte die eerste keer haar nuuskierigheid geprikkel het, staan Jackye Riddle van Patensie bekend as een van Suid-Afrika se voorste kenners van dié eksotiese lekkerny.

Só in aanvraag is sy deesdae vir haar kundigheid oor hierdie vreemde vrug, dat sy as ’n pionier van draakvrugteverbouing in die land beskou word en ons eie “Dragon Fruit Lady” genoem word. Wat jy ook al van dié besonderse vrug wil weet – alle paaie lei na The Dragon Fruit Farm se Dragon’s Den Exotics in die Oos-Kaap. Dit is die enigste kommersiële draakvrugteplaas in die provinsie, een van die eerste kwekers hiervan in Suid-Afrika, met die grootste verskeidenheid variëteite in die land. 

Sedert 2010 het Jackye ’n klein stukkie onbenutte grond op hul plasie omskep in ’n lushof beplant met duisende draakvrugtebome, waar honderde variëteite deesdae verbou word. Haar beskeie begin het ontluik in ’n volskaalse bedryf en haar ’n gesogte leweransier gemaak – en dit van ’n vrug wat tot relatief onlangs ’n vreemde verskynsel op ons winkelrakke was langs die bekende sagte- en sitrusvrugte waaraan Suid-Afrikaners al honderde jare gewoond is.

Draakvrugte is die vrug van ’n tropiese plant en lid van die kaktusfamilie (Cactaceae). Ander noemname hiervoor is “strawberry pear”, koningin van die nag, maanblom of edel dame. Dis inheems aan Mexiko, Sentraal-Amerika en Suid-Amerika.

Wat Jackye destyds as ’n aftreeplasie beskou het, het ontwikkel tot ’n bloeiende boerdery. Sy het nie net dié supervrugbedryf in Suid-Afrika help vestig nie, maar speel sonder twyfel ’n reuse-rol in die toekoms daarvan. 

Sy erken dat sy deur leer, probeer en tref ongekende ervaring opgedoen het van die kweek, hantering, bemarking en verkoop van draakvrugte. 

“Toe ons die plaas gekoop het, was boer allesbehalwe deel van ons planne. Dit sou vir ons net ’n aftreeplekkie wees. Sowat 4 hektaar was met nartjies beplant, maar ek kon dadelik sien die bome lyk oud. Ons het hulle uitgehaal, en daar sit ons toe skielik met hierdie groot, leë ruimte. Ek was nog altyd ’n plantliefhebber en wou graag iets daar plant – maar wat?”

Soos dit met die meeste suksesverhale gaan, het dit toe ook hier gebeur dat Jackye se nuwe loopbaan en lewe háár gevind het, nie andersom nie. Want dit was in dié tyd dat haar man na Singapoer gereis het “en ek hom gevra het om interessantheidshalwe ’n paar draakvrugsade vir my terug huis toe te bring”. 

“Eintlik het sy reis mý op ’n reis gesit om te sien watter soort vrugte die Asiatiese lande alles verbou – dis toe dat ek op draakvrugte afgekom het. Ek het verlief geraak op die eksotiese voorkoms van hierdie manjifieke vrug. My navorsing oor die verbouingsvereistes het getoon dat dit hoofsaaklik in die noordelike halfrond gekweek word. Dit is toe dat ek dit as ’n opsie gesien het om op my klein stukkie grond te plant.”

Jackye se skeppende idees het dadelik ingeskop: “Ek het besef dit sal die ideale nisproduk wees vir Suid-Afrika. Ek het sewe variëteite uit Australië ingevoer … en toe gebeur iets baie snaaks; tot vandag verstaan ek dit nie. Ná sewe jaar, toe ons die vrugte begin pluk en die binnekante begin ontleed, besef ons sowaar baie meer as net sewe variëteite is aangeplant – altesame 22!”

Niks kon dié nisboer meer keer nie … haar volgende reis het begin, “en dit was om nóg variëteite in die hande te kry; ook om nóg meer navorsing te doen.” Jackye het onmiddellik ander variëteite reg oor die wêreld begin soek. Die volgende stap was om te bepaal watter die smaaklikste en geurigste is, watter die meeste vrugte dra, en watter die beste by die Suid-Afrikaanse klimaat aanpas. “Die uiteinde was dat ons vandag ongeveer 450 variëteite op die plaas het. Ek hoop dat ek teen volgende jaar al van almal vrugte kan oes sodat hulle deeglik ontleed kan word om te bepaal watter vir Dragon’s Den Exotics die voordeligste is.”

Jackye se navrae en navorsing sal nooit afgehandel wees nie. Soos met enige gesonde nisbesigheid bly sy uitdagings en grense vir haarself stel. Draakvrugte was alreeds ’n grens wat sy oorgesteek het, want “alles omtrent hierdie vrug is ánders”.

“Soos dat dit ’n woudplant is wat hier in die son floreer. Dit is ’n kaktus wat water nodig het. Dit is ’n plant wat voortdurende sorg verg. Dit dra net vrugte wanneer dit vertikaal opgelei word. Die plant is ’n epifiet. Dit blom pragtig … maar nie in die dag nie, net snags. Ek is mal oor sulke uitdagings. Dit is wat hierdie bedryf vir my so opwindend maak.”

Een belangrike aspek wat sy moes leer verstaan, is die hantering nadat dit gepluk is. “Draakvrugte hou nie van erge temperatuurwisseling nie – soos om verskuif te word uit ’n koue omgewing na ’n effens warmer omgewing, en daarna terug na ’n koue omgewing. Net ’n klein bietjie vog op die vrugte in sulke omstandighede, en die verskuiwing tussen verskillende temperature veroorsaak verrotting.”

Dit beteken dat die pluk, verpakking en vervoer na handelaars ’n proses was wat fyn beplan moes word, vertel sy. “Van yskas tot vragmotor tot yskas … en jy het probleme. Binne 10 dae sal dit tekens van verrotting op die skil toon.”

Jackye en haar span het die resep hiervoor gevind – dit is om die vrugte by kamertemperatuur te verpak en dit dan by daardie selfde temperatuur by kleinhandelaars af te lewer. “Dit is hoe ons die kondensasieprobleem vermy.”

Haar aanvanklike afsetpunte van kleinhandelaars en padstalle in die omgewing van Patensie het oor die jare uitgebrei na supermarkte reg oor die Oos- en Wes-Kaap. “Ek besef dis nie ’n goedkoop produk nie, maar dis uniek en die kweek, verpakking en vervoer vra presisie. Aanvanklik het ons dit hoofsaaklik as los vrugte verkoop, maar het gevind mense verkies dat ons dit verpak in klein houertjies met ons plakker op. Daardie plakker met ons logo is belangrik, want dit maak vir verbruikers saak waar dit vandaan kom en watter gehalte hulle te wagte kan wees. Hulle weet dan ook dat hulle ’n geurige, vars vrug kry … want jy kan nie buite sien wat aan die binnekant aangaan nie.”

’n Volgende stap vir Dragon’s Den Exotics is om te eksperimenteer met gedroogde draakvrugtesnysels of -stukkies. “Dit is ook iets wat toevallig op ons pad gekom het. Behalwe dat ek die hele tyd op die uitkyk is vir nuwe variëteite, het ek ontdek hoe heerlik stukkies draakvrug is wat gedroog word totdat dit so krakerig is soos aartappelskyfies. Daar is ook ’n moontlikheid dat die blare elemente bevat wat in skoonheidsprodukte gebruik kan word. Daarom het ek nou ’n paar blare weggestuur vir deeglike ontleding. Natuurlik is baie geld nodig vir so ’n projek … dalk daag daar iemand op wat bereid is om hierin te belê.”

Jackye se advies vir iemand wat daaraan dink om in haar voetspore te volg, is om heel eerste seker te maak dat die klimaat waar jy wil aanplant, nommerpas is vir draakvrugte.

“Dit is so dat jy skadudoek kan inspan, maar dit is taamlik duur. Sorg dat jy jou huiswerk deeglik doen, en vra raad. Ek is nou al by die dertien jaar hiermee besig en verstaan die vrug en die kweekproses. Maar dit het ’n rukkie geduur om op hierdie punt te kom.”

’n Verdere uitbreiding is besoeke aan die plaas, wel op ’n beperkte grondslag. Hiermee stem Jacqui Taylor, stigter en besturende direkteur van Agritourism Africa, heelhartig saam. Hierdie platform, wat toeriste in verbinding bring met landbou-ervarings oor die hele Afrika, sê vanweë die uniekheid van die draakvrug sal dit ’n interessante én opvoedkundige ervaring vir toeriste wees. 

The Dragon Fruit Farm se baanbrekerswerk met Dragon’s Den Exotics sit hierdie plasie in die perfekte posisie om ’n nisproduk en sy talle uitdagings te vertoon. “Ek kry van oor die wêreld navrae van mense wat by ons Suid-Afrikaanse boere wil kom leer. Hierdie plasie bied die ideale geleentheid daarvoor. Jackye het ’n produk wat uitstekend sal werk vir agritoerisme.”