DINK GRÓÓT

The Cannabis Expo: ’n toonbeeld van landbou-innovasie en -vooruitgang

Die dae is verby dat kannabis bloot as ’n onwettige indringer beskou word … een wat met wortel en tak uitgeroei moet word. Daar word ook nie meer agter die hand gepraat van kannabis as “dagga”, ’n blote dwelm en sosiale euwel, nie. Kannabis as produk én as bedryf het sy vastrapplek in die ekonomie gekry … deur positiewe bewusmaking, die vernietiging van wanpersepsies en streng wetgewing.

Hierdie wetgewing reguleer die kweek daarvan so streng, so ook die verwerking en verspreiding van kannabisprodukte, dat dit een van die vertakkings van die landboubedryf geword het waarvoor daar ’n groot en voorspoedige toekoms voorspel word.

Hiervan getuig die jaarlikse The Cannabis Expo wat vanjaar weer in die Sandton-konferensiesentrum (Sandton Convention Centre) aangebied is. Dit word beskou as Afrika se voorste kannabisgeleentheid, een wat reguleerders, verbouers, verskaffers en verbruikers byeenbring om ’n magdom informasie uit te ruil en bewusmaking te skep vir die talle voordele van die produk … mits dit reg gebruik word. 

Of, soos Lani Butler van die maatskappy Synergy Wellness sê: “Op hierdie ekspo smelt gesondheid, innovasie, sakegeleenthede en bewusmaking saam tot een dinamiese ervaring. Vanjaar se ekspo het oorgeloop van insig en inspirasie.”

Lani was een van die deelnemers hier aan ’n simposium en ander in-diepte-gesprekke oor die regulering van die bedryf. “Besoekers het die geleentheid gehad om te ontdek wat hulle nié oor kannabis weet nie, en hulle kon veral meer leer oor sy mediese produkte, natuurlike middels, volhoubare kannabisboerdery en landboubeleggingsgeleenthede. Hierdie jaarlikse tentoonstelling is méér as ’n ekspo – dit verteenwoordig ’n hele beweging.”

Die term “medisinale kannabis” is deesdae meer gebruiklik, sê sy. “Die meeste Afrikaanse mense verwys só daarna. Dit klink ook meer professioneel en gebruikersvriendelik.”

Synergy Wellness is hoofsaaklik betrokke by die wetlike aspekte rondom kannabisverbruik en die vervaardiging van verwante produkte. “Ons sal byvoorbeeld pasiënte wat vir die behandeling van sekere siektetoestande meer natuurlike produkte wil gebruik, help om aansoek te doen vir ’n SAHPRA-lisensie sodat hulle seker kan wees daarvan dat hulle wetlik aan alle vereistes en voorskrifte voldoen.”

SAHPRA is die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte en ’n onderafdeling van die Nasionale Departement Gesondheid. Dit is deur die Suid-Afrikaanse regering op die been gebring om te verseker dat die gesondheid en welsyn van mense en diere streng beheer word.

Silas Howart, besturende direkteur van die ekspo, vertel dat dit die eerste keer in 2018 gehou is, “en ek kon vanjaar opnuut die opwinding aanvoel oor hierdie groeiende bedryf. Dit is ’n tentoonstelling wat die talle fasette daarvan goed uitwys. Dit is deesdae die grootste tentoonstelling van sy soort op die vasteland van Afrika.”

2018 was ook die jaar waarin die Konstitusionele Hof kannabisverbouing en -produkvervaardiging wetlik gereguleer het. “Sedertdien gaan die bedryf van krag tot krag. Dis nogal verstommend om te ervaar hoe die kannabisbedryf rondom die hou van die ekspo ontwikkel het, en andersom. Die tentoonstelling verteenwoordig ’n mengsel van rolspelers wat groot ondernemings wat hierby betrokke is, en natuurlik die landbou-, gesondheid- en medisynesektor insluit. Daar is natuurlik die kannabis-ekstraksies wat aandag geniet op die ekspo, so ook die rekreasie-aspek.”

Die verskaffing van betroubare inligting is nie al rede waarom hierdie geleentheid elke jaar so belangrik vir die kannabisbedryf is nie, volgens Silas. “Die groot ander doelwit is dat dit ’n groot rol daarin speel om wanbeskouings uit die weg te ruim; ook om mee te werk aan die destigmatisering van die plant, sy neweprodukte en veral die verbruik daarvan. Elke keer wanneer mense by dié geleentheid instap, is dit vir my interessant om te sien hoe verstom hulle is oor die ontwikkeling van die kannabisbedryf – hoe wyd dit strek, hoe veelsydig die plant en sy produkte is, en hoe groot die hele industrie oor die afgelope jare in Suid-Afrika gegroei het. Wat almal veral interesseer, is die talle ongelooflike voordele wat die plant bied – nie net wat jou gesondheid betref nie, maar ook die geweldige bydrae tot die ekonomie … vir die formele sakeomgewing, maar ook vir entrepreneurs.”

Die formele besprekings op die ekspo, soos vanjaar se simposium en ander inligtingsessies, dra reusagtig by tot die herskep van die negatiewe beeld wat daar eens op ’n tyd oor kannabis bestaan het. Die jongste navorsing op die gebied word uitgewys, en enige vrae oor die plant en sy produkte kan gesaghebbend tydens hierdie driedag-tentoonstelling beantwoord word. Verskeie kannabis-deskundiges van oor die wêreld doen jaarliks aanbiedings, verskaf inligting oor die jongste navorsing op die gebied en beantwoord vrae oor die plant en sy neweprodukte. Dit alles dra by tot die baie belangrike aspek van beeldbou.

Een van die besprekingspunte op die ekspo was ook die rol van hennep, oftewel “hemp” in Engels. Hennep of industriële hennep bestaan uit verskeie kultivars van die plantspesie Cannabis sativa wat spesifiek gekweek word vir industriële gebruike. Dit is ’n plant wat blitsvinnig groei, en word omtrent al 10 000 jaar lank tot bruikbare vesel verwerk. Van die kommersiële artikels sluit in tekstiel, papier, klere, bioafbreekbare plastiek, verf, isolasiemateriaal, tou, biobrandstof, kos en veevoer. 

Hoewel onwettige marijuana en industriële hennep albei lede van die spesie Cannabis sativa is, en albei die psigokomponent tetrahidrokannabinol (THC) bevat, is hulle afsonderlike stamme, elk met ’n unieke biochemiese samestelling en unieke gebruike. Hennep het laer konsentrasies van THC en hoër konsentrasies van kannabidiol (CBD), wat sy psigo-effekte drasties verminder. Die wettigheid van industriële hennep wissel tussen lande. 

Hennep, sê Silas, vorm ’n massiewe deel van die kannabisbedryf, soos byvoorbeeld die mynbedryf waar kabels wat van hennep vervaardig is, gebruik word tot diep onderin myne. Nog ’n gebruik hiervan is die vervaardiging van bakstene van hennep vir HOP-behuising. “Dis goedkoop, uiters veelsydig en sterk. Suid-Afrika het die potensiaal om een van die voorste produsente te word van hennep wêreldwyd.”

Enigiemand wat in enige aspek van die kannabis- en/of hennepbedryf belangstel, sál iets by hierdie omvattende tentoonstelling vind, meen Silas. “Dit bied eindelose sakegeleenthede, want dit is ’n snelgroeiende bedryf. Met 150 uitstallers en rolspelers wat jaarliks hier verteenwoordig word, kan jy seker wees daarvan dat jy die heel beste inligting by hierdie ekspo sal kry … of dit om gesondheidsredes is, of raad vir die kweek daarvan, sakegeleenthede of omdat jy meer wil weet oor die wetlike aspekte rondom kannabis. Die hoeveelheid produkte is ongelooflik! Boonop is daar ook ’n kannabis-kosmark waar jy ’n groot verskeidenheid kan gaan uittoets. Dis nie net verteenwoordigend en omvattend nie, maar ook prettig.”

Dis insiggewend dat regeringsverteenwoordigers elke jaar die ekspo bywoon, selfs aan paneelbesprekings deelneem. Hulle speel ’n groot rol daarin om te sorg dat die wetgewing in pas is met dié van die res van die wêreld en moet dus toesien dat al hoe meer ekonomiese geleenthede geskep word wat aan die wet voldoen. Die kannabisbedryf is, sonder twyfel, reusagtig en steeds aan die ontwikkel, sê Silas.

Lani stem saam dat hierdie ekspo baanbrekerswerk verrig vir die bedryf. “My plig by Synergy Wellness is nie net om te sorg dat die maatskappy bly groei nie, maar ook dat ’n graderingstelsel in plek is. Met oor die 217 winkels vir kannabisprodukte landwyd, sorg ons vir die gradering van hierdie afsetpunte … dit kom daarop neer dat ons seker maak hierdie plekke doen alles korrek volgens wet. Dit is noodsaaklik dat alles presies uitgevoer word, want daar word voorspel dat die bedryf nóg stewiger gaan ontwikkel. Veral in die gesondheidsektor gaan kannabis in die toekoms ’n al hoe belangriker rol speel, omdat al hoe meer mense hulle wend tot natuurlike produkte om na hul gesondheid om te sien.”

Lani noem dat toestande soos artritis, slaaploosheid en pyn van enige aard by bepaalde kannabisprodukte kan baat vind. “Mense wil toenemend die natuurlike behandelingsroete volg. Tog bly kannabis ’n omstrede onderwerp … daarom is regulering so belangrik. Sou ’n pasiënt kwalifiseer vir die gebruik daarvan, nadat hy ’n dokter geraadpleeg het, doen ons aansoek by SAHPRA en kry vir daardie persoon ’n permit om kannabisprodukte te gebruik.”

Advies en ondersteuning vir so ’n pasiënt dwarsdeur die proses is nog ’n diens wat Synergy Wellness bied, sê sy. “Die hele mediese netwerk kyk al hoe meer na kannabis as ’n opsie, en daarom bied ons hulp met opleiding, sowel as ondersteuningsraamwerke veral vir nuwelinge in die bedryf. 

“Al die inligting is op ons webwerf, ook die name van mediese diensverskaffers wat jy, deur ons, aanlyn kan spreek. Dit beteken dat ons die hele proses op ’n wettige wyse fasiliteer.”