Klein maar “getrain”
Laat niemand jou ooit vertel jy is te jonk om te leer nie. Klein saadjies – in hierdie geval klein boompies – vir groot idees kan al kleindag geplant word vir die res van jou lewe én loopbaan.
Danie Pienaar, eienaar van Teien Tamashi Bonsay Nursery Garden & Soul in Waverley, Pretoria, kan hiervan getuig.
Sy liefde vir plante is ingebore, vertel hy, maar sy voorkeur vir die bonsai-kunsvorm het begin toe hy net 12 was, en dit deur ’n kwekery waar hy dag ná dag met sy fiets verbygery het op pad skool toe. Vandag, byna vier dekades later, regeer Danie se bonsai-passie sy lewe – miniatuurweergawes van reusebome wat sό gestileer is dat dit pas in ’n plantpot op jou stoep, in jou huis of in jou kantoor.
Dié wat dink bonsai is net regknip hier, kortknip daar en afsny daar, kan gerus by dié bonsai-meester gaan inloer. In Danie se wonderwêreld van bome laat hy hom enersyds deur die natuur lei; andersyds pas hy sy vaardigheid as bonsai-kunstenaar toe, terwyl hy streng hou by die bewese beginsels van dié kweekvorm. Dat dit nie as net nog ’n potplantkwekery beskou moet word nie, is gewis, sê hy.
“Bonsai” is ’n Japannese term wat beteken “in ’n houer geplant”; ’n kunsvorm wat sy oorsprong het in ’n oeroue Chinese tuinboumetode, maar wat daarna onder die invloed van die Japannese Zen-Boeddhisme herontwikkel is. Bonsai as kunsvorm word geassosieer met harmonie, innerlike vrede, balans en positiwiteit.
Letterlik beteken “bonsai” dat ’n boom of struik tot dwergvorm gestileer word deur die wortels sowel as die takke op ’n voorgeskrewe manier te snoei om ’n klein weergawe van die oorspronklike te wees. Terselfdertyd span die bonsai-boer sy kunstenaarskap in om ’n bepaalde vorm van sy keuse te bereik. Natuurlik is geen plant staties nie, en sal aanhou groei – wat beteken jy moet jou hand daaraan hou om die herkenbare vorm te behou.
Danie se lewe draai om sy bonsais en die ruimte van 225 m2 op sy werf wat hy in sy eie boomfantasie omskep het.
By die destydse kwekery waar hy so graag as jong seun aangedoen het, het dit egter nie by net die bewondering van plantprag gebly nie. “Op ’n dag sien ek ’n bonsai-boompie by die kasregister staan met ’n ‘te koop’-etiket. Die kweker se naam en kontakbesonderhede was daarop, en die res is geskiedenis. Ek het die kweker gekontak.” Die gogga het gebyt, of liewer … die saadjie is geplant.
By dié kweker van die kasregisterboompie het Danie meer van hierdie besonderse kunsvorm geleer.” Twee-en-veertig jaar later kan hy inderdaad daarvan getuig dat sukses afhang van jou vernuf om ’n bepaalde vorm en styl te bereik vanweë knip-en-snoeivernuf, maar ook om vooraf ’n bepaalde bonsai-kunswerk van enige soort boom of struik te kan visualiseer. “Dit hang af watter prentjie jy soek,” sê jy.
Soos enige kunstenaar bepaal jy vooraf wat jy op die doek wil sien, dus hoe die miniatuur van die oorspronklike vir jóú in die pot moet lyk. “Bonsai-verbouing is ’n boerdery wat jy nie halfgebak kan aanpak nie – dis intensief. Dis ’n bedryf wat jou dag ná dag besig hou, afhangende natuurlik van die skaal waarop jy dit aanpak.”
’n Klein spasie in jou agterplaas kan werk, selfs ’n woonstelstoep. Die vraag bly: Wat wil jý hiermee bereik? “Selfs in ’n baie kleinerige ruimte moet jy altyd strewe na kwaliteit en om jou kennis te verbreed. Beplanning en bereidheid om te leer is belangrik,” sê hy.
“Min mense verstaan die dinamika van bonsai,” volgens Danie. “Die groeidinamika verander omdat dit in ’n afgeslote ruimte is.” Dinge wat in ag geneem moet word, is “dat die grond baie vinniger uitdroog. Daarby bied die pot ’n bepaalde grootte vir die wortels. En in ’n pot met grond is net sekere mikroëlemente teenwoordig wat die plant nodig het.”
Die konsep van bome wat in potte groei, is “fassinerend”, gaan hy voort.
As kweker moet jy heelparty aspekte in gedagte hou. Een daarvan is inderdaad mikroëlemente (soos kunsmis). Water is waarmee mense die meeste sukkel, volgens Danie. “Hulle wil altyd weet wat die regte hoeveelheid water is wat jy moet toedien.
“Daar is nie ’n vaste antwoord nie. Dit hang af van die boomspesie en die plantweefsel, die grootte van die planthouer, ook die blaargrootte.”
Wanneer jy ’n tipe boom en vorm begin oorweeg, “is dit dalk die beste om te kyk na bome met natuurlike klein blaartjies. Die kuns van bonsai lê daarin dat jy die boom só manipuleer dat dit ’n volwasse voorkoms het – jy wil ouderdom en karakter in jou kunswerk weergee.”
Beginners moet bome met natuurlike klein blaartjies oorweeg, soos elm, witstinkhout of olienhout. Doringboomspesies kan ook werk. Hoewel hulle saamgestelde blare het, verklein hul blaartjies wanneer jy dit bonsai. “Daar is egter baie spesies waarvan die blare nié verklein nie, soos byvoorbeeld die grootblaarrotsvy met sy massiewe blare. Dit sal baie moeilik wees om so ’n boom as ’n aantreklike bonsai te kan vorm.”
Plantmateriaal word op drie maniere bekom: Deur boomsade, deur jong boompies in bonsai-boompies te omskep, en natuurlik met bome uit die natuur.
“As jy jou boom uit saad wil kweek, moet jy die geduldsfaktor in grootmaat inspan,” sê Danie. “Jy praat van enigiets tussen vyf en 15 jaar, selfs 40 jaar voordat jy dit kan begin bonsai. Ek besit bome wat 40 jaar oud is. Dit duur ook ’n rukkie voordat stamme verdik.”
Jy kan enige jong boompie by ’n kwekery koop vir die doel van bonsai, selfs een van tussen vyf en sewe jaar oud.
“Die derde, gewilde manier is om bome uit die natuur te haal, natuurlik met die toestemming van die grondeienaar. Jy het dan reeds ’n dikkerige stam, maar nou begin jy die wortels terugsnoei. Die boom word in ’n pot gesit en die takke sit hul groeiproses voort. By my is daar heelwat bome wat uit die natuur kom. Baie mense hou van daardie dik, karaktervolle stamme wat so ’n boompie ’n unieke voorkoms gee. Dis ook die vinnigste manier om ’n baie mooi boom te verkry.”
Daar is ’n wanbeskouing dat jy enige boom kan vat, dit in ’n pot sit en só die groeiproses outomaties beïnvloed om vir jou ’n bonsai te gee. “Maar jy moet onthou dis ’n lewende plant wat jy tot ’n mooi prentjie wil stileer. Jy moet dus die natuurlike groei heeltyd beheer,” vertel Danie. “Jy bestuur dus deur menslike ingreep die groei van ’n groot boom, vorm só ’n klein boompie met die karaktereienskappe van sy groot eweknie.”
Danie vertel aluminiumdraad is ’n goeie hulpmiddel om ’n boom tot ’n bepaalde vorm te stileer. “Deur snoeiwerk stuur jy die takke in ’n bepaalde rigting, en deur wortelsnoei word die groei van die boom beperk, wat veroorsaak dat die stam verdik. Nog ’n aspek wat aandag verg, is die digtheid van die blare. As die blaredak te dig is, word son nie na binne deurgelaat nie, wat kan beteken dat die binnetakke vrek.”
Bonsai-kwekers kan op ’n groot mark staat maak, “want daar is ’n groot verskeidenheid mense wat in sulke boompies belangstel,” sê Danie.
Die versamelaar is die een wat reeds ’n goeie versameling opgebou het, maar na nog ’n unieke, spesiale boom op soek is. Dan is daar is nuwelingkweker wat iets goedkoop soek om mee te begin, iemand met geringe bonsai-kennis. Jy kry ook dié wat gesogte, duur bome soek, mense wat nie die kuns wil beoefen nie, maar ’n pragstuk vir sy kantoor of sy huis verlang.”
Kwekers en verkopers soos Danie kan hul kunswerke op ekspo’s, markte en selfs aanlyn van die hand sit.
Daar is ongetwyfeld ’n toekoms vir die ernstige bonsai-kweker, meen hy. “Mense wil graag die natuur tot naby hulle bring. Eers was bonsai hoofsaaklik die belangstelling van ouer mense, afgetredenes, met baie tyd. Deesdae is daar baie jongmense wat graag die kuns beoefen as stokperdjie om die gejaagde lewe te temper. ʼn Bonsai is nie voltooi die oomblik dat jy dit in ’n pot aankoop, of wanneer jy jou verlangde vorm verkry het nie.” Dit verg ’n volgehoue, ferm hand, ’n passie vir plante … en baie geduld.
In ruil daarvoor kry jy ’n uitsonderlike, fassinerende stukkie natuurskoon op eie werf.
Vir meer inligting, bel Danie by 082 465 9960 en Sonica by 082 574 9478
Volg @Teien – Tamashi Bonsai Nursery en @Nisboere om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.