DINK GRÓÓT

Talentvolle Mila Guy leer oor klein boompies met groot potensiaal

Die kuns van bonsaiverbouing word reeds vir honderde jare met groot sukses deur die Japannese beoefen en het mettertyd wêreldwyd posgevat. En alhoewel dit grootliks as ʼn stokperdjie bedryf word, bied dit ook goeie geleenthede vir nisboere om dit as ʼn besigheid te bedryf.

Volgens Richard Bamberger, wat die Mooi River Bonsai-onderneming in die agterplaas van sy huis in Potchefstroom bedryf, het die opswaai in belangstelling in dié kunsvorm baie te make met die uitbrei van stede wat gepaard gaan met kleiner wonings wat min ruimte vir die aanplant van groot tuine het. “Dit het die behoefte aan die vind van plante wat klein spasies mooi kan laat lyk, laat ontstaan. Die groei in Suid-Afrika se middelklas lei ook tot groter belangstelling in dié kunsvorm.”

Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van die Nisboere-borg Laeveld Agrochem, en die talentvolle aktrise Mila Guy, het Bamberger in die tweede aflewering van dié gewilde en bekroonde TV-reeks (VIA, DStv-kanaal 147) se sesde seisoen besoek. 

Bonsaibedryf groei in Suid-Afrika

Bamberger is van mening dat heelwat plaaslike bonsaikwekerye en -kunstenaars se vaardigheidsvlakke nóú op ʼn professionele vlak is wat baie mense inspireer om self ondersoek na dié tydverdryf in te stel. “En met die digitale era se groot toegang tot inligting en die bemarking wat daarmee saamgaan, is dit nou ook baie makliker vir mense om te sien wat die kweek van bonsaiboompies behels.” 

Sy eie versameling boompies bestaan uit verskillende boomspesies van verskeie ouderdomme en groottes. Bonsaiboompies kan vir honderde jare leef as hulle goed versorg word. Daar is vier verskillende grootte-klasse en hulle hoogte wissel gewoonlik van ʼn paar cm tot sowat 1,5 m. Die Japannese kuns van bonsaiverbouing, wat uit omtrent 12 primêre style bestaan, het dit ten doel om boompies te produseer wat die vorm van werklike bome in die natuur so akkuraat moontlik naboots. 

Buiten die kweek en verkoop van hoëgehalte-bonsaiboompies, verkoop Bamberger se nisonderneming groeimedium, potte en ander toebehore wat noodsaaklik is vir die onderhoud van bonsais. Hy bied ook instandhoudings- en stileerdienste, sowel as werkswinkels, aan.  

Van R1 000 as geskenk tot R100 000 vir versamelaars

Bamberger sê as ʼn bonsaikunstenaar kan jy jou boompies aanlyn of op ander platforms soos kunstefeeste verkoop, of jy kan selfs jou eie kwekery begin. Die sukses van so ʼn onderneming hang grootliks af van jou vaardigheidsvlak om pragtige bonsaikunswerke te vorm. Die grootste mark is vir boompies tot en met sowat R1 000 en is tipies vir mense wat dit vir onder meer geskenke koop. Ongelukkig gaan baie van dié boompies dood, want mense is nie noodwendig ingelig hoe om hulle bonsais te versorg nie.  

“Dan is daar die R1 000- tot R10 000-prysklas wat gereelde belangstelling lok van die ernstiger verbouer wat sy storie ken. In die prysklas bo R10 000 is daar ʼn versamelaarsmark wat maklik R50 000 tot R100 000 vir ʼn boom sal betaal. So, as jy jonk begin en, sê, tien bome per jaar koop wat jy begin stileer, kan jy binne 40 jaar met ʼn versameling sit wat heel waarskynlik meer as R1 miljoen werd kan wees. Dit is natuurlik as jy die kuns verstaan en bemeester, wat ook redelik tyd neem.”

Suid-Afrika se mark ontwikkel goed, met heelwat nuwe kunstenaars wat na vore tree en goeie bewusmaking doen. Voorts besoek internasionaal bekende kunstenaars Suid-Afrika gereeld om demonstrasies te lewer wat help om die kuns plaaslik te ontwikkel. Bamberger glo dat die land se groot verskeidenheid unieke boomspesies goeie blootstelling aan die plaaslike bedryf op internasionale platforms gee en verder ontgin moet word om ons eie “Afrika”-handelsmerk te ontwikkel. 

“Daar is baie ruimte vir groei in Suid-Afrika. Ek skat dat so tussen 3 000 en 6 000 ernstige bonsaikwekers die stokperdjie beoefen. Die grootste nuwe belangstelling is van jonger mense van tussen 20 en 30 jaar oud wat baie positief oor die toekoms van die bedryf is.” 

Min spasie nodig om bonsaidroom te verwesenlik

ʼn Tuinspasie van 100m² is genoeg om met ʼn groot versameling te begin en met ʼn aanvanklike kapitaalbelegging van sowat R10 000 vir jou materiaal (bestaande boompies, steggies, groeimedium, ens.) en jou toerusting (potte, gereedskap, ens.), kan daar, afhangende van die materiaal wat gebruik word, aan die eerste 20 tot 100 boompies begin stileer word. Dit is egter noodsaaklik om elke jaar met nuwe boompies te begin, want dit neem ongeveer drie tot vyf jaar om ʼn boompie te ontwikkel tot op ʼn punt waar dit reg is om ʼn goeie prys te ontvang. Sodoende sal daar dus jaarliks boompies beskikbaar wees om te verkoop. 

Volgens Liebenberg voldoen dié bonsai-geleentheid aan alles wat jy graag in ʼn nisboerdery sou wou sien. “Mens kan afskop met relatief min kennis en toegang tot verdere inligting daaroor is maklik. Voorts het jy min spasie en kapitaal nodig en kan dit op enige plek in die land gedoen word. Dit het ook baie opwaartse potensiaal, met die moontlikheid om ʼn stewige inkomste op die lang termyn daarmee te verdien. Verder is dit iets wat geskik is vir oud en jonk.”

Bamberger sê dit help om ʼn goeie gevoel vir kuns te hê, want aspekte soos asimmetrie, diepte, balans en harmonie is noodsaaklik vir die skep van mooi boompies. Voorts moet ʼn aspirant-bonsaiverbouer ook ʼn grondige kennis van tuinboukunde hê, veral rakende die wetenskap van bome. “En moenie bang wees om die grenslyne te oorskry wanneer dit by aspekte soos tegnieke kom nie. Probeer altyd iets nuut en bly nederig en oop om by ander te leer. Dit is ook goed om jou eie, unieke handelsmerk te probeer ontwikkel. Wees geduldig. Om jou droom te verwesenlik, veral met ʼn bonsaibesigheid, neem tyd.” 

Vind meer uit oor Mooi River Bonsai by www.mooiriverbonsai.co.za

(Mooi River Bonsai het in Episode 2 van Nisboere Seisoen 6 op VIA, DStv-kanaal 147 verskyn. Dié program word deur Laeveld Agrochem geborg.)

Terug na blogs

Share
Tweet