Dit word die edelvesel van die tekstiel- en wolbedryf genoem en as ’n simbool van luuksheid en vooruitgang beskou.
Tog is sybokhaarprodukte, uit die vag van die Angorabok, bekostigbaar vir almal wat styl en gehalte voorop stel. Ondanks die persepsie van luuksheid, is dit nié buite die bereik van gewone salaristrekkers nie. Sybokhaarprodukte is boonop sterk, sag op die vel, duursaam en buitengewoon mooi vanweë die keurige weefmetodes en mooi kleurstowwe wat daarvoor gebruik word.
Suid-Afrika het sedert die ontstaan van Angorabokboerdery in Suid-Afrika sterk toegetree tot die plaaslike sowel as internasionale sybokhaarbedryf. Ons land is die grootste individuele vervaardiger en verskaffer van sybokhaar, met ’n produksierekord van 53% van die wêreld se sybokhaar. Die Karoo en die Oos-Kaap is die ideale omgewing vir Angoraboerderye, vanweë hierdie streke se kombinasie van droë, warm somers, koue winters en halfwoestynplantegroei.
Die boere hier het hul boerderymetodes oor baie jare só verfyn, dat ons land internasionaal bekend staan as produsent van topkwaliteit-sybokhaar. Die grondslag vir hierdie sukses word gelê deur hoë teelstandaarde en die fynste genetiese seleksie.
Mohair South Africa (ook genoem Sybokhaar Suid-Afrika – SSA), is die oorkoepelende beheerliggaam wat byna 100 jaar gelede gestig is om die sybokhaarbedryf in die land te verteenwoordig, te ondersteun, te versterk en internasionaal te bevorder.
As hoeksteen en kollektiewe stem van hierdie bedryf dra dit die belange van sybokhaarboere op die hart en speel veral ’n belangrike rol in die verskaffingsketting – van plaas tot produk. Die beeld van sybokhaar as luuksevesel moet gehandhaaf word, en dit word gedoen deur innovering en vernuwende denkrigtings oor alle tersaaklike aspekte rakende onder meer produksie en markblootstelling. Dit geskied deur internasionale samewerking en met die ondersteuning van en hulpverlening aan boere om volhoubare boerderypraktyke toe te pas. Die organisasie is uiters bewus daarvan dat dit ’n landbouvertakking is wat, deur die regte steun, besig is om groot treë te gee op Suid-Afrikaanse sowel as internasionale bodem. Dis hierdie bedryfsmetode wat, volgens Mohair South Africa, bewaar moet word vir volgende geslagte.
Mohair South Africa stel die hoogste standaarde, doen beeldbou hier en oorsee vir die bedryf en sy produkte, en speel ’n sleutelrol daarin om ’n lewendige netwerk van rolspelers dwarsoor die verskaffingsketting te skep. Dis ’n liggaam wat toesig hou oor boerderypraktyke, navorsing en ontwikkeling, opvoeding oor verskillende aspekte van die bedryf, sowel as opleiding vir nuwe boere en ander betrokkenes.
Die sybokhaarbedryf loop al ’n lang pad sedert die Sultan van Turkye in 1838 altesame 12 onvrugbare Angoraramme en een ooitjie aan ons land geskenk het. Wat hy nié geweet het nie, was dat die ooitjie dragtig was en op die roete hierheen geboorte geskenk het. Dié groepie bokke kan beskou word as die eerste Angorateelstoet in Suid-Afrika. Hulle is uiteindelik na bestemmings in die Karoo en die Oos-Kaap geneem.
Die res is geskiedenis. Meer bokke is tussen 1857 en 1868 na ons land ingevoer, totdat die sultan dit stopgesit het. In 1892 is die Angoraboktelersvereniging gestig, vandag bekend as die Angorastoettelersvereniging van Suid-Afrika.
Daar word op ongeveer 1 000 plase in Suid-Afrika met Angorabokke geboer, waarvan 700 kommersiële boerderye is en 300 kleinboere. Alle skeersels word na die Gqeberha-gebied gebring waar dit verwerk word. Dié stad se hawe is die enigste uitvoerhawe in Suid-Afrika vir sybokhaar.
Die Oos-Kaap en Karoo is die twee landstreke wat steeds as die voorlopers beskou kan word in ’n bedryf wat suksesvol hier tot stand gekom het en jaar ná jaar van krag tot krag gaan. Sowat 78% van die bedryf se boere is in die Oos-Kaap, 19% in die Wes-Kaap, en dan is daar in Gauteng ook nog ’n paar.
Karla Esterhuyse, in beheer van skakeling tussen Mohair South Africa en sybokhaarboere, het geen twyfel dat sybokhaarboerdery nie net uiters lonend is nie, maar dat die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf ’n groot toekoms voor hom het.
“Om ons sukses te meet, is sybokhaarveilings die aangewese plek waar verskillende produsente se aanbod gemeet word. Dis hier waar groot modehuise en klerevervaardigers opdaag om die beste van die beste aan te skaf,” sê sy. Volgens haar het Suid-Afrikaanse sybokhaar op onlangse veilings ’n gemiddelde prys van R373/kg gehaal, met die hoogste prys R930/kg. “Dit laat jou tot net een gevolgtrekking kom, en dit is dat dit ’n bedryf is wat lonend en gesog is.”
Die sybokhaar wat vir produsente ’n inkomste verdien, kom van bokke wat in drie ouderdomstipes verdeel word. Van die klein bokkies word daar per skeersel enigiets tussen 500 en 600 gram afgehaal, van volwasse ooie tussen 1,5 en 1,8 kilogram, en van volwasse ramme so tussen 2 en 3 kilogram. Die hoeveelheid skeersel per bok hang baie af van die klimaatstoestande waarin die bokke grootword. Daar moet ook in ag geneem word dat Angorabokke ’n konstante inkomste verdien, omdat hulle twee keer per jaar geskeer word. “Elke ses maande verdien die boer dus uit ’n skeersel. En dan moet ons onthou dat ’n Angorabok ’n lewensverwagting het van sowat agt tot tien jaar – dit bied dus 16 tot 20 skeersels. Terselfdertyd teel hierdie bokke ook aan, wat beteken dat jou inkomste uit die sybokhaar ’n stewige hupstoot kry. Boere verdien ook deur van die lammertjies in die lamtyd te verkoop. Dit alles bring ’n goeie omset mee, wat – met die regte boerderymetodes – vir sybokhaarboere ’n uitstekende inkomste lewer.”
Angorabokboere is baie gesteld op die weerstoestande en temperatuur om die beste resultate vir hul bokke se sybokhaar te verdien, sê Karla. “Hulle gee veral aandag aan die diere wanneer dit baie koud is … want so ’n bokkie is maar net soos ’n mens. Jy kan hom nie kaalskeer en hom nié teen die snerpende koue beskerm nie. Veral die kleintjies moet in skure toegemaak word. As jy mooi na jou diere kyk, is die lewensverwagting baie goed.”
Angoras is geharde diere met ’n hoë toleransie vir temperatuuruiterstes vanweë die isolasie-eienskappe van hul vag. Pasgeskeerde bokke vaar egter nie goed in erge koue, in baie nat of in winderige omstandighede nie. Wat leefomgewing betref, floreer hulle in droë, heuwelagtige of bergagtige omgewings met ’n redelike bosagtigheid.
Die Karoo kwalifiseer van die beste vir die produksie van ’n fyner haartipe, wat ’n hoër prys op veilings sal behaal. Hierdie streek se warm, droë somers en koue winters is die ideale omgewing hiervoor. Maar daarmee saam hang die menslike faktore … dit is noukeurige teelpraktyk, voeding en algemene versorging om te sorg dat sybokhaar van die hoogste gehalte geproduseer word.
Angorabokke bied altyd ’n uitstekende waarde, solank jy goed na hulle kyk, sê Karla.
Die sybokhaartipes word volgens ’n graderingstelsel verdeel: die ruwe haar wat jy kry net nadat die bokke geskeer is; daarna die gewaste en gekamde haar; en dan die derde fase, die verfynde haar wat uitgevoer word. Sowat 80% van hierdie laaste groep word uitgevoer. Sybokhaar word ook verwerk tot bolle wol wat plaaslik of oorsee verkoop word. In die buiteland is daar ’n groot vraag na Suid-Afrikaanse sybokhaar, veral uit China, Italië en Taiwan. Van die totale Suid-Afrikaanse produksie word 95% uitgevoer. “Die Italianers is aankopers vir produkte wat die fyner segment van die mark bedien … en hiermee bedoel ek jou kleinbokkiehaar. Hierdie fyn haartipe word gebruik vir verwerking in byvoorbeeld duursame manspakke. Dit is wat groot modehuise soek,” vertel Karla.
Die Japannese modehuis Miyuki is een van die grootste aankopers van ons sybokhaar, met plase in die Prins Albert- en De Rust-gebied, onderskeidelik die Van Hasselt-boerdery en Middelplaas, wat uitstekend vaar op sybokhaarveilings in die Baai.
Mohair South Africa staan nuwe boere graag by om met ’n Angorabokboerdery te begin. “Dis onder andere waarom ons hier is,” sê Karla. “Voornemende boere kan my gerus kontak. Ons sal aan so iemand al die inligting en raad verskaf oor hoe om te begin. ’n Goeie begin is natuurlik jou eie stukkie grond en ’n liefde vir diere. Ons sal selfs so ’n plaas besoek en opleiding verskaf. Ons makelaars speel ’n groot rol … van inligting oor die versorging van bokke en hoe hulle grootgemaak moet word, tot hoe om goeie wins uit ’n boerdery te verdien.”
Karla sê hoewel die sybokhaarbedryf in Suid-Afrika goed op die been is, speel bewusmaking ’n ongelooflike groot rol sodat die bedryf kan bly groei. Die aantal produkte wat sybokhaar vervaardig word, is eindeloos, maar van die gewildstes is klere, matte, gordyne, serpe en handsakke – met sokkies een van die topverkopers.
Hierdie nisproduk bied tallose geleenthede, sê sy. “Ons bied opleiding deur middel van inligtingsessies en ons werk nóú saam met skole, universiteite en selfs die New Yorkse Modeskool. Ons leer ontwerpers hoe daar met sybokhaar gewerk kan word.”
“As jy mooi na jou bokke kyk, sal hulle goed na jóú kyk,” sê Karla.
- Volg @Mohair South Africa (Sybokhaar Suid-Afrika) en die Angorastoettelersvereniging op sosialemedia.
- Vir meer inligting, nader Mohair South Africa by www.mohair.co.za, vul die kontakvorm in by www.mohair.co.za/contact, skryf aan marketing@mohair.co.za of bel 041 581 1681.
- Die Angorastoettelersvereniging: angoras.co.za, 082 788 0308
- Mohair South Africa: Fordyceweg 127, Walmer Gqeberha (Port Elizabeth) 6670.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za