DINK GRÓÓT

Sow Delicious: Van motorhuis tot “moddersjokolade”-fabriek

Vanessa Jacobs se entrepreneursverhaal het ontstaan waar die meeste ondernemers se maatskappye begin – met passie, skeppende denke en ’n sin vir selfversorging.

Toe sy en haar gesin 13 jaar gelede van Pretoria na George verhuis het, wou sy saam met die vernuwing van omgewing ook vernuwing in haar eie lewe bring – en dit is om haar jare lange droom te verwesenlik. “Ek het besluit ek wil vir myself ’n groentetuin aanplant om gesonde kos vir my gesin en my vriende te verskaf; om op die eenvoudigste manier ’n tuin te kweek wat perfek is vir kosliefhebbers.”

So gesê, so gedaan, en Vanessa vertel dis tydens haar navorsing oor die hoe en wat van groente kweek “dat ek ’n hele nuwe wêreld van saad ontdek het. Dis ook tóé dat ek besef het as ek die gesondste en die smaakvolste kos wil voorsit, ek groente uit erfenissaad moes kweek.”

“Erfenissaad” was vir haar ’n hele nuwe ontdekking, en sy het geleer dit is die saad van plante wat vir geslagte lank – gewoonlik vir minstens 50 jaar – op ’n natuurlike manier deur boere en tuiniers gekweek en bewaar word, dat die plante natuurlik deur insekte, wind of voëls bestuif word, dat dit nie geneties gemodifiseer of in ’n laboratorium ontwikkel word nie, dat die saad plante lewer wat presies soos die ouerplant lyk, en dat jy die sade aan die einde van die seisoen oes en bêre en volgende jaar weer plant om dieselfde kwaliteit te kry; ook dat dit bekend is vir die uitsonderlike geure en ryk kleure van die plante wat daaruit voortgebring word.

Haar belangstelling was nou deeglik geprikkel en ’n magdom idees het ontstaan, “soos hoe ek die eenvoudigste manier kan vind om ’n tuin aan die gang te kry wat perfek is vir ’n kosliefhebber.”

Dis tydens haar internet-navorsing om kwaliteitprodukte van oorsee in te voer dat sy afgekom het op saamgeperste saad wat, ter wille van maklike versending, kompleet soos ’n mooi verpakte sjokoladeplak lyk – die sogenaamde Slab of Seed. 

Vanessa het onmiddellik haar idee prakties begin uitvoer deur met probeer-en-tref dieselfde reg te kry. “Ek het die erfenissaad eers self probeer en my heel eerste tuin hiermee aangelê. Toe die tuin suksesvol was, het ek besef ek kan dalk nou ’n produk vervaardig en verkoop. In 2013 het ek in ons motorhuis met so ’n vorm begin eksperimenteer; nou word ons saad-slabs op groot skaal met die hand gemaak in wat ek ons klein moddersjokoladefabriek noem. Dit word vervaardig uit ’n spesiale mengsel van organies verrykte supergrond propvol erfenissaad, van verskeie plantsoorte.”

Hier, in die distrik Eden, op die Kaapse Tuinroete, het hierdie konsep só posgevat en wyd aanklank gevind, dat Sow Delicious as volwaardige maatskappy gevestig is, deesdae met ’n webtuiste waar saad- en plantentoesiaste van oraloor dié kwaliteitsaad in mooi verpakkings kan aankoop. 

Die saad-blokke hou water drie keer langer as gewone grond, is maklik om in stukkies af te breek en daarna reg te spasieer en te plant. Die bygevoegde grond-probiotika bring boonop sterker plante voort en lewer gesonde oeste. “Die saamgeperste saad lyk dalk soos ’n plak sjokolade … maar jy plant dit eers blokkie vir blokkie; dan groei dit, en uiteindelik eet jy dit!

“Hier sit ons nou, meer as 12 jaar later, met die Slab of Seed wat perfek is vir tuinmaak-nuwelinge! Ek het nooit juis groen vingers gehad nie, maar ek was nog altyd mal oor plante. Ek hou van tuinmaak, maar om ’n hele tuin van voor af aan die gang te kry was vir my ’n uitdaging. Ons het die slabs spesifiek ontwikkel en ontwerp om ’n bepaalde dikte te hê, sodat dit maklik in die grond gesit kan word en die saad maklik kan ontkiem. Al wat jy doen, is om ’n blokkie nét onder die oppervlak te plant. Dit is die beste posisie en die beste diepte vir die plant – nie te diep om te sukkel om aan die gang te kom en dalk dood te gaan nie, en nie te vlak nie sodat dit nie wegspoel nie. Die saamgeperste saadblok word vooraf met organiese bemestingstowwe behandel sodat elke saadjie van die begin af gevoed word. Die blokkies anker ook die saad sodat dit nie maklik uit die grond kan loskom as dit reën of as jy dalk te veel water gegee het nie.”

Vanessa het met ontwerpers saamgewerk om ’n keurige verpakking die lig te laat sien waarop die aard van die saad maklik herkenbaar is, saam met gedetailleerde aanwysings oor die plantproses. “Daar is ook inligting oor hoe lank dit gaan neem om uit te spruit, hoe lank dit vir die plante gaan vat om volgroeid te wees en wanneer hulle geoes kan word. Dit vertoon elke denkbare detail en dek alle moontlike vrae. Ons doen die maksimum om elke koper die beste moontlike kans op sukses te gee.”

Vandag is Vanessa self nog effens verstom oor die groot sukses waarin haar passie vir plante en veral groente ontwikkel het. “Dit is presies wat Sow Delicious vandag is … ek het kennis opgedoen oor hoe ’n mens maklik jou eie kos kan kweek, en ek kan nou daardie kennis en inligting aan ander oordra.”

Die grootste wonder van hierdie konsep is dat een so ’n “modder-saadplak” jou minder as R100 kos. “Soos vir ons tamatiesaad … uit een plak kan jy 12 verskillende soorte tamatieplante kweek, wat neerkom op sowat 3 000 tot 5 000 tamaties. Jy kan met ander woorde genoeg kos kweek vir ’n hele gesin, en dit op ’n klein stukkie grond – selfs in groot plantpotte.”

Sow Delicious het so goed gegroei dat Vanessa deesdae twee werknemers het aan die produksiekant, ’n bedryfsbestuurder en ’n finansiële bestuurder, terwyl sý sorg vir nuwe besigheid en vernuwende skeppende idees. “Die heel eerste werknemer was my huisbestuuurder wat toe voltyds na die onderneming geskuif het. Dit het haar van die begin af soos ’n handskoen gepas. Ons is ’n piepklein spannetjie wat elke jaar tussen 60 000 en 70 000 saadplakke produseer.” 

Volgens Vanessa is entrepreneurskap eenvoudig net in sommige mense se bloed, “maar jy moet jou ondernemerskap self ontdek. Ek het nou gesien dat ek eintlik ’n gebore entrepreneur is. Dis iets wat nooit gaan verdwyn nie. Entrepreneurs is meestal mense wat innoverend dink, iemand wat ’n geleentheid identifiseer wat niemand anders raaksien nie. Daar gaan altyd mense wees wat jou vertel jy kan nie doen wat jy graag wil doen nie. Ja, natuurlik is daar altyd ’n kans op mislukking, dat dinge nie gaan uitwerk nie, maar ek het ook geleer dat daar in die lewe nie iets soos mislukking bestaan nie, net lesse om te leer.”

  • Vir meer inligting, volg @Sow Delicious op sosialemedia. Besoek www.sowdelicious.co.za, skryf aan grow@sowdelicious.co.za, bel 083 563 8687 of WhatsApp 067 886 7070.
  • Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.