DINK GRÓÓT

Só pluk jy nog meer vrugte vir jou arbeid

Die vraag na organiese produkte wat nie met plaagdoders besmet is nie, neem eksponensieel toe, beide in Suid-Afrika en in die res van die wêreld. Nisboere het onlangs kers opgesteek by Bruce en Alison Gilson van Tierhoek Cottages and Organic Farm in die Robertson-distrik.

Bruce en Alison boer nie net organies nie, maar hulle boer ook slim, aangesien hulle elke aspek van hul eie boerdery optimiseer, terwyl hulle ook op verwante markte soos ekotoerisme kapitaliseer. As sodanig het hulle vyf verskillende sjarmante kothuise wat hulle dwarsdeur die jaar aan toeriste verhuur wat graag die plaas- en natuurlewe wil ervaar. 

Uit hul ervare hande is daar ook ’n unieke reeks onder die Fruit Cellar-handelsmerk gebore. Fruit Cellar is ’n reeks konvensionele, sulfaat- en preserveermiddelvrye droëvrugte met ’n ongewoon wye verskeidenheid. 

Om hul produkte te skep, koop hulle by ander plaaslike boere vrugte aan wat andersins weggegooi sou word, omdat dit óf oorryp is, óf nie groot genoeg is nie. Op dié manier verminder hulle vermorsing, en ondersteun en verseker die volhoubaarheid van hul eie plaas en al die werkers van die gemeenskap wie se lewensbestaan van hulle afhang.

In hul kern is hulle egter ten volle gesertifiseerde organiese boere met ’n boordplaas wat ’n verskeidenheid van organiese vrugte produseer. Dit sluit in appelkose, pruime, kwepers en suurlemoene waarvan hulle suurlemoenmarmelade maak, sowel as olywe wat vir die produksie van olyfolie gebruik word.

Hulle het ook spesiaal met ’n groentetuin begin waar hulle seisoenale groente vir hulself en hul span kweek, sowel as vir gaste wat hul kothuise besoek. Een van hul hoofdoelwitte as organiese boere is om volhoubaarheid en ekologiese bewustheid te integreer met al hul aktiwiteite. Dienooreenkomstig gebruik hulle meestal sonverhitting en ’n elektriese gholfkarretjie vir vervoer op die plaas. 

Al die droëvrugte wat deel vorm van hul Fruit Cellar-reeks word verpak in bio-afbreekbare verpakking van Good for the Ground wat 100% uit stysel gemaak is. Hulle herwin ook al hul vullis, en enige organiese afvalmateriaal word aan hul varke en hoenders gevoer. Boonop gaan haal Bruce gebruikte kookolie by plaaslike restaurante en omskep dit in biodiesel vir hul trekkers en plaasvoertuie.

Soos jy kan sien, is organiese boerdery nie net goed vir menslike gesondheid en die natuur nie, maar indien jy dit reg doen, is dit ook goed vir jou sak!

So wat presies verg dit om jou boerdery organies gesertifiseer te kry? Wel, jou boerderybedrywighede sal deur ’n onafhanklike sertifiseringsagentskap geïnspekteer moet word om organiese egtheid te verifieer, wat gewoonlik oor ’n tydperk van drie jaar plaasvind.

Om die “toets” te kan slaag, sal jy moet bewys dat:

  • Daar vir minstens drie jaar geen skadelike chemikalieë aan jou gewasse toegedien is nie
  • Al jou jaarlikse inspeksies vir sertifisering oor dié tydperk plaasgevind het
  • Daar gedetailleerde en ouditeerbare rekords is van jou organieseboerderypraktyke
  • Jy ekovriendelike stowwe en metodes gebruik het om die grond te verbeter en plae te beheer

Die goeie nuus is dat daar twee vlakke van klassifikasie vir organiese boerdery is, genaamd, “Organic Certified” en “Organic in Conversion”. Laasgenoemde laat jou toe om jouself solank op die mark te posisioneer as ’n boer wat besig is met omskakeling na organiese boerdery, terwyl jy deur jou formele driejaarproses van sertifisering gaan. Klik hier vir meer info oor so ’n proses.