Op die plaas Waterval in die Cederberge is dit ’n saamstaan-familie se omgewingsbewustheid wat die afgelope meer as 20 jaar hul suksesvolle organiese verbouing van hoofsaaklik rooibos en boegoe moontlik maak.
Hieruit het gespruit die oprigting in 2007 van hul maatskappy, Skimmelberg, vernoem na die skouspelagtige berg teenaan die plaas. Dié onderneming spits hom toe op die oes, verwerking, verpakking, bemarking en uitvoer van verskeie verwerkte vorme van albei plante wat natuurlik in die omgewing voorkom.
Jare gelede al het die plaaseienaars besef dat ’n boerdery floreer as jy ten volle benut wat die omgewing jou bied. Daarom was boegoe en rooibos as hoofgewasse ’n voor die hand liggende verbouingskeuse, terwyl sitrusvrugte – wat ook goed in die omgewing aard – ’n aansienlike deel van hul lewering vorm. Biodiversiteitsvriendelike, volhoubare boerderymetodes, in harmonie met die natuur en sy natuurlike hulpbronne, vorm die kern van hul landboupraktyk.
Deesdae voer Skimmelberg organies verboude rooibos en boegoe op groot skaal uit, maar verwerk en verpak ook kleiner hoeveelhede onder hul eie handelsmerk.
Kyle Janse van Rensburg, hoofbestuurder van ’n hele paar van Skimmelberg se verwerkingsgeriewe, sê kennis wat van geslag tot geslag oorgedra is, vorm die grondslag van hul landboubenadering. “My ouers het ’n groot rol gespeel om die besigheid te bring tot waar dit vandag is.”
Terwyl sy broer, Jan-Hendrik Slabbert, verantwoordelik is vir produksie, is hul pa, Jannie Slabbert, die een wat hom toespits op die aanplant en verwerking van rooibostee. “My ma, Ria, wil nie dat ons dit sê nie, maar sý is eintlik die baas.”
Volgens Jan-Hendrik vorm die organiese rooibos- en boegoeboerdery, saam met die sitrusvrugte, die grootste afdeling van Skimmelberg. “Hoewel die sitrusvrugte nie as organies gesertifiseer is nie, gebruik ons geen gifstowwe daarop nie, wel so nou en dan ’n bietjie kunsmis wat ons self op die plaas vervaardig.”
Ria sê Skimmelberg as maatskappy is op die been gebring omdat hulle die noodsaaklikheid van ’n bemarkingsarm vir die boerdery besef het. “Skimmelberg het tot stand gekom sodat ons waarde kan toevoeg tot al ons eie produkte en dit self kan verkoop. Die berge hier is die boegoeplant se natuurlike habitat.”
Boegoe was vir hulle ’n goeie beginpunt, en die uitbreidingsmoontlikhede talloos. “Só het ons boegoeaanplantingsprogram in die jaar 2000 begin.”
Hulle het ’n ver pad van ontwikkeling geloop, wanneer hy nou terugkyk op hul organiese boegoe- en rooibosboerdery, sê Jan-Hendrik. “Ons vang ons eie saad op; ons het dus ook goeie beheer oor watse blokke en boegoefamilies ons wil gebruik. Aanpassing is baie belangrik, want daar is sekere aspekte in die boegoe wat elke seisoen anders is. Daarvolgens beplan ons watse saad uit watse blokke ons wil opvang. Daarna plant ons dit uit, so 20 000 plantjies op ’n hektaar wat ons alles onder drupbesproeiing sit. Boegoe kom met min water oor die weg, behalwe in die hoogsomer. In die winter is water glad nie nodig nie. Sodra die plantjies uitgeplant is, gebruik ons baie mikroörganismes om te help met wortelvestiging. Ekstra voedingstowwe word toegedien om die wortelstelsel vinnig te anker.”
Dit duur so twee, drie jaar voordat boegoeplante in volle produksie is, sê hy. “Dit hang af van jou omgewing, hoogte bo seespieël, die helling waarteen jy plant … maar dis moontlik om gemiddeld tussen 2 en 6 ton per hektaar boegoe af te haal.”
Boegoe word met ’n sekel geoes en dadelik in sakke gesit, “maar omdat dit ’n baie nat produk is, moet dit nie langer as so 90 minute in die sakke bly nie. Daarna gaan dit na die distillasie-aanleg, gevolg deur die droogkamers”.
Boegoe word glad nie in die son drooggemaak nie, volgens Ria. “Ons maak dit onderdak droog om seker te maak dit behou sy kwaliteit en sy kleur. Sodra dit droog is, word dit geklas en volgens bestellings gesorteer.
Daar is meer as 70 spesies boegoe, sê Ria. “By Skimmelberg plant ons die Agathosma betulina aan – dis die spesie met die hoogste medisinale waarde, saam met nog ander voordelige eienskappe.”
Boegoeblare, boegoesnysels, asook boegoepoeier is van die produkte wat deur Skimmelberg verwerk, verpak en verkoop word. “Wanneer die boegoe klaar verwerk is, net soos in die geval van rooibos, word dit na ’n onafhanklike laboratorium gestuur vir mikrobiologiese toetse. Die terugvoering wat ons kry, verseker dat die produkte wat ons verpak, verkoop en uitvoer, absoluut op standaard is.”
Skimmelberg is verantwoordelik vir die rou produk, die droë produk en mooi, verpakte teeboksies, natuurlik ook teesakkies. Boonop word van die tee met ’n hele paar ander geure vermeng om die verskeidenheid en bemarkbaarheid uit te brei. Skimmelberg Fynbos Oils, ’n sustermaatskappy, is verantwoordelik is vir die distillasie van Skimmelberg se boegoe, ook vir die verkoop van die boegoe-olie. Nog produkte is Cape Kingdom Organic Detox Buchu Tea, asook ’n verskeidenheid medisinale produkte vir menslike gebruik. Die Ricky- medisinale reeks met sy boegoe-ekstrak word spesiaal voorberei vir katte en honde, “want net die beste is goed genoeg vir ons troeteldierkinders”, meen Ria.
Boegoedrankies of -aftreksel is goed vir spier- en skeletpyn, swelling in die hande en voete, verkoues, koors, swak spysvertering en maagsere, jig asook artritis.
Wat maak ’n plaas, dikwels met ’n verskeidenheid produkte en entiteite, sowel as ’n uiteenlopende werkspan, suksesvol? Dis ’n vraag wat veral ’n familie wat saamboer hom gereeld moet afvra, meen Kyle. Daar word op presies dieselfde manier omgesien na familielede, die hele werkspan en die omgewing waarin ons almal werk. “As familie op een plaas is samewerking van die grootste belang – en dit sluit elke werker in … ons beskou hulle as deel van die familie. Baie werkers wat in hul loopbaan wil vorder, word in posisies geplaas waarin hulle kan groei. Ons stuur lede van ons werkspan gereeld op kursusse, sodat hulle eienaarskap kan neem van die omgewing waarin hulle werk en die rol waarin hulle geplaas is.”
Omgee vir die omgewing is ewe noodsaaklik om ’n onderneming se toekoms te verseker, sê hy. “Ons boer organies, want ons wil seker maak dat die omgewing wat ons nou het, oor ’n eeu nie net dieselfde is nie, maar selfs beter is. Ek dink dit is die passie van Skimmelberg.”
- Draai af van die N7 op die Marcuskraalpad om by hierdie sonderlinge boegoe-en-rooibosplaas te kom.
- www.skimmelberg.co.za; e-pos: sales@skimmelberg.co.za
- Tel: +27 27 482 1771
Volg @Skimmelberg en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.