DINK GRÓÓT

Shere Homestead: van bestaansboerdery tot gesogte nisverskaffer

Shere Homestead, ’n hoogs produktiewe stadsplasie in die ooste van Pretoria, het in 2020 sy eerste tree gegee toe die wêreld op sy knieë was weens die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkingsmaatreëls. In die hartjie van dié onseker tyd het Werner en Yulia Olivier ’n uitsiglose situasie gesien as ’n geleentheid om bestek op te neem van hul sielkundige én materiële bates – en vandag spog hulle met ’n volhoubare boerdery wat suiwelprodukte, vis en organiese produkte lewer. ’n Splinternuwe leefstyl het binne net vyf jaar hul hele lewe verander. 

Dat dit binne ’n relatief kort tydjie van niks tot winsgewend ontwikkel het, het dapperheid, kreatiwiteit en harde werk geverg. Toe die meeste mense die toekoms gevrees het, het die Oliviers besluit dis die ideale tyd om as gesin saam iets te doen wat hulle nog altyd wou; dit is om hul eiendom maksimaal te benut en ’n kleinskaalse boerdery te begin, aanvanklik vir tuisverbruik.

“In die Covid-tyd was ons vasgevang op ons stukkie grond. Ek en Werner het besef ons het genoeg ruimte om iets daarmee te doen, natuurlik eers om net vir onsself te produseer,” vertel Yulia. Terwyl voedselsekerheid in hierdie onbestendige tydperk ’n dwingende gedagte by die meeste mense was, het die Oliviers begin om eers net ’n ruimtetjie van sowat 24 m² buite hul kombuis in ’n voorstedelike bestaansboerdery te omskep. 

“Ons het op ’n baie klein skaal begin aanplant, maar redelik gou agtergekom ’n mens produseer baie meer as wat jy self gebruik,” vertel Werner. “Ons moes kommersieel begin dink. Terwyl ons besef het ons sal die boerdery moet uitbrei, moes ons ook seker maak dat ons nie te veel geld bestee nie.”

Van toe af het dinge taamlik vinnig gebeur. “Ons het al hoe meer produkte aan die gemeenskap om ons begin verkoop, en al hoe groter boerderysisteme in werking gestel.”

Akwaponika was volgende op die doenlys – dit is om vis te teel en plante te kweek in dieselfde omgewing, binne ’n ekologies gebalanseerde verhouding. Dié stelsel is begin vanjaar deur Kleinskuur Boerdery Aquaponics hier in werking gestel.

“Met die produksie van ons hoëkwaliteitgroente op ’n baie klein skaal het ons ontdek ons kan ook groente buite seisoen lewer. Wanneer ander boere byvoorbeeld sukkel om slaaikoppe te verskaf omdat dit te koud is, bied akwaponika ons die moontlikheid om daardie gaping te vul.”

Hoe groter hul sukses, hoe meer het Shere Homestead se aanbod uitgebrei. Deesdae hou die Oliviers beeste, hoenders en varke aan, “en ons is nou besig om ’n voersisteem te ontwikkel waarmee ons vir ons diere deur middel van ons akwaponikastelsel self kos kan produseer. Dit maak ons heeltemal onafhanklik van enigiemand daarbuite. Ons hoef niks meer vir ons diere in te koop nie,” vertel Werner.

Groente soos tamaties, komkommers, rissies en eiervrug, basielkruid, spinasie en slaaiblare is maar ’n paar van die groentesoorte hier. Daar is selfs ’n paar draakvrugplante, die Thai True Purple, wat die Oliviers vier jaar gelede by die maatskappy Livingseeds Heirloom Seeds aangekoop het en, soos die meeste van hul groenteplante, nou in die akwaponikastelsel met sy houers vol gruis floreer. Hul hoenders verskaf die plaaseiers, en die Dexterkoeie wat die egpaar in 2020 aangeskaf het, is verlede jaar as stoet geregistreer. “Ons is trots daarop dat ons stoet nou as die Shere Homestead Stud bekend staan.”

Nog ’n trotse verbetering op die plasie is ’n onderdakstruktuur van 40 x 10 meter met ’n dam waarin meer as 1 000 visse aangehou word, saam met honderde plante in die gruishouers. ’n Spesiale stelsel wat die watertemperatuur reguleer, sorg dat die Oliviers heeljaar kan oes. 

Yulia voel dat Shere Homestead nog nie sy plafon bereik het nie. “Ons droom is om uit te brei, maar ons het ook ekotoerisme in gedagte. Daar is so baie mense wat graag hierheen wil kom om te sien wat alles hier aangaan. Ons het byvoorbeeld al met skole begin praat om leerders hierheen te bring sodat hulle meer van boerdery en veral van akwaponika kan leer. Stadskinders moet leer hoe koeie gemelk word, hoe daar met hoenders geboer word en waar eiers vandaan kom. Hulle moet sien waar hulle kos geproduseer word. Ons stadsplasie is toeganklik vir mense wat nooit die kans kry om te sien hoe ’n boerdery prakties werk nie.”

Shere Homestead is vir die Oliviers ’n hele nuwe leefstyl, terwyl dit groot opvoedkundige waarde vir hul kinders en vriende bied. “Ons kinders se maats is mal daaroor om hier te kom kuier en byvoorbeeld die beeste te voer. Ons het ’n goeie, plattelandse leefstyl in die stad gevestig wat vir ons ’n wonderlike ervaring is – een wat ons graag met ander mense deel,” sê Yulia.

Daardie heel eerste stap, om daad by die woord te voeg en ’n eie boerdery op die been te bring, was hul grootste uitdaging, volgens haar. “Infrastruktuur was nodig, en daarvoor is kapitaal nodig. Om die akwaponikastelsel te vestig was duur.”

Werner beaam: “Dinge soos die kweekhuis, die pompe, die saadaankope. Jy moet vooraf deeglik beplan en begroot. Jy wéét jy gaan taamlik geld nodig hê. Dit beteken jy moet spaargeld eenkant sit of ’n lening kry om met die projek te begin. Dan, wanneer alles begin werk, moet jy ’n mark vir jou produkte vind. Jy moet leer wanneer jy wat kan en moet produseer, dus watter gapings in die mark jy kan vul. Want dit gebeur soms dat jy sekere dinge op sekere tye produseer – dan sit jy skielik met baie van ’n produk waarvan jy ontslae moet raak.”

Hierdie tydsberekening en beplanning moet by hul produksievermoë inpas. “Vir kleinboere is dit nie altyd maklik om die regte markte vir jou produkte te vind nie. Hulle het nisprodukte, altyd van ’n hoë gehalte … dus is dit raadsaam dat hulle met kleiner handelaars kennis maak en hulle van jou kennis neem.”

Die uitdagings van kleinboere soos die Oliviers verskil dus heeltemal van dié van groot kommersiële boere. “Met organiese produkte kry jy nie altyd uit wat jy eintlik veronderstel is om te verdien nie,” sê Werner. “Dis op hierdie gebied waar ons fyn moet kyk hoe en waar ons behoort te bemark om wins te toon. Gelukkig het ons nou al ’n paar vertroude afsetplekke. En dit bring my weer by dit wat een van die belangrikste aspekte van ons besigheidsmodel is … om verhoudings te bou en altyd daarop te kan staatmaak.”

Yulia sê hul onderneming is uiters bevredigend, maar alles loop nie altyd seepglad nie. “Ons het ’n landbougemeenskap na wie ons ons kan wend om te help, mense wat deur dieselfde uitdagings moes worstel. Dis sulke mense by wie jy hulp en raad kry. Hierdie netwerk van ondersteuners maak dinge soveel makliker.”

As jy daaraan dink om ’n soortgelyke tipe onderneming op die been te bring, “doen jou navorsing sodat jy weet waarvoor jy jou inlaat,” meen Werner. “Jy moet ook wéét dat jy nie mag tou opgooi wanneer dinge moeilik begin lyk nie, want dis deur ervaring en deursettingsvermoë dat jy leer. As jy dit alles begin regkry, moet jy weet jy is besig om sukses te behaal. Sorg dat jy bly groei!”

Jacqui Taylor van Agritourism Africa sê Shere Homestead se besigheidsmodel en vooruitgang onderskryf haar positiewe houding oor die Suid-Afrikaanse landboubedryf. “Ek hou baie van die Oliviers se siening dat hul plasie ook ’n opvoedkundige doel dien. Soveel buitelanders kom spesiaal na ons land om van ons boere te leer, om hul stories te hoor, om te sien watter uitdagings en risiko’s hulle oorkom.”

En dis presies waarom Shere Homestead se verhaal so inspirerend is.

  • Volg @Shere Homestead op sosialemedia. Vir meer inligting, skryf aan yaolivier@randed.co.za of bel 079 165 7221.
  • Besoek Agritourism Africa by www.agritourismafrica.com of bel 012 643 3407.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za