DINK GRÓÓT

Selfdoen … van koffieboon tot koffiebeker

Koffie is ’n internasionale taal, lui die spreekwoord. Dis met ’n beker in die hand dat die meeste van ons ons dag afskop. Dís hoe ons deur ons dagtaak kom. En dis net ’n lekker koppie koffie wat vreemdelinge in vriende kan verander. Want, sê sielkundiges, koffie se unieke aroma het ’n gerusstellende uitwerking op die psige. 

Die Burgers van FootHills Coffee by Witrivier in Mpumalanga stel egter dié voorwaarde – dit is dat die koffieversnit perfek moet wees om te sorg vir ’n unieke smaakgenot waarna mense sal blý vra. 

Perfeksie is inderdaad wat hierdie gesin op hul plaas nastreef: topkwaliteitkoffie geproduseer uit die beste kultivars, in ’n streng beheerde aanplant-en-produksieomgewing, en dit vanweë persoonlike aandag aan elke stap van die verbouingsproses. Hul beleid is plant self, pluk self, verwerk self, verpak self, versprei self. 

Dokumentasie toon dat dit die Voortrekkers is wat destyds koffie na die Laeveld gebring het, vertel Carel Burger, seun van die eienaar. “Hulle het die bome aangeplant soos hulle verder getrek het. Dis eintlik hoe die koffiebedryf in Suid-Afrika ontstaan het.” Die Burger-gesin het in 2014/2015 met die aanplant van koffiebome begin nadat hulle met een in hul tuin begin eksperimenteer het. Hulle het algaande besef dat dit ’n gebied is wat die ideale groei-omgewing vir baie soorte plante bied. 

Tien jaar later produseer FootHills ’n unieke smaak wat die resultaat is van perfekte klimaatsomstandighede, naamlik die mikroklimaat van die Drakensberg-voetheuwels op die rand van die Kruger-biosfeer in Mpumalanga.

Hul deeglike navorsing oor die moontlikheid van ’n koffieplantasie het getoon dié plante sal beslis goed aard hier. Dit was ook in dié tyd dat hulle besef het die ryk grond onder die 800 makadamianeutbome wat hulle oor ’n tydperk van vyf jaar aangeplant het, is heeltemal onbenut. “Toe ons makadamiabome groot en gevestig was en baie skaduwee daaronder gebied het, het ons koffiebome daar begin plant.”

Uiteindelik het die kombinasie van son-en-skaduwee onder die makadamias ’n reuse-rol gespeel in die koffiegehalte, het hulle gevind. “Dit is wat aan FootHills se koffie so ’n besonderse smaak gee. Ons het die makadamia- en koffieboerdery stukkie vir stukkie opgebou, stadig, oor ’n lang tyd. Toe ons sien hoe goed die makadamiabome hier aanpas, het ons die boerdery begin uitbrei.”

Koffie is ’n tropiese plant, volgens hom. “Die bome groei goed in die skaduwee, en ons klimaat by tussen 800 en 1 000 meter bo seespieël is ideaal daarvoor.” 

Die Burgers het ook agtergekom die skaduryke groeiomgewing het nie net ’n positiewe uitwerking op die gehalte van die koffie nie, maar sorg ook dat die insetkoste baie laer is. “Die natuurlike skaduwee maak dat ons minder bestee aan dinge soos plaagbeheer. Oor die algemeen word die bedryf op die meeste plekke in die wêreld in volle son gedoen. Die produksie is dan dalk hoër, maar jy verloor wat kwaliteit betref. By FootHills is die hoogste gehalte egter prioriteit, en die son-skaduwee-verhouding het baie hiermee te doen.”

Aanvanklik is “koffie”, wat “stimulerende drank” beteken, in die 9de eeu in Ethiopië ontdek, waarna dit na Noord-Afrika, Persië, Europa en die Amerikas versprei het. Brasilië en die Ivoorkus is vandag twee van die wêreld se voorste koffieprodusente, met Suid-Afrika wat toenemend sy verskyning in hierdie mark maak. Die twee algemeenste spesies is Coffea canephora (ook bekend as Coffea robusta) en Coffea arabica, wat in Latyns-Amerika, Suidoos-Asië en Afrika verbou word. 

Volgens Carel verskaf die meeste koffieplase hul produk aan ander maatskappye om dit dan verder te verwerk, te verpak en te versprei. FootHills, omdat dit ’n tipiese familiebesigheid is, doen alles self, van masjinerie bou, tot plant en pluk. “Ons sit die bone deur die verpulpmasjien, waar die rooi velletjie van die bessie geskei word, ons droog alles self, ons fermenteer alles self. Ons werk baie hard.”

In Suid-Afrika is arbeidskostes redelik hoog, vertel hy. “Om dus lewensvatbaar te bly, moet jy van begin tot einde self inspring. En om die heel beste gehalte te lewer, moet jy self in beheer bly van die volle produksieproses. As daar nie foute tussen-in ontstaan nie, is dit omdat jy weet jy het ’n hand op elke stap. Jou koffiebone lê byvoorbeeld nie ’n maand lank by ’n fabriek sonder dat iets daarmee gedoen word nie. Elke deel van die produksielyn word streng gekontroleer, foute word tot die minimum beperk,” sê hy.

In 2022 het FootHills sy eie 12 kg-roostertoestel aangekoop, wat dit vir hierdie ondernemende boerdery moontlik maak om met sy koffieversnit te bly eksperimenteer. 

Soos in die geval van suksesvolle entrepreneurs is FootHills se vooruitgang gebou juis op die unieke aspekte wat die onderneming bied. Vertikale integrasie, met ander woorde, ’n oog en ’n hand op hul hele bedryf, is hul leuse. “Dis hoekom ons ook ’n eie, unieke koffieversnit oftewel koffiemengsel kan aanbied. Baie koffiewinkels sal verskillende koffies inkoop en hul eie mengsel maak, maar dis nóg iets wat ons op die plaas self doen om ’n geur en smaak te lewer wat nêrens anders te vinde is nie.”

Hierdie besonderse geur is ’n kombinasie van FootHills se F6-, S128-, S134-, Costa Rica- en Catura-bome. Van hul koffieprodukte is FootHills Coffee Dark, FootHills Coffee House Blend, FootHills Coffee Medium en FootHills Coffee Premium. Alles kan aanlyn bestel word.

Die volgende stap in die proses is bemarking en verspreiding, sê Carel. “Jy kan die beste koffie ter wêreld produseer, maar jy moet dit verkoop kry, anders help dit niks. Dit gaan dalk baie lekker vir jou proe by die huis, maar dis ongelukkig nie genoeg nie.”

Met ander woorde, ’n suksesvolle onderneming maak in ’n groot mate staat op bewusmaking en die skep van ’n behoefte – vraag-en-aanbod as besigheidsbeginsel. “Doen jou navorsing en maak seker jy het ’n mark vir jou produk. Natuurlik is dit ’n leerproses, maar jy moet voorbly hiermee.”

Maksimale grondbenutting, laer insetkostes, die ideale klimaatsomstandighede, harde werk deur elke lid van die Burger-gesin en sáám bou – dis hierdie eienskappe wat die grondslag lê van een van ons land se uniekste, suksesvolste koffie-entrepreneurs. 

Besoek FootHills Coffee Farm by foothillscoffee.co.za

Bel 071 139 7224 of skryf aan careltburger@gmail.com

Volg @FootHills Coffee op Facebook en Instagram en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.