Seisoen 2 | Episode 10

Knoffel | Kersfeesbome | Draakvrugte

 

Episode 10 pronk met ‘n fassinerende verskeidenheid wat die spektrum dek van Kersbome tot knoffel, met draakvrugte tussenin. Skakel in om uit te vind wie gaan waarheen – en watter boerderye bly en watter gly wanneer die beoordelaars telbord se kant toe staan.

 [timed-content-server show=”07/16/2018 20:00 Africa/Johannesburg”]

Knoffel

F: 073 141 7101
E: sean@livingseeds.co.za
W:  www.livingseeds.co.za

 

Livingseeds Heirloom Seeds

Simonia is gereed om uit te vind hoekom ons nie noodwendig knoffel uit Sjina hoef te kry nie, en sy gaan dit doen by Livingseeds Heirloom Seeds, die spogplaas van Sean en Nicola Freeman naby Meyerton waar hulle, afgesien van ‘n verskeidenheid knoffel-kultivars, ook tamaties en rissies verbou.

Die Freemans voorsien knoffelvariante aan tuistuiniers asook spesialiteitsboere, met Sean wat verantwoordelik is vir die kweekaspek en saadproduksie, en Nicola wat die bemarking hanteer.

Een van die geheime van hul sukses is die 300 ton sampioenkompos wat jaarliks by die grond ingewerk word as ‘n deklaag wat nie net die water help vasvang nie, maar ook as ‘n onkruiddoder dien.

Simonia wil weet watter soort knoffel ons in winkels koop en Nicola verduidelik dat dié knoffel meestal uit Sjina ingevoer is omdat daar nie genoeg plaaslik geproduseer word nie. Probleem nommer een met die ingevoerde knoffel is egter dat dit bestraal word om te verseker dat dit nie patogene by die land inbring nie. Probleem nommer twee is dat die gesondheidsvoordele van die knoffel, saam met die patogene, daarmee heen is.

Hierna volg ‘n knoffelplant-les met Sean wat die proses in detail en dog eenvoudig verduidelik, insluitend die feit dat hulle drupbesproeiing gebruik wat hul waterverbruik met 80% gesny het, en wat ‘n mens te wagte kan wees wanneer dit kom by groeitempo.

En dan volg die opwindende deel: Proetyd, met ‘n paar soorte knoffel wat vir Simonia wag. Sean wys vir haar hoe ‘n mens met ‘n skerp mes ‘n klein bietjie knoffel afskraap, wat jy dan met jou vinger verwyder en eet. Eers proe Simonia ‘n splinternuwe kultivar wat soet proe; dan ‘n romerige Russiese variant. “Elke soort knoffel smaak soos knoffel, maar dit smaak ook anders,” verduidelik Sean.

Simonia wil weet hoe die besigheid werk en Sean verduidelik dat hulle saak aan tuis- en markboere verskaf, asook aan restaurante, hotelle, supermarkkettings en kommersiële boere. Hulle ontvang bestellings van tot 100 000 plante op ‘n slag en verkoop 30 ton per jaar.

Sy advies aan voornemende knoffelboere is om nie net op hul plaaslike markte te verkoop nie omdat ‘n mens nie so sal geld maak nie. Waardetoevoeging is deurslaggewend belangrik, of jy ‘n swart knoffel uit wit knoffel ontwikkel en dit diversifiseer in produkte soos patee en of jy ‘n verskeidenheid spesialiteitstipes in ‘n pakkie verkoop.

Kersfeesbome

 

Christmas Tree Farm

F: 072 654 9779
E: desiree@villagemedia.co.za

 

Chris kuier by Desiree Hickinbotham wat die prentjiemooi plaas, Christmas Tree Farm, saam met haar man besit. Wanneer hulle nie Kersbome verbou en verkoop nie, doen Desiree die bemarking van die nabygeleë privaatskool, Grace College, en haar wederhelf is ‘n rekeningbestuurder by Forestry Harvesters.

Die egpaar het in 2005 na Hilton toe verhuis en in 2013 die eiendom gekoop van ‘n familie wat dit 40 jaar lank besit het. Die afgetrede eienaar het in ‘n stadium gesoek na ‘n tydverdryf, verskeie opsies ondersoek en ontdek Kersbome is perfek vir die area. Toe hy die plaas verkoop, het hy gesoek na voornemende eienaars wat sou aangaan met die besigheid, en dit is waar Desiree en haar man in die prentjie gekom het en steeds is.

Chris wil weet hoe lank ‘n boom moet groei voordat dit gesny en verkoop kan word. Desiree verduidelik dat dit sowat drie jaar neem en wys ook vir Chris die steggies waaruit die boompies uiteindelik spruit en hoe die proses werk.

Die Hickinbothams verkoop tussen 30 en 40 Kersbome per jaar, wat hulle sny en snoei volgens kliënte se behoeftes, en die oorblyfsels word vir brandhout gebruik.

Chris verwonder hom aan die feit dat ‘n mens een keer per jaar boompies kan plant en daarvan kan vergeet tot die volgroeide bome gereed is om gesnoei en verkoop te word. Sodra die verkoopseisoen begin, verduidelik Desiree, kry sy oproepe van mense wat bestellings wil plaas. Op grond van die bestellings, word spesifieke bome vir spesifieke kliënte geïdentifiseer. Die kliënte, vertel sy, is dikwels gesinne met kinders en ook mense wie se kinders oorsee bly en vir Kersfees kom kuier. En die meerderheid is Duitse en Amerikaanse families. Maar wie ook al van waar af kom, en watter boom hulle ook al kies, elke boom kry ‘n spesiale lint waarop die nuwe eienaars se name geskryf word.

Draakvrugte in die Kaap

Amorentia Estate & Nursery
F:  074 146 3420
E:  wynand@amorentia.co.za
A:  Amorentia Estate and Nursery, Politsi Valley, 0850
W: www.amorentia.co.za

 

Anrich se gasheer is Howard Blight, die eienaar van Amorentia Estate & Nursery, en ‘n baanbreker op die gebied van draakvrug-verbouing.

Op Anrich se vraag na waar die naam vandaan kom, verduidelik Howard dat die plaas in die 19de eeu deur Paul Kruger aan ‘n Noorweër gegee is as ‘n blyk van dankbaarheid vir sy deelname aan die Boere-oorlog. Sy vrou se naam was Ammorentia – met een “m” wat oor die jare verdwyn het – en die res is geskiedenis.

Die Blight-familie se betrokkenheid het begin toe Howard se pa in 1954 in Suid-Afrika aangekom het as hy ‘n “mynman” wat later die plaas gekoop het. Howard self het sy skoolloopbaan in Johannesburg voltooi, daarna aan ‘n landboukollege in die VK studeer en toe teruggekom. Die Blights het macadamianeute en avokadopere begin verbou, gewasse wat tradisioneel in die streek verbou word. Hulle het egter ook met heelwat ander opsies geëksperimenteer en vyf jaar gelede het Howard van draakvrugte te hore gekom.

Howard sê draakvrugte is by uitstek ‘n goeie geleentheid vir opkomende boere; met ongeveer een hektaar kan ‘n boer sy of haar hele gesin onderhou. Die aankoop en verkoop van geloofwaardige kultivars met sterk handelsmerke is vir hom ‘n topprioriteit en hy saai weliswaar wat hy maai: heerlike soet en gesonde draakvrugte.

Ná sy ontdekkingstog met Howard, gesels Anrich met Wynand Espach wat 15 jaar gelede by Howard aangesluit het en hom opgewerk het van kwekerybestuurder tot hoofbestuurder. Hy verduidelik vir Anrich hoekom twee draakvrug-plante aan een paal vasgemaak word en hoekom boere so baie in die gewas belangstel.

“Boere soek iets wat ‘n alternatiewe inkomste kan inbring,” verduidelik hy. “Draakvrugte is ‘n baie hoë-inkomste gewas per hektaar en die risiko is versprei.”

Anrich sien ‘n vrug raak en Wynand sny dit af terwyl hy verduidelik dat al die draakvrugte wat tans groei, gebruik word vir eksperimente, onder meer met gedroogde vrugte en konfyt. Uiteindelik sien Anrich twee weergawes van die vrug: een wat in seisoen gepluk, in die vrieskas gehou en nou in eksperimente gebruik word, en dan ‘n vars draakvrug wat soet is, met ‘n lemoentekstuur en ‘n moerbeismaak, sê Andries.

Die hoogtepunt van die besoek is die “hall of fame”, waar 14 verskillende draakvrug-kultivars verbou en dan aan boere verkoop word. Die formaat waarin dit gelewer word is ‘n klaar gewortelde steggie in ‘n sakkie, met boere wat plante per hektaar aankoop.

Benewens die boerdery-aktiwiteite, bied Amorentia ook akademiese kursusse aan. Die rede hiervoor, verduidelik Wynand, is die huidige groot tekort aan landboukundige opleiding in Suid-Afrika, veral op junior en middelbestuursvlak.

[/timed-content-server]