Seisoen 6 | Episode 12

Leaf Botanicals

Leaf Botanicals in Upington is een van die eerste wettige vervaardigers van mediesekannabis in Suid-Afrika. Dié kannabisplaas is ʼn vertakking van die Van der Colff-familie se Carpe Diem-boerderybelange en Gog van der Colff, wat aan die stuur van die inisiatief is, het ontdek dat die omgewing ideaal is vir die kweek van kannabis. Upington het die hoogste ligintensiteit in die wêreld en kannabisplante floreer op lig, maar die droë klimaat en relatief min peste en plae is verdere pluspunte. Die medisinale voordele van kannabis was die hoofdryfveer agter Gog se besluit om navorsing te begin doen en uiteindelik die kannabismark met sy vele geleenthede te betree.

Maar ondanks die ekonomiese potensiaal is die waardeketting ná produksievlak nog onderontwikkel. Volgens Gog is die mediesekannabismark afhanklik van twee kernelemente, naamlik sekuriteit en kwaliteit, en in hierdie stadium is die afset te klein en die produk van marginale gehalte te veel, wat die winsmarge belemmer.

Ondanks hierdie aanvangsprobleme is dié gewas se ekonomiese groeipotensiaal enorm en lyk die toekoms belowend, danksy entrepreneurs soos Gog wat die weg in hierdie nuwe bedryf baan.

Kontakbesonderhede

LEAF BOTANICALS

Gog van der Colff

054 332 2901

marketing@cdgroup.co.za