Kranspan Boerdery | Laeveld Agrochem | Brandwag Farm



MAKROPLAAS VAN DIE WEEK
Kranspan Boerdery
Mali se bestemming vir die week is die plaas Kranspan, net buite Ermelo, waar die Du Plessis-familie soja- en nierbone as aanvullend tot hul bestaande gemengde boerdery verbou. Nierbone, vertel Lion du Plessis, is ʼn baie winsgewende produk, maar uitdagend om te verbou. Daarenteen is sojabone makliker om te verbou. Dit is die ideale gewas vir wisselbou met mielies en verskaf boonop proteïenryke reste vir hul skape. Mali hoor ook die mooi storie agter die Suid-Afrikaanse vlag wat op die plaas wapper.
VERSKAFFER VAN DIE WEEK
Laeveld Agrochem
Vandeesweek ry Phillip weliswaar met Jan Tuisbly se karretjie: Laeveld Agrochem se hoofkantoor in Erasmusrand, Pretoria. Hy gesels met ʼn mooi klompie van sy kollegas; van Ian Mansfield wat perspektief bied rondom die maatskappy se fokusareas tot Marina Fourie, rekenmeester, entrepreneurskenner en ou bekende op Seisoen 3 se paneel, wat, onder meer, werk aan drie inisiatiewe wat uit dié seisoen gespruit het. Die hoogtepunt is Phillip se geselsie met oom Nick Liebenberg wat vertel hoe hy en Corné, sy seun, 30 jaar gelede in die sitkamer van hul huis die eerste treë gegee het na wat vandag Laeveld Agrochem is. Daarna gee Corné ʼn blik vorentoe, met ʼn klein terugblik na vanjaar se Seil-Safari.
F: +27 12 940 4395
E:jnel@laeveld.co.za
W:https://laeveld.co.za/
NISBOER VAN DIE WEEK
Brandwag Farm
Simonia kuier op Brandwag Farm, ʼn gemmerplaas in Hazyview, by die samekoms van drie riviere wat noodsaaklike en volop water vir dié dorstige gewas bied. Sy gesels met die eienaar, Japie Lubbe Snr, wat vertel hy het die grond in 1971 gekoop. Hy was ʼn stadsjapie wat saans vir sy landbougraad geswot het en wat kort voor lank die eerste kommersiële gemmerboer in die land was. Simonia vind ook uit hoe gemmer geplant, geoes en skoongemaak word en sy probeer hand bysit met die snyery, net om uit te vind dit is nie so maklik nie. Sy is oorweldig deur die moeite wat oom Japie se seun, Japie Jnr, en sy span gedoen het met ʼn indrukwekkende uitstalling van gemmer en gemmerverwante produkte en sy geniet alles van droë vrugte met ʼn gemmerstropie tot ʼn verfrissende gemmerdrankie. Les bes vra sy advies vir voornemende gemmerboere, waarop Japie Jnr antwoord dat ʼn mens toegang tot baie water moet hê en dat die grond en klimaat moet voldoen aan die vereistes van gemmer as ʼn tropiese gewas.
F: +27 13 492 0071
E: info@indunaadventures.com
W: http://indunaadventures.com/