Willow Creek | Syngenta | Upland Organic Estate
MAKROPLAAS VAN DIE WEEK
Willow Creek
Mali is in die Wes-Kaap by die olyfplaas Willow Creek en sy gasheer is die eienaar, Hannes Jansen, wat vir hom meer vertel van hierdie besonderse vrug wat tot in Bybelse tye terugdateer. Plaasbestuurder Charl van Sittert neem vir Mali op ʼn toer deur die boorde waar die werkers olywe met die hand pluk en verduidelik waarom dié klein kwesbare vrug hierdie arbeidsintensiewe manier van oes verg. In die fabriek ontmoet Mali die trotse span wat verantwoordelik is vir die laaste fase van gehaltebeheer. Uiteindelik kry hy die indrukwekkende botteleringsaanleg onder oë waar derduisende eenhede per dag markgereed gemaak word. Hannes se raad vir voornemende olyfboere wat op ʼn klein skaal wil begin, is dat hul grond in die regte area met ʼn Mediterreense klimaat moet wees. Hy gee ook riglyne oor wanneer ʼn mens jou insetkoste kan begin verhaal.
F: +27 23 342 5793
E: info@willowcreek.co.za
W:
VERSKAFFER VAN DIE WEEK
Syngenta
Phillip kuier steeds by Syngenta. Verlede week het hy die laboratorium besoek en vandeesweek vind hy uit wat die onderneming se bottelering en verpakking behels. Hy neem ʼn toer van die indrukwekkende geriewe en sluit sy besoek af met ʼn diepgaande begrip van die onderneming se onwrikbare verbintenis tot gehaltebeheer en, uiteraard, die vooruitgang van die boer.
F: +27 11 541 4000
W: https://www.syngenta.co.za/
NISBOER VAN DIE WEEK
Upland Organic Estate
Anrich gaan draai in Wellington by die Upland Organic Estate; 45 indrukwekkende hektaar wat die afgelope dekade nie net organiese brandewyn vervaardig nie, maar ook grappa, port en cabernet sauvignon. Die eienaar, dr Edmund Oettle, vertel vir Anrich die storie agter die storie en neem hom op ʼn toer deur die wingerde asook na die “hart van die stokery” – ʼn eeue-oue geboutjie waar die koper stookketel staan wat die geheim agter die landgoed se veelbekroonde produkte is. Anrich proe met groot waardering ʼn skeutjie witblits en ʼn glasie verouderde brandewyn. Só met die proe saam vind hy uit hoe Uplands hul produkte landwyd versprei. Daarna deel Edmund ʼn paar van sy wenke en riglyne met die organiese hardehout-stokers van môre.
F: +27 82 731 4774
E: info@organicwine.co.za
W: http://www.organicwine.co.za/