DINK GRÓÓT

Seisoen 4 | Episode 7

Amanteco Almonds | Agri Technovation | Mountain Herb Estate

 

 

MAKROPLAAS VAN DIE WEEK

Amanteco Almonds

Mali kuier by Stephan le Roux op sy familieplaas in die Klein-Karoo. Stephan se oupa het “half uit nood” met amandels begin boer, omdat sy oorspronklike gewas, perskes, te dikwels tydens vervoer op die lang grondpad gekneus is. ʼn Veldtog van die destydse Suid-Afrikaanse Droëvrugteraad (SAD) om boere te motiveer om amandels aan te plant, het daartoe gelei dat mnr Le Roux Senior dit begin doen het – en dat sy nageslag steeds van krag tot krag gaan. Dis oestyd en Stephan gaan wys vir Mali hoe dinge lyk en werk, insluitend ʼn paar stukke indrukwekkende masjinerie. Mali ontmoet ook die fabrieksbestuurder, Willem Swarts, wat vir hom die tegnologies gevorderde aanleg wys. Les bes vra hy advies vir mense wat op klein skaal met amandels wil begin boer en Stephan gee riglyne wat die spektrum dek van gespesialiseerde toerusting tot insetkoste.

E: info@amenteco.com
W: https://amanteco.com


VERSKAFFER VAN DIE WEEK

Agri Technovation

Phillip steek steeds by Erik de Vries en sy mense by Agri Technovation kers op. Verlede week het hy uitgevind hoe hierdie voorslagspan data versamel en verwerk om boere te bevoordeel. Vandeesweek besoek hy hul fabriek en laboratorium waar hy meer uitvind omtrent die droë en vloeibare produkte asook gespesialiseerde plantvoedingsprodukte wat hulle vervaardig – en die rol wat seewier in baie van hierdie formulerings speel! Dan besigtig Phillip die laboratorium waar alle grondstowwe noukeurig nagegaan word voordat dit deur ingenieurs afgeteken word.

F: +27 21 300 0543
E: info@agritechnovation.com
W: https://www.agritechnovation.com


NISBOER VAN DIE WEEK

Mountain Herb Estate

Chris besoek vir Dawid en Zirkia Swart op hul plaas, Mountain Herb Estate, in Kameeldrift buite Pretoria. Die Swarts verbou kruie vir kulinêre en medisinale gebruik, en selfs om insekte af te weer. Zirkia neem vir Chris op ʼn toer van die perseel en stel hom bekend aan ʼn paar van die wye verskeidenheid kruie wat hulle verbou; van aspersies, borrie, en wilde-als tot by hul topverkoper: kankerbos. Volgende ontmoet Chris vir Maryke Swart wat vir hom haar “afdeling” wys – ʼn houthuisie waar sy gedroogde kruie en teekombinasies formuleer en verkoop. Haar winkeltjie is oop vir die publiek en via die plaas se webwerf vanwaar sy produkte landwyd via koerier versend.

F:+27 82 924 3076
E: sales@herbgarden.co.za
W: http://www.herbgarden.co.za


Terug na episodes