Harmony Queen Farm | Zaad Holdings | Fruitlips



MAKROPLAAS VAN DIE WEEK
Harmony Queen Farm
Mali kuier by die Harmony Queen Farm in Hazyview wat sedert 1951 in die McQueen-familie is, met pa Andy en seun Bruce wat onderskeidelik die tweede en derde geslag McQueens is wat nou daar boer. Aanvanklik, vertel Andy, het hulle met sitrus en mango’s geboer, maar ʼn plaag het daartoe gelei dat hulle avokado’s begin verbou het. En vandag kyk hulle nie terug nie, net vorentoe, met 100 hektaar avokadopeerbome en, vir die passie en profyt, 40 hektaar makadamianeutbome. Die vooruitsigte lyk blink vir hierdie uithaler pa-en-seunspan wat dit duidelik geniet om saam te werk en wat, met die hulp van Laeveld Agrochem se Natie van Staden, vasberade is om aan te hou vooruitboer.
VERSKAFFER VAN DIE WEEK
Zaad Holdings
Phillip se bestemming vir die week is Zaad Holdings se groente-proefplaas by Bapsfontein en sy gasheer is hul besigheidsbestuurder van optimisering, Eugene Muller. Hierdie onderneming se fokus is die aanplant en toetsing van gewasse met die oog op die verskaffing van die beste moontlike saadprodukte en kennis aan boere. Phillip is beïndruk met hul onwrikbare verbintenis tot etiek en die konsep van rentmeesterskap wat duidelik vergestalt word deur alles wat hy op ʼn interessante en insiggewende toer van die perseel sien en almal wat hy in die loop daarvan ontmoet.
F: +27 21 981 1212
E: info@zaad.co.za
W: https://zaad.co.za/
NISBOER VAN DIE WEEK
FruitLips
Anrich kuier op die prentjiemooi plaas van die Eigelaars in Piketberg waar dié sonderlinge gesin ʼn verskeidenheid sagte vrugte, insluitend persimmons verbou en ʼn reeks watertand produkte daaruit vervaardig. Pa Kobus staan aan die stuur van die boerdery, dogter Liebré Jacobs is die skeppende gees wat ook betrokke is by admin en produksie, terwyl broer Johnnie verantwoordelik is vir die administrasie, strategie en uitbreiding. Ma Deidré vertel laggend dat sy die finansies doen omdat niemand anders dit wou doen nie. Die resultaat van al hierdie passie en samewerking is produktiwiteit, profyt en veelsydigheid wat duidelik blyk uit ʼn reeks produkte wat wissel van ingemaakte persimmons en persimmon-blatjang tot ʼn pruim braaisous en minisakkies konfyt. Benewens die produkte wat onder hul eie handelsmerk bemark word, verpak hulle hul produk vir kleinhandelaars onder laasgenoemde se onderskeie etikette.
F: +27 22 914 5050
E: info@fruitlips.co.za
W: http://fruitlips.co.za/