DINK GRÓÓT

Seisoen 4 | Episode 10

Jamaka Organic Farm | Nutrico | Berries for Africa

 

 

MAKROPLAAS VAN DIE WEEK

Jamaka Organic Farm

Die Sederberge is bekend vir alles van ekotoerisme tot rooibostee, maar nie tropiese vrugte nie. Daarom gesels Mali met groot belangstelling met Jamaka-eienaar Jannie Nieuwoudt oor sy sukses met organiese mango-verbouing. Die storie het begin met sy pa wat desjare ʼn klompie bome geplant en Jannie wat agtergekom het die vrugte word laat ryp en behaal goeie pryse. Met dié het hy nóg meer bome geplant en ook sy eie mango-waardeketting op die plaas geskep wat die spektrum dek van mangopitte en skille wat vir skape gevoer word en werkverskaffing vir dié arbeidsintensiewe bedryf. Op Mali se vraag wat sy advies vir voornemende mangoboere is, maan Jannie dat dit veral aanvanklik ʼn duur oefening is. Die smaak, ontdek en vermoed Mali, maak egter alles die moeite werd.


F: +27 27 482 2801
W: https://jamaka.co.za/


VERSKAFFER VAN DIE WEEK

Nutrico

Phillip lê besoek af by Nutrico, ʼn landbouchemiese maatskappy in Olifantsfontein naby Pretoria, wat vanjaar 15 jaar oud is en wat produkte vervaardig vir gewasbeskerming, bevorderingsmiddels en nog baie meer. Sy gasheer is uitvoerende direkteur Martin Botha wat vir hom vertel dat Nutrico se produkreeks in Suid-Afrika alleen uit sowat 400 geregistreerde produkte bestaan. Die sprekende bewys van die maatskappy se volgehoue sukses is hul indrukwekkende aanleg wat Phillip onder oë kry, hul verbintenis tot gehalte en omgewingsvoldoening en ʼn aantal opwindende patente wat hulle in die pyplyn het.


F: +27 11 392 4072
E: info@nutrico.co.za
W: http://www.nutrico.co.za/


NISBOER VAN DIE WEEK

Berries for Africa

Chris bevind homself by Berries for Africa buite Kemptonpark waar sy gasheer, Leander Vorster, hom touwys maak oor bessies. Dié vrugte het honderde jare gelede hul oorsprong in Europa gehad en het sedertdien oor ʼn paar eeue, vastelande en beskawings heen interessante reise onderneem. Berries for Africa is ʼn kweekhuis waar ʼn wye verskeidenheid bessies – van appelliefies en goji-bessies tot 24 tipes bloubessies – verbou word vir verskaffing aan boere en kwekerye. Leander se advies vir boere wat vinnig addisionele inkomste wil genereer, is om die nodige marknavorsing te doen. Hy voeg by dat Berries for Africa voornemende bessieboere kan help bepaal of hul area geskik is vir bessies en ook presies watter tipes bessies geskik sal wees vir hul boerdery.


F: +27 11 392 4072
E: info@berriesforafrica.co.za
W: http://berriesforafrica.co.za/

Terug na episodes