DINK GRÓÓT

Seisoen 3 | Episode 8

Mossels | Zulu-skape | Hoenders

 

Mossels

F: 021 930 5023
E: info@blueoceanmussels.com

BLUE OCEAN MUSSELS

Anrich bevind homself in Saldanhabaai aan die Weskus, waar hy sy mosselkennis opkikker by Blue Ocean Mussels, ‘n onderneming wat reeds 30 jaar lank bestaan en wat tans bestuur word deur Nico Prins. Nico vertel Saldanhabaai het die beste mosselgroei ter wêreld, danksy die feit dat dit ‘n besonder voedingryke wateromgewing is. Blue Ocean Mussels het ‘n eksklusiewe huurkontrak met Transnet, wat beteken hulle huur wat Nico noem “’n stukkie water”, waarby hulle dan die toerusting, infrastruktuur en mannekrag voeg. Die onderneming werk deur ‘n netwerk van agente wat hul produk landwyd versprei, hoewel hulle ook direk aan die publiek verkoop. Blue Ocean Mussels se kapasiteit is tans 2.5 ton per jaar, maar hulle beplan om uit te brei. Anrich wil weet wat dit sal kos om ‘n mosselboerdery aan die gang te kry en hoe lank dit sal neem om wins te begin maak. Nico antwoord dat die onderneming redelik kapitaalintensief is, gegewe die feit dat alles van die bote en die toerusting tot die huur van die water baie duur is. Met dié vis Anrich nie verder uit nie.

Zoeloe-skape

S: 082 872 2049
E: enalenifarm@gmail.com

NALENI AGRO-ECOLOGICAL FARM

Chris kuier in Camperdown, KZN, op Enaleni Agro-Ecological Farm. “Enaleni” is ‘n Zoeloe-woord wat “landboukundige oorvloed” beteken. Die plaas is die trotse eiendom van Richard Haigh, wat boer met kolbroek-varke, kalkoene, groente, vrugte, hoenders en tradisionele Zoeloe-skape, laasgenoemde synde die eintlike rede vir Chris se besoek. Voordat Richard begin boer het, was hy betrokke by nie-regeringorganisasies in KZN, maar, sê hy, dit was beperkend. Met dié het hy sy plasie, Enaleni, gekoop, waar hy met ‘n mengsel van erfenisspesies boer en werk daarvan maak om alles organies te hou.

Afgesien van die boerdery, is daar ook ‘n gastehuis op die plaas en ‘n “opskiet”-restaurant wat een keer per maand plaasvind en waar besoekers hulle kan verlustig in die sonderlinge opbrengste van die plaas. In hierdie verband is Richard ‘n groot voorstander van die sogenaamde “slow food”-beweging as deel van sy missie om die Zoeloe-skaapras te bevorder, asook bewaring deur diversiteit en eetkuns. “So skep ons ook smaak vir toekomstige geslagte,” sê hy.

Richard sê Zoeloe-skape is ideaal vir klein eiendomme waar boere dié besonderse taai plaaslike ras kan teel, bevorder en vier. Hy verkies om te werk met mense wat hul troppe suiwer wil hou, en beveel dit ook aan vir enigiemand wat dit oorweeg om self met Zoeloe-skape te begin boer. Jy sal sowat R15 000 insetkapitaal nodig hê om ‘n ram en vyf ooie te koop – en sowat ‘n jaar tot ‘n jaar en ‘n half voordat jy begin wins maak. Die rede hiervoor is dat vleisproduksie stadiger is en dat dit tyd neem om jouself in die mark te posisioneer en ‘n mark te skep. Die mark neem wel deeglik kennis van Richard se doen en late, om van sy Zoeloe-skape nie te praat nie.

Hoenders, eiers, mielies

F: 082 388 1414

INI HAK BOERDERY

Mali lê besoek af by die kommersiële plaas, Ini Hak Boerdery in Ventersdorp. Ini Hak was eers ‘n mielieplaas, maar in die vroeë 80’s het die boer – die huidige eienaar, Derick van Zyl, se pa – besluit om weens die droogte met eierproduksie te begin as ‘n kontantvloeiprojek. En omdat eiers se gehalte afhang van die voer wat die hoenders kry, het hy aangegaan met die mielies. Vandag, vertel Dewald, het die 6 000 hoenders waarmee begin is, gegroei tot 45 000, met die eierbedryf wat 40% van die totale besigheid vorm. Hy skryf sy sukses toe aan goeie vennootskappe, veral met verskaffers, en by uitstek Laeveld Agrochem. “Hulle gee ons baie hulp, hulle het ‘n puik tegniese span en ‘n wye verskeidenheid produkte wat ‘n mens help om die regte ding op die regte tyd te doen,” sê hy. Ook met toenemende siektes op mielies – insluitend die kommandowurm – vat die Laeveld Agrochem-agent jou hand en stap saam,” sê hy.

Terug na episodes