Eksotiese hoenders | Krisante | Saailing-kwekery



Eksotiese hoenders
S: 079 692 0542 / 082 689 0287
E: info@budgies2bantams.co.za
BUDGIES2BANTAMS
Chris sprei sy vlerke na Budgies 2 Bantams, ‘n boerdery tussen Fourways (in Johannesburg) en Pretoria wat spesialiseer in ‘n wye spektrum pluimvee, hoewel hulle spesifiek in die eksotiese Swart Australorp-ras belangstel. Bestuurder Raees Rahemann vertel dat Budgies 2 Bantams in 2008 op ‘n klein skaal begin is. Kort voor lank het mense egter in ‘n groter verskeidenheid belanggestel, waarna hulle begin invoer het.
Hoe groot ‘n mens begin, hang van jouself af; met gewone hoenders kan jy in jou agterplaas begin, terwyl eksotiese pluimvee soos die Swart Australorps aansienlik groter hokke verg. Die koste van ‘n paar Bosvelder-kuikens, vertel Raees, is sowat R150, met die prys wat kan groei tot R1 500 wat jy vir drie Swart Australorp moet opdok (of sowat R60 vir een dagoue kuiken). Met Swart Australorps kan jy egter binne 21 dae ‘n inkomste genereer deur die hoenders vir broeidoeleindes te gebruik. Jy kan beide rasse gebruik vir hul vleis en hul eiers, terwyl die pragtige Australorps ook gebruik kan word om mee te skou, afhangend van hul bloedlyne, en hulle kan ook uitstekende troeteldiere wees weens hul mooi geaardhede.
Om hulle te voer, kos nie ‘n plaas se geld nie. Vyftig kilogram voer kos sowat R200, hoewel Budgies 2 Bantams se hoenders ook spesiale korrels kry wat hulle meer produktief maak. Kom dit by uitbroei, beveel Raees beslis ‘n broeikas aan. Pryse wissel van R1 500 tot R24 000, met meer standvastigheid en gemoedsrus by die hoër prys ingesluit.
Krisante
S: 083 654 5663
E: imbali@worldonline.co.za
IMBALI CUT FLOWERS
Simonia is in haar element by Imbali Cut Flowers, ‘n Barbertonse madeliefie-boerdery in die Pretoria-omgewing, wat begin is deur die ouers van Tania Henkel wat haar beroep in menslike hulpbronne opgegee het om hierdie letterlik en figuurlik florerende besigheid te bestuur.
Die eerste bestemming op Simonia se ontdekkingstog is een van die kweekhuise waar die Barbertonse madeliefies in individuele potte geplant word. Die rede hiervoor, verduidelik Tania, is dat dit voorkom dat moontlike probleme wyer versprei, en dit stel hulle ook in staat om aan elke plant se spesifieke voedingsvereistes te voldoen.
Van voedingsvereistes gepraat… die plante ontvang hul water via ‘n drupstelsel wat boonop baie waterbesparend is. Elektrisiteit is nodig vir kweekhuisdakke wat oop- en toegaan en om die klimaat te reguleer, hoewel geen kunsmatige lig gebruik word nie.
Om tuis met Barbertonse madeliefies te boer, is egter makliker gesê as gedaan. Dit is ‘n baie sensitiewe en duur blom om te verbou. Omdat die variant gepatenteer is, kan Tania, of enigiemand anders wat daarin belangstel, nie ‘n saadjie of bolletjie van ‘n rak af koop nie. Elke plant moet ten duurste van oorsee af ingevoer en in euro’s betaal word, waarna dit drie tot ses maande neem voordat die blomme verkoop kan word.
Die insetkoste vir ’n groot struktuur met plante, reken sy, is sowat R4 miljoen.
Hul grootste, aanvanklik enigste, mark is Multiflora, ‘n gespesialiseerde blom- veilingsplatform waar blomme ses dae per week deurlopend opgeveil word, wat beteken prysfluktuasie is aan die orde van die dag.
Saailing-kwekery
F: 012 250 2500
MULTI PLANT SEEDLING NURSERY
Mali se kommersiële plaas van die week is die Multi Plant Seedling Nursery naby Brits. Sy gasheer is eienaar Len du Toit, ‘n boer en sakeman met ‘n vernuwende en kliëntgesentreerde benadering tot sy hoogs suksesvolle onderneming wat in slaaigewasse, asook groentes soos brokkoli, spinasie en blomkool spesialiseer.
Die saailingbesigheid, vertel Len, is eintlik half per ongeluk in die 1940s deur sy oupa begin. Oupa het te veel saailinge vir eie gebruik gekweek, besluit om die surplus by die koöperasie te adverteer, en ontdek daar is ‘n enorme besigheidsgeleentheid. Len se ouers het die boerdery in die 1970s oorgeneem en kort daarna die VSA besoek, waarvandaan hulle die sogenaamde Speedling-stelsel teruggebring het om die boerdery ‘n verdere hupstoot te gee. Ná hul dood in ‘n motorongeluk in 1997, het Len en sy sibbe die onderneming oorgeneem.
Vandag is Multi Plant Seedling Nursery ‘n toonbeeld van sukses, wat duidelik blyk uit die feit dat die onderneming 200 werknemers in diens het en dat 200 miljoen saailinge per jaar verkoop word. Laeveld Agrochem, met wie Len reeds meer as twee dekades lank ‘n verhouding het, speel eweneens ‘n enorme rol in die plaas se volgehoue vooruitgang, danksy raad en daad wat die spektrum dek van swamme en insekte identifiseer, tot programme vir voorkomend spuit.
Len sê hy gebruik ‘n baie wye verskeidenheid van Laeveld Agrochem-produkte, waarvan N12 – wat help met plante se stresvlakke en ook ekstra voeding bied – een van die merkwaardigste is.
Sy raad aan aspirant- saailingboere is om behoorlik navorsing te doen en hoë vlakke van higiëne toe te pas.